Droogtehulp aan boere duur voort Print
News - Aktueel
Saturday, 18 June 2016 13:53
Untitled Document

Op 19 en 20 Mei het SA Crisis Support twee dubbel-vragmotors, geborg deur Mercedes Benz Kommersiële Voertuie Suid-Afrika, met bale voer na Winburg gestuur.

In ‘Kontrei se mense maak harte oop met droogtehulp’ in Die Bronberger se Februarie-uitgawe het ons geskryf dat boere se nood vir Karen Schwendtke, ‘n sakevrou van Pretoria-Oos wat op verskeie rade en welsynsorganisasies dien, gemotiveer het om SA Crisis Support op die been te bring.


Die grasbale word gelaai
Foto: SA Crisis Support

Vir SA Crisis Support, wat geen kontant aanvaar nie en net staatmaak op borgskappe, is dit nou al die 22ste vragmotor wat sedert 17 Januarie hulp aan die boere stuur.

Andries Oelofse van die Bronkhorstspruit-omgewing het oor die 100 bale voer voorsien aan Phillip Wessels in Winburg. Mercedes Benz het dadelik ingestem om vragmotors, diesel en drywers te borg.

“Baie dankie aan Kobus van Zyl, besturende direkteur van Mercedes Benz Kommersiële Voertuie Suid-Afrika, dat julle ons met soveel liefde ondersteun. Aan Fourie Groenewald, die drywer, baie dankie vir jou liefde, passie en omgee,” sê Karen.


Van links na regs: Andries Oelofse en sy seun Andries, wat die voer voorsien het, Karen Schwendtke, stigter van SA Crisis Support, en Fourie Groenewald van Mercedes Benz SA
Foto: SA Crisis Support

“Sonder netwerke en mense wat hulle harte gee kan ons nie ons boere help nie. SA Crisis Support sal voortdurend sorg waar ons kan. Die omvang van die droogte is veel groter as waarvan ons van bewus is.”

Vir navrae, kontak Karen by This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of 071-157-7608.

Die laaste bale wat deur die Rayton/Cullinan-gemeenskap aan boere in nood geskenk is, het op
12 Mei vertrek. Henriëtte Engelbrecht het berig dat AfriForum dié bale by die Cullinanse KWD Voere opgelaai het en Vrystaat toe vervoer het.


Die laaste bale wat deur die Rayton/Cullinan-gemeenskap aan boere in nood geskenk is
Foto: Henriëtte Engelbrecht

In ‘Kontrei se mense maak harte oop met droogtehulp’ het ons geskryf dat boere se nood Henriëtte van Zonkolol buite Rayton aangespoor het om dié droogtehulp-projek aan te pak.

Vir meer inligting bel Gerhard Steenkamp van KWD Voere by 079-879-3500.