Gekaapte vragmotor verstrengel in kunstenaar se boom Print
News - Aktueel
Monday, 25 March 2019 05:36
Untitled Document

‘n Gekaapte vragmotor se nagmerrierit het knap voor middernag op 2 Maart teen ’n jakarandaboom in Cullinan geëindig.

Dié Tradevest Logistics vragmotor is volgens sy drywer op die N4-oos snelweg gekaap. Die vragmotor was vanaf Nelspruit op pad na Rustenburg met kratte leë bierbottels. Net voor die Cullinan/Rayton afrit van die snelweg is hy van die pad af gedwing deur twee bakkies, een wat voor hom en een wat agter hom gery het.

Twee van die vier mans in die bakkies het in die vragmotor se kajuit gespring en ‘n vuurwapen teen die drywer se kop gedruk. Hy is gedwing om in Cullinan se rigting te ry, maar dit blyk dat die kapers geen kennis van die padverleggings in dié gebied gehad het nie.


Die vragmotor kon nie in Rossstraat ingedraai kry nie

Die drywer het vertel dat hulle toe maar dwarsdeur die dorp is, maar anderkant Refilwe het hulle weer tekens gesien dat die Kwamahlangupad ook verlê is.

Die kapers het die drywer gedwing om te stop en hulle het probeer om die vragmotor se diesel te steel, maar kon dit nie regkry nie. Daarna het hulle alles in die vragmotor se kajuit gesteel: twee flitse, brandblussers, die drywer se beursie, selfoon, sy kos, skoene en selfs sy hemp.

Hulle het die drywer beveel om terug te ry na Cullinan en het in Mainstraat ingedraai. Toe hulle in Hotelstraat ry was daar oral borde dat die deurpad toegemaak is en dat die pad vir inwoners alleenlik is.

Die kapers het uit die vragmotor se kajuit gespring en in die bakkies geklim, wat die vragmotor die heeltyd nog gevolg het. Die drywer het begin wegjaag met die bakkies agterna. Hy het uit Hotelstraat in Stationstraat ingedraai en toe in Crosstraat begin opjaag.


Die vragmotor se bokant is in die jakarandatak verstrengel

Dit was knap voor middernag toe inwoners in dié stil, nou straatjie wakker geword het van die skreeu van ‘n vragmotor se remme. Die drywer kon nie sy draai links in Rossstraat kry nie en die vragmotor het verstrengel geraak in ‘n jakarandaboom op die hoek van Ross- en Crossstrate – reg voor die historiese ou sinkhuis uit die vroeë 1900’s waaroor ons verlede maand berig het.

In ‘Daar is ‘n engel in Willie se sinkhuis-koskas’ het ons vertel dat dié huis die tuiste is van Cullinanse kabaret- en koskunstenaar, Willie Strauss. Dit is die plek waar liedjies en ‘n kookboek geskryf is, waar ‘n sinkhuismark twee keer ‘n jaar gehou word, waar langtafeletes om oor huis toe te skryf aangebied word, waar daar met vreemdsoortige haarlose katte geteel word en besoekende katte in die kathotel, genaamd ‘Diva Cattery’, oorbly.

Willie was op pad Kaap toe vir die Woordfees. Etienne Smith vertel dat die skreeu van remme hom wakker gemaak het. Hy het uitgegaan en sê dat die verskrikte drywer uit die kajuit gespring het en reg op hom afgestorm het om te sê dat hy gekaap is.

Etienne sê dat dit daardie tyd van die nag soos ‘n disko gelyk het soos al die bure uitgekom het om flits-foto’s van die vragmotor, wat in die boom verstrengel is, te neem. Gelukkig het die sinkhuis geen skade gekry toe die vragmotor in die jakarandaboom op sy sypaadjie vasgery het nie.

Etienne het met die eienaar van die vragmotor, Lise van der Berg, wat in die Kaap gestasioneer is, gepraat en verduidelik dat daar nie ‘n manier is dat die jakarandaboom se tak afgesaag mag word nie.


Die agterkant van die vragmotor het die watersloot-brugwerk vernietig

Die vragmotor teen die jakarandaboom waaraan een van die sinkhuis se ‘heksies’ hang

Die vrag is in Crossstraat afgepak en die proses om die vragmotor uit die boom te kry het die hele Sondag geduur. Werkers van insleepdienste is laat kom om die vragmotor hoër op te lig sodat die raamwerk uit die boom verlos kon word.

Dié werkers was teen laatmiddag die Sondag nog besig met die taak en Ross- en Crossstrate is die hele dag by dié kruising vir verkeer gesluit.

‘n Saak is aanhangig gemaak by die Cullinanse Polisiestasie en die vragmotor-eienaar se versekering gaan opdok vir die skade aan die walletjie van die historiese ou leivoor op die straathoek sowel as die munisipale padtekens.