Villagers staan op uit Sir Thomas se asse Print
News - Vreethans
Wednesday, 24 October 2012 05:46
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal
self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Dit was vir baie ‘n hartseer dag toe die Sir Thomas op Cullinan finaal sy deure sluit. Oor baie jare heen het dié groot restaurant op die hoek ‘n gewilde kuierplek geword. Maar toe taan hy geleidelik en sneuwel uiteindelik.

Nou, uit die spreekwoordelike asse van Sir Thomas, het die spiksplinternuwe Villagers herrys. Die plek is verander, aangepas en opgedollie. Jy kan nog buite onder die Gazebo sit en na die ‘passing parade’ van die dorpie se Oaklaan en Mainstraat kyk of jy kan in die netjiese binnekamer plaasneem.
‘n Welkome toevoeging is Villagers se lekker lang, nuwe kuierkroeg en die strategies geplaaste houttafels vlak by die kroeg se buitedeur.

En dis net daar waar ek en Metgesel ons tuismaak. Eers in die kroeg vir ‘n versnaperingtjie of twee, waar ons bedien word deur die knap en vriendelike kroegmeisie, en toe by een van die houttafeltjies, waar ‘n ewe vriendelike kelnerin ons bystaan. Twee keer al, tot dusver, het ons dié ritueel gevolg en dit genoeg geniet dat dit dalk ‘n gewoonte kan raak.


‘n Straataansig van die nuwe Villagers op ‘n reëndag in Cullinan

Metgesel het op ‘n baie warm dag in dié kroeg ‘n koel enetjie in ‘n bottel ontdek met die naam van Jimmi Jagga. Dis ‘n wyn spritzer van KWV en sy vind dit erg bevredigend. Metgesel is nie partydig vir regte bier nie.

Villagers se spyskaart is redelik omvattend, met genoeg van die ou staatmakers en ‘n paar ongewone disse om ‘n goeie verskeidenheid te bied. Soos die gebruik by so baie ander plekke is die spyskaart eintlik ‘n ‘menu’ en net in Engels. Dit terwyl die ruggraat van die plek se klante Afrikaanssprekend is.

Jy kan kies uit ‘n ses-stuks Engelse ontbyte met die prys wat wissel tussen R25 en R46 afhangend van wat saam met die spek en eiers aankom. Of jy kan die vlagskip aandurf wat hulle ‘Villagers Breakfast’ noem. Jy kry ‘n lamstjop, biefstuk, wors en tjips saam en betaal R90.

Of jy kan ‘n omelet, of plaatkoekies met spek en heuning, of vrugte of ‘n botterbroodjie met room en konfyt bestel.

Die keuse van kroegetes, burgers en geroosterde broodjies is wyd by Villagers. Die elf burgersoorte kos net minder, óf presies, óf net meer as R50. Ek het die bloukaas en ‘bacon’ burger teen R52 oorweeg en wil dit nog aandurf. Roosterbrode wissel van R20 tot R28 en die tramazinis met dieselfde vulsels tussen R32 en R40. Ongewoon op die kroegspyskaart is bunny chow: Hoenderkerrie – R50, beesvleis – R54 en garnaal (prawn) – R62.

Voorgeregte en slaaie is eweneens ‘n mengsel van die bekende en minder bekende, soos die kasige jalapenos, peppadews met feta en ansjovisse gestop en ‘n slaai van appel, komkommer en Griekse jogurt, of een met baba aartappel, spek, avo en peppadew.

Met ons eerste besoek bestel ek van die kroegspyskaart af die herderspastei. Dit was goed gekaas, soos ek daarvan hou en smaaklik, maar met te veel erte by die sousige maalvleis na my smaak.
Nou moet ek meld dat ons met ons tweede besoek verneem het dat die plek ‘n nuwe sjef het.

Metgesel het met die eerste draaislag van die hoofgeregte-afdeling af ‘n hoender en sampioen fettuccini bestel. Sy is mos baie partydig vir pasta. Soveel het sy dit geniet dat sy dit weer met ons tweede besoek bestel het, en volgens haar was die nuwe sjef se poging nog beter as die vorige een s’n. Dit kos R49.

Ek het nie weer die herderspastei bestel nie, maar die lamstjops teen R75. Soos met die braaigeregte van bees, vark en hoender kan jy kies tussen tjips, gebakte aartappel of pap en sheba daarmee saam. Jy kry ook die groente ‘van die dag’.

Die tjoppies was bykans onverbeterlik. Ek hoor later Villagers kry hulle vleis by Wilhelm van Bronberg Vleismark en ek weet Wilhelm skeep nie af as dit by gehalte kom nie. Sou graag sy boerewors by die kroegetes wou sien, want Wilhelm maak losvoor die lekkerste boerewors wat ek ken, en ek kom nie gereeld genoeg by sy slaghuis uit nie.

My plek is nou skielik te min om meer aandag aan die res van die spyskaart te gee. Ek kan net meld dat dit ‘n goeie nageregkeuse vertoon, dat die viskeuse bestaan uit stokvis en vier moontlikhede van garnale en dat alles billik geprys blyk te wees.