Sielerus en heilsame spyse Print
News - Vreethans
Tuesday, 28 May 2013 13:31
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Vandag verklap ek een van daai “bes bewaarde geheime” waarmee ‘regte’ resensente so graag te koop loop. Teen die hang van die Bronberg, in die hart van die woelige Faerie Glen is ‘n uitspanplek waar die stilte jou omvou; ‘n verskuilde kuierplek waar jy sielerus vir die gemoed en heilsame spyse vir die binneste kan geniet.

Want op plot 6 in Koedoebergweg (reg gehoor, ja – plot 6) het Paula en Ian, van Cupps-faam, nou hulle intrek geneem. Hulle het The Gallery Connection, ’n restaurant en teetuin, oorgeneem en saam met hulle ‘n vriendelike gemoedelikheid en Paula se eerlike, heerlike geregte gebring.

Die rustige, boomryke hoewe huisves jare reeds Thea Nigrini se kunsgalery. Thea het die galery na haar ma vernoem – die Tina Skukan Kunsgalery.


Jy kan op die stoep of in die koelte van Gallery Connection se teetuin aansit

Dis die Woensdagvakansie van Werkersdag toe ons op Paula se aanbeveling in die verste hoek van die ruim kuierstoep loop plaasneem. Diepsit gemakstoele en ‘n vriendelike kelner wag daar op ons. Ons bestel rooiwyn per glas en drink daarmee saam die wonderlike stilte in.

Nie ‘n enkele geluid van een van Pretoria se besigste geraas-strate, Hans Strijdomweg, (‘skuus, dis mos nou Solomon iemandweg) bereik ons ore nie. Geen steurende musiek wat pla nie. Net ‘n paar voëltjies in die koraalboom hier neffens ons en ‘n rooiborsduifie wat eentonig nooi: “kom naderrr, kom naderrr . . .”

Sou jy besluit om ontbyt by Gallery Connection te loop nuttig, sou jy kon kies uit ‘n magdom moontlikhede. Die gewone Engelse ‘brêkvis’ word vernuftig afgewissel met keuses soos skelvis, gekruide maalvleis, eiers Benedict en Franse roosterbrood. Jy kan ook ‘n aantal ‘gesonde’ ontbyte bestel. Geen oggendete by dié gallery kos meer as R50 nie – selfs nie die een met biefstuk by nie – en die Rise & Shine, met twee elk van eiers worsies, roosterbrood en tamatie sal jou net R29 uit die sak jaag.

Uit die slaaikeuses lyk die een met hoenderborsies in soet tjillie gemarineer en saam met avo en pynappel gedinges (hoe sê ‘n mens tog ‘tossed’ op Afrikaans) na iets wat veral Metgesel se goedkeuring sal wegdra. Dit kos R48.


Paula se legendariese hoenderpastei

Die roosterbroodjies of tramezzini weeg in teen tussen R30 en R40 en die burgers van bees of hoender tussen R45 en R55. Dit word bedien saam met slaai of skyfies.

Koffie (goeie en groot verskeidenheid) en tuisgemaakte gebak was ‘n kenmerk van Cupps en dit het nie verander nie. Wat verander het, is dat jy en jou vriendinne die dekadensie nou in die diep koelte van die inheemse bome in Gallery Connection se teetuin kan inneem.

Ek en Metgesel besluit om elk ‘n iets uit die ‘light meals’ te kies en dis net hier waar ‘n ligte dilemma sy kop uitsteek. Ons het destyds by Cupps gereeld aangesit vir een van Paula se legendariese pasteie en ook hier by Gallery Connection pronk dit op die spyskaart. Daarby het ek toentertyd al die een-en-ander oor die pasteie te sê gehad en daarom stel ek toe voor dat ons nou iets anders moet beproef.

My keuse val op die spaghetti bolognaise en toe vang Metgesel my met ‘n slenter: Sy dink sy moet tog maar die hoenderpastei bestel, want dalk het dit intussen agteruit geboer of verander. Dit het nie.

Volgens Metgesel het die pastei – as dit enigsins moontlik is – verbeter sedert sy dit laas geniet het. Paula se pasteie van hoender of bees kan kwalik as ‘n ‘ligte’ ete beskryf word. Dit kom in ‘n diep porseleinbak en is ruim toegedek onder ‘n smaaklike skilferkors. Dit kos R50.

Eintlik is Metgesel tradisioneel die pastamens en ek is eerder die paaiman, kan jy maar sê. Maar vandag is dit my beurt vir pasta en as ek dan moet pasta, dan verkies ek om dit met spaghetti te doen.

Ek is gewoonlik half versigtig vir spaghetti bolognaise omdat baie kokke meen dit moet erg getamatie en erger gekrui wees. Paula se weergawe is so na my persoonlike smaak. ‘n Heerlike, vullende gereg, ook teen R50, die prys van al die ‘ligte’ etes, behalwe vir die kruisskyf wat R68 kos.

As jy meer oor die ‘oase in die ooste’ wil weet, of padaanwysings nodig het, bel hulle by 083-417-5908.