Vreethans van Heerden en Metgesel val ongenooid
in by kuierplekke in die Bronberg-gebied en betaal
self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie
As jy in Cullinan se laer Oaklaan
afstap en jy word honger
of dors, of dalk altwee, kan jy
kies uit ’n hele rits kuierplekke om
na die innerlike om te sien.
Hulle sit ingeryg in Oaklaan se geskiedkundige
ou sandsteenhuisies -
restaurante van uiteenlopende aard
en omvang. Op dié betrokke mooi,
sonnige Sondag swenk ons in by die
Whispering Oaks Garden Café,
want ons het honger en ons het
dors.
Jy sit onder ’n sambreel by ’n ronde
betontafel tussen die roosbosse in
Whispering Oaks se mooi tuinkafee.
Terwyl jy vir jou drankie wag (hulle
bedien al die soorte) staar jy na die
toeriste wat heen-en-weer voor jou
in die pad verbydrentel. Toeriste in
hulle kortbroeke met sokkies en
sandale; toeriste met bleek wit
bene, rooi gesigte en vreemde
Ingelse aksente; toeriste met skrefies
oë en geblomde hempies wat swaar
aan Oosterse kameras dra en toeriste
wat ondanks alles breëbors in
hulle bloubulhempies verbyloop.
Die atmosfeer in die tuin is ontspanne
en gemoedelik, deels te danke
aan die ontspanne en gemoedelike
eienaars, Keron en Senette Phitides.
Die disse op die spyskaart is wyd
uiteenlopend en oorspronklik. Dit is
die soort eetgoed wat heel gepas vir
’n tuinkafee is. Jy kan byvoorbeeld
vir ontbyt ’n pannekoek gevul met
kaas, spek en gebakte piesang en
bedruip met 'maple' stroop bestel.
Dit sal jou R48 kos.

’n Gemoedelike kuiertjie in Whispering Oaks se roostuin
Die plek se 'gesondheidsbroodjies' is
vernoem na beroemde diamante
wat uit Cullinan se grond gegrou is
en is ruim van omvang. Die 'Great
Star of Afrika' is gelaai met gerookte
salm, maaskaas, grasuie, kappertjiesaad
en peppadew. Die 'Premier
Rose' dra ham, mozzarella kaas,
tamatie, komkommer, appel en ’n
ligte mosterdsous.
Die 'Jonker' het
aspersies, eier, feta kaas en mayonnaise
op en die Taylor-Burton kombineer
bees pastrami, heelgraan
mosterd, songedroogde tamaties,
mozzarella kaas en ’n mosterdsous.
Al sewe die diamantbroodgeregte is
verfrissend oorspronklik en baie
substansieel. Almal kos iewers in die
R50.
Jy kan ook 'meal sized' gevulde pannekoeke,
'meal sized' slaaie, geroosterde
toebroodjies of oop broodjies
en ’n keuse van sewe soorte burgers
bestel. Die burgers is net minder of
net meer as R40. En vir nagereg kan
jy ’n wye keuse en (weer) oorspronklike
soet pannekoeke of
wafels geniet.
Ek het die gevulde pannekoek met
gerookte salm, maaskaas en 'spring
onion' gekies en ek kan dit sonder
skroom aanbeveel. Die gedoente
was beslis 'meal size', trouens, die
slaai wat daarmee saamgekom het
was 'meal size' op sy eie. Al wat ek
kan sê oor die voorkoms van die
gereg, is dat die kok ’n kunstenaar
is.
Amper te mooi om met ’n mes
en vurk te wil toetakel, maar aan
die ander kant heeltemal te smaaklik
om te wil los. Dit kos R56.
Metgesel het die geroosterde
hoender mayonnaise toebroodjie
met skyfies en slaai geniet. Dit kos
R39.
As jy jouself ’n guns wil doen deur
’n draai by Whispering Oaks te
maak, kan jy gerus by hulle tuisprodukte
winkeltjie, 'Temptations' inval
vir heerlike gebottelde produkte en
veral vir die Hollandse kase en
plaasbotter. |