Elsabé Maré
Die ongelukkigheid rondom die
bestuur van Nokeng tsa Taemane
Munisipaliteit duur
voort. Die munisipaliteit is onder ’n
geregtelike bestuur geplaas wat
blykbaar toelaat dat raadslede nog
hulle poste beklee en gesien word
in die munisipale kantore.
Op 30 Mei het stakende SAMWUwerkers
se ‘Shop Steward’s Committee’
van Metsweding in ’n spontane
opmars, waar gemoedere
hoog geloop het, ’n memorandum
buite die munisipale kantore aan die
Speaker, Patric Nkotoe, van Nokeng
Munisipaliteit oorhandig. Hulle het
gevra dat die munisipale bestuurder,
Mpho Mogale, vir ’n maand
verpligte verlof moet neem. Hy
word aangekla daarvan dat hy nie
aandag gee aan hulle versoeke nie,
nie omsien na alle inwoners in die
omgewing nie en telkens die doelpale
verskuif.
Intussen is inwoners van Cullinan
wat blykbaar nie hulle elektrisiteitsrekenings
betaal nie, of agterstallig
is oor foutiewe rekeninge, se krag
oor ’n hele naweek afgesny. Die
Cullinan Inwonersvereniging (CIV)
het op 3 April ’n dringende hofbevel
verkry teen die afsny van elektrisiteit
totdat die dispuut opgelos is.
Dit is geïgnoreer en ’n kriminele
saak van minagting van die hof is op
die munisipale bestuurder, Mogale,
en finansiële- en assistant finansiële
bestuurders bestel.
Refilwe inwoners moes hul voorafbetaalde elektrisiteitskaarte by die Cullinan-kantoor koop. Die foto is tien voor
een op Saterdag 25 Julie buite die Cullinan Munisipale kantoor geneem. Die eerste foto wys die ingang na die
munisipale kantoor en die tweede foto wys hoe lank die tou nog om die draai staan. |
Volgens Steve
Kloppers, CIV verteenwoordiger, is
daar nog nie uitslag oor die saak nie.
Na nog kragonderbrekings het CIV
op 22 Junie weer ’n hofbevel teen
die bestuur, Linda Africa en Morris
Maluleka, gekry en dit het aanleiding
gegee tot ’n tweede klag van
minagting van die hof. Die saak het
7 Julie verskyn, maar die bestuur
was te laat vir die verrigtinge en die
hof het ’n hofbevel teen Nokeng
Munisipaliteit toegestaan, met
koste.
Inwoners van Refilwe, noord van
Cullinan, wat al lankal onder dieselfde
frustrasies gebuk gaan, het op
26 Junie in ’n opmars na Refilwe
Munisipale kantore, die kantore afgebrand
uit protes vir swak dienslewering
en minagting van inwoners
se versoeke.
In reaksie hierop het die provinsiale
regering op 16 Julie ’n Imbizo in
Refilwe gereël om in gesprek met
die ontevrede inwoners te tree. Die
tent is opgeslaan vir die okkasie en
was gevul met inwoners wat wou
hoor hoe die MEC, Kgaolgelo
Lekgoro, die saak wil aanspreek.
Buite het lede van die SACP betoog
en die polisie-optrede is versterk.
Hierop het die staking van munisipale
werkers op Maandag 27 Julie
gevolg. Partye het op 3 Augustus
nog nie tot ’n oplossing gekom nie,
hoewel die munisipale kantoor nou
weer oop is. |