Die Dinokeng Groot Vyf Natuurreservaat noord-wes van Cullinan is met die inperkingstyd deur stropers geteister. Daarby veroorsaak ‘n gebrek aan toerisme in dié tyd kwaai finansiële nood vir die reservaat. Terwyl die park gesukkel het om personeel te betaal om na die wilde diere om te sien, was daar ‘n toename in onwettige jag-vir-vleis.
Die voorsitter van die Tshwane Toerismevereniging, Bronwen Cadle de Ponte, het bevestig dat stropers ook een van die reservaat se leeus doodgemaak het. Die leeu is in ‘n strik gevang en sy pote, kop en binnegoed is verwyder, vermoedelik om op die mutie-mark te verkoop.
Die reservaat se algemene bestuurder, David Boshoff, het gesê dat dit gebeur het terwyl die reservaat gebuk gaan onder finansiële verpligtinge soos die betaal van salarisse en bedryfskostes. Hy het gesê dat die reservaat omtrent R430 000 per maand uitbetaal, wat hulle in die inperkingstyd deur skenkings probeer invorder het.

Leeus by Mongena in die Dinokeng Groot Vyf Natuurreservaat
Foto: Mongena Game Lodge
David sê dat hulle aan twee veldtogte op hulle webtuiste, www.dinokenggamereserve.co.za, werk sodat mense geld kan skenk om dinge by die reservaat aan die gang te hou. Skenkings sal gebruik word om salarisse en bedryfskostes te betaal, sekuriteit te verskerp en om kospakkies aan die omliggende gemeenskappe uit te deel.
Dié gemeenskappe maak op die reservaat staat vir indiensneming en help om dienste aan toeriste te verskaf. By ‘n gebrek aan toerisme het armoede en hongersnood in die omliggende gemeenskap toegeneem.
Teen 1 Junie kon dagbesoekers uit Gauteng die Dinokeng-reservaat weer in hulle eie voertuie begin besigtig en het sekere restourante vir wegneemetes oopgemaak, alhoewel die oornag- en funksiegeriewe steeds gesluit moes bly.
- Teen die Bronnie se saktyd was reservate in die gebied, soos Rietvlei-, Faerie Glen- Moreletakloof-, Klapperkop-, Wonderboom Natuurreservaat en Austin Roberts Voëlpark, besig om oop te maak alhoewel groepaktiwiteite steeds nie toegelaat word nie.
|