Die Magalies-Bronberg Grondeienaarsvereniging
(MBGV)
hou sy tweede jaarvergadering
op 17 September om 7 nm by
die Kitty Hawk Klubhuis.
Sedert sy ontstaan het dié vereniging
aktief betrokke geraak by
gemeenskapsake, soos die protes
teen beplande prospektering in ons
gebied, registrasie as belanghebbende
party by alle voorgenome
ontwikkelings, munisipale eiendomsbelasting
en munisipale beplanning-
en beleidsake.
Die MBGV tree as nie-politiese party
in belang van sy lede in die volgende
streek op: Bashewa, Boschkop,
Donkerhoek, Mooiplaats, Kleinfontein,
Pienaarspoort en aanliggende
gebiede. Dié gebiede val onder beide
Nokeng Tsa Taemane en Kungwini
plaaslike munisipaliteite.
Dié vereniging is ook ’n stigterslid
van die oorhoofse Kungwini Wes
Alliansie (KWA) wat reeds 14 grondeienaarsverenigings
in die Kungwiniwes
gebied, wyke een en twee van
Kungwini, verteenwoordig. Hier
staan MBGV vir die kleinhoewe-eienaars
op, omdat dit veral die mense
op plotte is wat die meeste deur
ontwikkelings getref word.
Onopvallende A3-grootte kennisgewings dui dikwels op reuse
ontwikkelings |
Munisipaliteit
Volgens voorsitter, Wolf Snyckers,
probeer die MBGV ’n konstruktiewe
samewerking met Kungwini Munisipaliteit
opbou en maak gereeld gedetailleerde
insetsels. MBGV het
byvoorbeeld die 2009/2010 Ontwerp-
IDP en Kungwini-begroting
albei afgekeur weens ernstige
gebreke.
“Die begroting is, onder andere ook
oor ons insette, op die laaste nippertjie
heeltemal oorgedoen,” sê
Wolf. “Die nuwe en verhoogde eiendomsbelasting
en diensfooie daarin
bevat, is steeds nie vir ons aanvaarbaar
nie en ons is besig om ’n verdere
voorlegging oor die begroting
en tariewe voor te berei. Die IDP in
sy finale vorm is vir alle praktiese
doeleindes identies aan die ontwerpdokument
en moes dus weer
afgekeur word.”
Wolf sê dat daar belowende tekens
is dat die nuwe top bestuur van
Kungwini onder aanvoer van die
waarnemende munisipale bestuurder,
Nava Pillay, en die uitvoerende
burgemeester, J Masango, deeglik
bewus is van die munisipaliteit se
probleme en soek na maniere om
dinge te verbeter.
Probleme
“By twee onlangse vergaderings
tussen Kungwini, KWA en MBGV is
sake baie eerlik bespreek en gesamentlike
werkgroepe word oorweeg
om wedersydse probleme aan
te spreek. Ons vertrou dat dit werklikheid
sal word en dit sou dan as ’n
skittervoorbeeld vir alle munisipaliteite
kon dien tot voordeel van alle
bewoners van die streek en die
munisipaliteit,” sê Wolf.
Die MBGV het ook voorstelle gemaak
om Kungwini se gebrekkige
wykskomitee-stelsel in ons kontrei
weer spoedig aan die gang te kry.
Grondeienaars word versoek om so
’n stelsel positief te ondersteun.
“Dis wel maar net een van die
moontlike kommunikasiekanale,
maar ’n belangrike een waar grondeienaars
effektief verteenwoordig
behoort te wees vir hulle eie voordeel,”
sê Wolf.
Ontwikkeling
Daar is ongekende ontwikkeling in
die Kungwini-wes gebied en die
onopvallende A3-grootte kennisgewings
wat op hekke en heinings
aangebring word, dui dikwels op
reuse projekte wat beplan word.
Die MBGV probeer om as belanghebbende
party by alle ontwikkelings
te registreer en tree, waar
nodig, formeel as beswaarmaker op
om ’n invloed op ontwikkelingsbesluite
te kan hê. Om betyds oor
ontwikkelings ingelig te word,
gebruik die MBGV ’n spesiale rekenaar
soekprogram.
“Vir ons gaan dit minder om die
aard van ontwikkeling, maar meer
dat aspekte soos grondwatergebruik,
besoedeling van watter aard
ook al, verkeer, paaie, veiligheid en
sekuriteitsaspekte in die wyer omgewing
aangespreek word om ’n
moontlike negatiewe impak op die
omgewing so klein as moontlik te
hou,” sê Wolf.
“Ons laaste insetsel was oor die
voorgenome ontwikkeling van ’n
beplande aftree-oord op Plot 175,
Tiegerpoort 371-JR, waar ons
beswaar gemaak het oor moontlike
probleme met die watervoorsiening.”
Tribunaal
As MBGV voorsitter het Wolf al deelgeneem
aan Tribunaalverhore soos
die Zwartkoppies-ontwikkeling
rondom Sammy Marks en die N4
industriële ontwikkeling by die
Boschkop-Donkerhoek N4 afrit.
Wolf sê dat die ontwikkelaars van
die N4 Industriële Park oplossings
gebied het vir die besware wat die
MBGV tydens die Tribunaalverhoor
geopper het. Dié oplossings is konstruktief
en wedersyds bevredigend
in hulle stigtingsvoorwaardes en
omgewingsbestuursplan ingebou.
Die MBGV is geregistreer as belanghebbende
party in ontwikkelings
soos Innoland, Helicopter City,
plotte 50, 75 en 129 van die plaas
Donkerhoek, die Sasol pyplyn, die
verbreding van Hans Strijdomrylaan
en die ou Bronkhorstspruitpad, en
die residensiële ontwikkeling op
plot 66 en 67 in Pienaarspoort.
Die Magalies-Bronberg Grondeienaarsvereniging se komitee. Staande van links na regs is
voorsitter, Wolf Snyckers, Piet Steyn en Mike Strange. Voor sit Wilfried Herzberg en
Renell van Staden, ondervoorsitter.
Mynbou
Hoewe-eienaars in Rhenosterspoort,
Rietfontein en Kleinfontein
het onlangs kennisgewings van
voorgenome prospektering deur
mynboumaatskappye ontvang. Die
MBGV moedig dié grondeienaars
aan om nie die kennisgewings te
ignoreer nie.
“As mense nie reageer nie, word dit
as aanvaarding gesien,” sê Wolf.
“Laat weet ons asseblief as jy so ’n
kennisgewing ontvang.
Ons sal jou
probeer help in
samewerking met
die Groter Oostelike
Magaliesberg
Bewaringsvereniging
(Gemca).”
Vir meer inligting
oor Gemca,
besoek
www.gemca.co.za
of skakel 011-748-
2800.
Vergadering
Alle Bronbergers is
welkom om die
MBGV se jaarvergadering
op
17 September by
te woon. Net lede het egter stemreg
om die nuwe komitee te kies.
Lidmaatskap is slegs R40 per
maand.
“Ons soek nie net nuwe lede vir die
vereniging nie, maar ook persone
wat bereid is om op die komitee te
dien. Hier is veral mense met regs-,
ontwikkelings- en finansiële kennis
nodig,” sê Wolf.
Nominasies is by die komitee beskikbaar
en moet die MBGV voor
9 September bereik.
Vir meer inligting, bel vir Wolf
Snyckers by 082-373-2202 of
012-804-2392 of besoek
www.mbpanet.com. |