Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie
Nuwe kuierplekke in die Bronberg-gebied maak die afgelope jare vinniger oop en toe as ‘n hoekbedelaar se hand om ‘n vyfrandstuk. En die een ding wat al dié eetplekke in gemeen het, is dat elkeen ‘anders’ probeer wees. Gewoonlik werk dit nie. En as dit wel werk is die ‘andersgeit’ dikwels ‘n floppie.
Maar gelukkig loop ons soms ‘n plek raak wat daarin slaag om heel ‘anders’ te wees en om daarby ook suksesvol ‘anders’ te wees. Só ‘n plek is Blos Café aan die voet van die berg in Lynnwoodweg.
Mareli Robbertze en haar span het ‘n vervalle ou plothuis met baie harde werk in iets werklik besonders omgetoor. Baie aandag is aan fyn detail gegee en die plek is stylvol ingerig. Die atmosfeer op die hoeweplek is warm en ontspanne en op die stoep onder die bome voel jy rustig en ver van die stadsharlaboerla af.
Die diens was puik en gasvrou, Chantelle, en ons kelner was vriendelik, aangenaam en behulpsaam.
Lanklaas het ek soveel ‘anderste’ geregte op ‘n spyskaart gesien waar ‘anderste’ bestanddele en smake met duidelike fynproewersvernuf, saamgetrou is. My mond het onwillekeurig begin kwyl toe ek daai spyskaart lees.
Baie harde werk later, is Blos Café in ‘n ou plothuis oopgemaak
Ek hoor later dat jy dagdeur ontbyt kan bestel en net daar besluit ek om volgende keer ‘n ontmiddagbyt by Blos in te werk. ‘n Stuk of dertien keuses van redelik ‘anderste’ ontbyte is op die spyskaart.
Die ‘blossoming apple tree’ is byvoorbeeld appelskywe wat in ‘n kombinasie van rooibos espresso, kaneel en heuning saggemaak is en voorgesit word onder smeltende brie kaas en/of ham. Dit kos R46.
Of jy kan ‘n beet en gemmerbroodjie met maaskaas en marmelade teen R30 bestel. Hulle noem dit ‘in the pink’. Die honger ou kan ‘n ‘morning glory’ aanpak. Dit bestaan uit twee eiers, ‘n ‘bacon’ frikkadel, mielie kolwyntjie (muffin) en repe ‘rump steak’ in ‘n kruie en appelkoos-roomsous.
Maar ons sit op Blos se stoep in die middagsonnetjie (elke stoel het sy eie kombers om teen die koue aan te wend, sou jy wou) en vestig ons aandag op die ‘lunch-menu’.
Die spyskaart hef aan met ‘n aantal oop broodjies. Dit sê ‘open sandwich’ wat streng gesproke seker ‘n oop toebroodjie is, maar Blos se oop toebroodjies is, soos verwag kan word, ook heel anders.
Hulle gebruik geroosterde Portugese bruschetta brood, of as jy wil ‘n lae ‘GI’ broodjie. Die ‘rock it’ het byvoorbeeld ‘n beet-parmesan en ‘cashew’ neut smeer met beeshaas (fillet), lae vet maaskaas, gekarameliseerde uie en vars rocket as aanvulling. Die brode kos om en by R50.
‘n Roosterkoek-bobotieburger
Ek kyk aanvanklik na die ‘steak’ wat ‘n kruisskuifie van 200 g is wat met ‘n amandel-roomsous voorgesit word. Die ‘stew’ van bees met rooi kerrie en grondbonesous trek die aandag en dan praat die swartbord van ‘n skaapbredie met pruimedante. Maar ek besluit op die verrassende burger. Dis ‘n roosterkoek en bobotieburger en dis iets wat iemand lankal moes uitgedink het. Hy kom saam met skywe lekker braai-aartappel en vir my is die bobotieburger ‘n andersgeit waaraan ‘n ou gewoond wil raak.
Ek kon die gedoente seker vir ‘n ‘tune-up’ teruggestuur het oor hy effe aan die koue kant was, maar ek het nie, oor ek nie in daardie stadium wou ophou eet nie. Die bobotie-burger wat hulle ‘forget-me-nots’ noem, kos R58.
Metgesel bestel die enigste pastagereg op die spyskaart. Hulle noem dit ‘swanky saffron’. En as jy, soos die kat, van saffraan minder as niks weet nie, het die spyskaart ‘n mooi verduideliking daaroor. Dis penne pasta gesmoor in ‘n romerige amandel-, pistachio- en saffraansous met sampioene, zucchini (murg van groente) en julienne wortels. Metgesel sê onomwonde dat hierdie die heel lekkerste pasta is wat sy nog geëet het, al is dit nogals ryk. Dit kos R68.
Blos Café sit langs Safari se kwekery. Hulle maak net saans oop as jy vir ‘n groep bespreek. As jy wil bel: 012-807-1709. Sê Vreethans het gesê jy moet. |