Ontmiddagbyt op Faerie Glen se laaste plot Print
News - Vreethans
Wednesday, 18 November 2009 08:46
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie

In die hartjie van ou Faerie Glen sit een van die dorp se bes bewaarde geheime op ’n rustige kleinhoewe teen die hang van die Bronberg. Ja, ’n hoewe, ’n plot in Faerie Glen.

Hier het Tia Nigrini ’n merkwaardige kunsgalery ingerig en dit na haar ma vernoem; die Tina Skukan Kunsgalery. En dis hier langs Koedoebergweg wat jy die Gallery Connection Garden Café sal kry.


Op die ruim stoep

Ek was aanvanklik teensinnig toe Metgesel op ’n Saterdag in Oktober voorstel dat ons ’n ontmiddagbyt (brunch) by Gallery Connection moet loop inwerk. Ek was redelik honger en nie lus vir ’n gekoek-en-tee nie, maar vandag is ek baie bly dat ek dit moeilik vind om vir Metgesel nee te sê.

Die atmosfeer by dié tuinkafee is rustig en ontspanne. Dis mooi en baie stil op Faerie Glen se laaste oorblywende plot. Ons stap eers rustig deur die tuin en verskillende vertoonlokale en bewonder die kunswerke van uiteenlopende aard en omvang.

Dan neem ons plaas op die stoep van die uitspanplek. Ons kies die diep, outydse gemakstoele in die hoek. Jy kan ook in die koelte van die groot bome in die tuin sit. Een van die vriendelike lede van die familie wat die teetuin bedryf, bring die spyskaart en loop haal solank ’n pot koffie. Die koffie smaak terloops vorentoe.


Bobotie

Hoenderpastei

Soos ’n mens van ’n tuinkafee sou verwag, is daar nie ’n magdom disse op die spyskaart nie. Tog is die keuses uiteenlopend en interessant. Buiten natuurlik die koeke en botterbroodjies, kan jy ’n ‘wrap’ (ek hoor hulle noem dit ’n ‘omvou’ in Afrikaans) vir ontbyt bestel. Die ontbyt- omvou is gevul met spek en eiers, kaas, soet peper en ’n tamatie en uie salsa. Dit sal jou R30 kos. Drie soorte quiche word dié dag aangebied. Ek oorweeg die een met biltong en gekarameliseerde uie, maar besluit daarteen.

Dit kos ook R30. Sop en tuisgemaakte brood teen R25 klink ook na ’n opsie vir ontmiddagbyt, maar die sop van die dag is pampoen en ek is nie te partydig daarvoor nie. Die hoenderlewers kos ook R28 en die Meksikaanse Enchilada sal jou R38 uit die sak jaag.

Soos ek al gemeld het, is ek nogal honger dié dag. Ek besluit om die bobotie te beproef en daarna die tuisgemaakte brood met pâté, kaas en konfyt weg te werk. Die bobotie kom aan saam met geelrys en ek sien dadelik dat ek dalk die tuisgebakte brood ’n ‘skip’ sal moet gee. Dis ’n baie billike porsie.


In die koelte van die groot bome in die tuin

Ek is só beïndruk met Gallery Connection se bobotie, dat ek agterna, sonder sukses, probeer om die resep af te bedel. Die bobotie is ongelooflik van geur en lekker losserig van tekstuur. Dit kos R42. Metgesel sê die hoenderpastei wat sy bestel het, smaak soos dié wat ’n mens oor Kersfees by jou ma sou geniet. Die porsie is ruim en sy is gek oor die slaai wat daarmee saam kom. Die pastei kos R45.

Ek het toe ’n hele lang tyd se rus ná die bobotie die brood bestel en dit geniet. Vars en lig is die tuisgebakte brood en kan as ’n maaltyd op sy eie dien teen net R18.