Misdadigers loop rieme styf Print
News - Aktueel
Wednesday, 25 March 2020 06:33
Untitled Document

Misdadigers het hulle rieme in Februarie behoorlik in die Bronbergse hoewegebied styf geloop. Koperkabels en gesteelde goedere is terug gevind en die aankeer van verdagtes met stukke vleis en dele van ‘n beeskarkas het na ‘n ondersoek oor stropery en die stel van strikke gelei.

Lede van Echo-1 Sekuriteit se personeel het met ‘n patrollie op 15 Februarie twee mans gesien wat emmers en sakke met karkasdele dra. Een verdagte is dadelik aan die Boschkopse Polisie oorhandig en die ander een is die volgende dag gevind en oorhandig. Die oorsprong van die vleis en karkasdele word ondersoek.


Die koperkabels is gevind

Spore het Echo-1 sekuriteit op 14 Februarie na vermeende kabeldiewe op Zwavelpoort gelei. Twee verdagtes het weggekruip en ‘n bakkie het opgedaag om hulle op te laai. Chaos het egter losgebreek en die verdagtes het weggehardloop. Die voertuig, ‘n ou wit bakkie, is ‘n ent verder van die pad afgetrek en die bestuurder is aangekeer.

Echo-1 se honde-afdeling het die wegsteekplek van die koperkabels in die veld gevind. Ná vier ure se soektog rondom die Zwavelpoortspruit is al die koperkabels en gereedskap gevind, maar die verdagtes is steeds op vrye voet.


‘n Verdagte wat met stukke vleis en dele van ‘n beeskarkas gevang is
Foto’s: Echo-1 Security

Vroeër in Februarie was daar ‘n inbraak op Mooiplaats. Echo-1 sekuriteitspersoneel het die volgende oggend ‘n plan van aksie uitgewerk en het daardie aand saam met die Boschkopse Polisie leidrade na ‘n huis in Mamelodi gevolg.

Van die gesteelde goedere asook ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ‘n voertuig waarna gesoek is, is daar gevind. ‘n Verdagte is geïdentifiseer en hy kon aan ander uitstaande dossiere gekoppel word.