Kungwini en Nokeng se dae is getel Print
News - Aktueel
Thursday, 19 June 2008 21:09
Untitled Document

Die sukkelende plaaslike munisipaliteite van die Bronberg-, Cullinan-, Rayton- en Bronkhorstspruit- omgewing se dae is getel.

Daar is planne om die Metsweding- distriksmunisipaliteit te ontbind en by die Tshwane- en Ekurhuleni-metrorade in te lyf. Metsweding is oorkoepelend oor Nokeng tsa Taemane, wat Cullinan, Rayton en omgewing insluit, en Kungwini, wat die Bronkhorstspruit- en Bronberg-omgewing insluit.

Die munisipale afbakeningsraad het einde Mei bevestig dat hy so’n aanbeveling by die Gautengse provinsiale regering gaan maak. Blykbaar is dit feitlik ’n uitgemaakte saak dat dié inlywing gaan gebeur, al moet die aanbeveling nog deur die LUR vir plaaslike regering, Quedani Mahlangu, bekragtig
word.

Nokeng en Kungwini se bestaansreg as munisipaliteite word al ’n geruime tyd bevraagteken. Dit word verwag dat Nokeng by Tshwane ingelyf sal word, terwyl die grootste deel van Kungwini onder Ekurhuleni se vlerk geneem sal word. Ontwikkelings soos Silver Lakes, Lombardy Estate en Mooikloof sal egter by Tshwane ingelyf word. Kungwini word ’n geruime tyd reeds gekritiseer oor sy onvermoë om diens en infrastruktuur te voorsien aan die snelgroeiende ontwikkelingsgebied ten ooste van Pretoria.