Gemeenskap spreek misdaad in Cullinan en Rayton aan Print
News - Aktueel
Wednesday, 03 December 2008 19:54
Untitled Document

Ongekende misdaad in die Cullinan, Rayton en Roodeplaat-omgewing het die inwoners van die eens rustige gebied genoop om op te tree. Op Vrydag 7 November is petisies aan die bevelvoerders van die Cullinan en Kameeldrif polisiestasies oorhandig met handtekeninge van ongeveer 2 000 inwoners, insluitende skoolkinders, wat om ’n veilige leef-, werk- en leerarea vra.

Sedert die begin van die jaar gaan die gebied gebuk onder druk van aanvalle wat moord, verkragting en roof insluit. Volgens Louis Meintjies, woordvoerder van die Cullinangemeenskap, was daar al meer as dertig voorvalle sedert die begin van die jaar in dié gebied. Wat moet inwoners verder doen om in veiligheid te lewe en te werk as slagoffers in hulle eie huise aangerand en vermoor word, word gevra.

Die versoekskrif is aan die stasiebevelvoerders oorhandig in die afwesigheid van die Gautengse LUR vir Veiligheid en Sekuriteit. Daarin eis die gemeenskap beter en sigbare polisiëring en beter ondersoekwerk na sake by die twee polisiestasies. Die versoekskrif vra vir dringende aandag en formele terugvoer aan die gemeenskap.