Inwoners skep nuwe forum om saam te staan teen misdaad Print
News - Aktueel
Monday, 21 September 2009 16:08
Untitled Document

Inwoners van Bashewa, Tierpoort, Rietfontein en Grootfontein het besluit om self iets te doen om die vlaag misdaadinsidente in hulle gebied onder beheer te bring. ‘Plot Watch Forum’ is die resultaat van dié besluit om op ’n daaglikse basis inligting met mekaar uit te ruil.

Dié is ’n geslote forum waar lede misdaadinsidente of verdagte aktiwiteite rapporteer. Slegs hoewe-bewoners in Tierpoort, Bashewa, Rietfontein en Grootfontein word toegelaat om deel te neem en moet verwys word deur ’n bestaande lid. Slegs die gebeurekalender en misdaadvoorkomingswenke is toeganklik vir die publiek.

Die idee vir die forum het begin toe Karin Saffy van Ed’s Place in middel- Augustus ’n e-pos uitgestuur het om te sê dat misdaad in dié gebied besig is om hand uit te ruk omdat mense nie weet wat rondom hulle aangaan nie. Sy het voorgestel dat inwoners inligting met mekaar moet begin deel sodat hulle kan weet watter kriminele aktiwiteite elke dag plaasvind.


Rainer Finkeldeh is die administrateur van ?Plot Watch Forum?

Die reaksie op Karin se e-pos was oorweldigend en sekere tendense kon dadelik raakgesien word. Inwoners kon ook begin sien wat misdadigers beplan deur te rapporteer wanneer heinings geknip word en honde vergiftig word. Inligting oor verdagte voertuie wat met misdaadinsidente verbind word, is ook uitgeruil.

Dié forum is ’n gemeenskapsprojek wat sirkulasie van inligting, ’n kontaklys van mense in die omgewing, ’n radio-projek, patrollies en hulp met veldbrande insluit.

Besoek ‘Plot Watch Forum’ by www.bashewa.com/forum. Die moderators vir Bashewa is Giuliette Breytenbach en Cheryl Hull; vir Tierpoort is dit Karin Saffy en Xavier Schorr; en vir Rietfontein is dit Raymond Geens.

Die webtuise is ontwerp en word geadministreer deur Rainer Finkeldeh van Bashewa. Kontak hom by 012-811-0134 of 082-551-4711.