Mustang brul van lekkerte by Busted Knuckle Print
News - Vreethans
Monday, 25 March 2019 05:36
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Dis Sondag en ons sit af Cullinan se kant toe. Ek dink ‘n sensus sou kon bewys dat dié rustige dorpie se tweede grootste bevolkingsgroep oor naweke kuierplekke is. Besoekers sou dalk met ‘n kortkop groter wees.

Ons eindbestemming is een van die nuwer afsaalplekkies aldaar, ‘The Busted Knuckle Garage Diner’. Maar eers loop draai ons by Cullinan Junction waar geskiedkundige stasiekantoor- en stoorplekke met allerlei oorspronklike en unieke winkels in ‘n besoekerparadysie omgetoor is.


Amanda in haar winkel by Cullinan Junction waar met gemmer en goed getoor word

Die presiese aard en oorsprong van die buitengewone probleempie waarmee ek vandag te kampe het, is duister, maar dit wil voorkom of ek aan ‘n rare eetlusgebrek ly. Nou, soos die groot geluk dit toe wou hê, stap ek en Metgesel by een van die ‘Junction’ se netjiese winkeltjies in waar ‘n kuur vir my kwaal geredelik beskikbaar is. ‘Just Ginger’ hou alle denkbare en ondenkbare gegemmerde produkte aan en net hier kry ek ‘n doepa genaamd Ginger Love.

Bo alle twyfel werk ‘n doppie uit die bottel gemmermengsel soos ‘n bom, want ná net een bruisdrankie by die Busted Knuckle is my goeie vriend, ou Eetlus, met mening weer terug. Sommer lekker honger is ek nou en effe later sou ek uitvind dat dit noodsaaklik sou wees.


'n Man se eetlus moet op al sy silinders vuur om dié Mustang baas te raak

Die Busted Knuckle sit ampers aan die onderpunt van Oaklaan in een van die mooi ou sandsteen-skakelhuisies. Die klem in die binnewerke val op oudhede, aardighede, versamelstukke en rarighede wat meestal motor- en motorfietsverwant is. Baie stylvol en netjies is alles vir die geesdriftige ‘petrolkoppe’ uitgestal en staangemaak. Dis ook waar die kombuisie is wat vir die dinge uit die ‘diner’ sorg.

Jy sit aan op die stoepie of in die voortuintjie waar groot sonsambrele en ‘n baie ou ‘Pride of India’ diep koelte vir die gaste verskaf. Ons neem plaas in die lawende rondomkoelte van die trotse ou Indiese boom. Die spyskaartjies en die verskeidenheid van keuses is klein van gestalte maar die oorspronklikheid van kaart en keuse is groot.


Die Busted Knuckle se ‘diner' kombuis is omring deur versamelgoed

By die vakmansbierplek langsaan hou ‘n motorfietsklub ‘n saamtrek en dit gaan jolig. Ons geniet saam aan die ‘lewendige’ musiek en die uitbundigheid van die motorfietsmense, waarvan ‘n paar hulle ook by die Busted Knuckle tuisgemaak het. Agter op hulle ‘baaikbaadjies’ is ‘n wapen met die letters ‘HOG’ vasgewerk. Dis die afkorting vir ‘Harley Owners Group’, hoor ons en het met ‘road hog’ of padvark niks te doen nie. Ek wonder so in my enigheid of daar iewers dalk ‘n ‘Kawasaki amateur Klub’ ook bestaan.


Lekker ontspanne in die voortuin van Busted Knuckle

Vier ontbytkeuses word gegee met “Spare Wheel” teen net R35 tot “Fat Boy” wat R80 kos. Twee slaaikeuses, ses braaibroodjies met pryse tussen R20 en R55. ‘n Porsie skyfies kos R25. Vir die kleingoed is ook ‘n plekkie op die spyskaart ingeruim en vir die soettande twee verbuigings van roomys, melkskommels en nog wat.

Maar dis die ‘Knuckle’ se hamburgers wat my aandag trek. “Busted Knuckle Gourmet Burgers”, sê die hofie en duidelik in ‘n rooi blokkie daarby: “Warning. These burgers are huge!” Die spyskaart belowe dat die ‘patty’ van suiwer gemaalde bees is, maar dit wat aangebring word, moet jy eerder ‘n ‘patt’ noem, of ‘n ‘frikkabul’ dan in Afrikaans.


Braaibroodjie met die frikkadelbulburger in die agtergrond

Aan oorspronklikheid en die suksesvolle smaaklikmakers by die frikkabulle ontbreek dit ook geensins nie. Die ‘Chevi Burger’ het byvoorbeeld mozzarella, basiliekruid pesto en songedroogde tamatie daarby en die Cadillac Burger bevat gorgonzola, vyepreserv en uiemarmelade. My besluit val op die Mustang Burger wat opgedollie is met sjokolade en tjillie met gesmelte Italiaanse fontinakaas daaroor wat ‘n verlangse knoffelsmakie gee. Die ‘huge’ hamburgers kos R100 en kom saam met skyfies. Metgesel kan later sweer sy het nog nie lekkerder tuisgemaakte ‘tjips’ raakgeloop nie.

My Mustang se sjokolade en tjillie is binne in die frikkabul ingewerk en die Italiaanse kasie is bo-oor gesmelt. Die lywige ‘patt’ is perfek na my smaak gaargedoen met ‘n effense pienkegeitjie binne. Die broodrolletjie is van daardie wat lyk of iemand dit ‘n middelpaadjie gekam het en is bros en vars. Die smaak van die Mustang kan ‘n ou van lekkerte laat brul, maar jy moet baie, baie honger wees as jy dit met een aansitslag wil baasraak. Vir dié wat nie braksakkies wil wegneem nie, is daar ‘n kleiner ‘Sissy Boy Burger’ teen R65 beskikbaar.


Elke beskikbare vertrek is gepak met motorverwante aardighede wat te koop is

Metgesel het haar braaibroodjie van hoendermayo  geniet en die twee van ons het die atmosfeer en hele ervaring saam erg aangenaam gevind.

Vir meer inligting bel vir Terry by 083-654-4969 of Kat by 084-579-1803.