Krouts, tats, . . . , enghyts! Print
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 24 September 2010 08:00
Untitled Document

Ek het al hier, langs die Bronnie se agtjaarpad, ’n ligte vloermoeretjie gegooi oor taal – en veral oor rakbietaal. Ek het toe verduidelik dat die Ingelse nou wel ‘rugby’ per ongeluk uitgedink het, maar dat Ingels en rakbie hier in Springbokland net nie lekker bind nie. Jy moet onthou dat dit tot redelik onlangs net by die uitsondering was dat ’n plaaslike rakbiespan dalk een of hoogstens twee Engelssprekendes en so nou en dan dalk ’n verdwaalde Jood in sy geledere gehad het.

Daarom dan dat goeie Afrikaanse rakbiewoorde en – uitdrukkings soos ‘haaikiek-en-tjaarts’, ‘torrie’, ‘traai’ en ‘têkkel’ ontwikkel is. Jy kan maklik Ingelse rakbietaal omsit om beter in Afrikaans te klink, maar jy kan nie dieselfde met Afrikaanse rakbietaal doen nie. Ek bedoel, jy kan dit nie beter laat klink in Ingels nie. Jy kan dit selfs soms glad nie vertaal nie.

Wat maak ’n Ingelsman byvoorbeeld as hy ‘plettervat’ wil sê? Of ‘hy lig sy pale?’ Ter illustrasie het ons destyds ’n fiktiewe grepie Afrikaanse radiokommentaar gevat en dit probeer omsit in Ingels. Dit het só geklink: “Brian Habana takes the hanging kick very pretty out of the air out (raak?) (onthou dis fiktief), and lays thongs down next to the sideline down on the other side’s pavilion side. But he walks him tight against Bakkies Botha, who lifts his poles and spreads him to the ground where he makes hard acquaintance with mother earth about ten steps from the Bull’s quarter line. And there lies Pietersen - out like a candle!”

Ja, dit was altyd maklik om goeie rakbie-Afrikaans uit die Ingels te ontleen. Maklik, tot ’n onlangse onding sy goggakop in die ghym uitgesteek het.

Ek praat van die versie wat die skeidsregter deesdae opsê voor daar geskrum word: “Crouch..! Touch..! Pause..! (eintlik is daai een ‘Paaauuusss’) Engage!” En dan eers slaan die manne in en die skrum val of lig en word oorgedoen, of een span kry ’n strafskop of ’n vryskop. ’n Onding van die eerste water. Nou hoor ek die Franse het hulle eie rasegte rympie vir die aanloop na die skrum en ek is seker die Russe en dié het ook.

My dilemma is; hoe sê ’n mens dit in Afrikaanse rakbietaal? Ek het alles binne my vermoë gedoen, selfs woordeboeke geraadpleeg en verafrikaansing probeer, maar dit bly half snaaks, half verkeerd en heeltemal skeef klink. Luister ’n bietjie: “Buk! Vat aan! Verposing! Verloof!” Ek sien terloops die dikstertmêrrie praat ook van ‘engageer’.

Of ’n ou kan die woordeboek inspan om die sakie te omskryf sodat almal mooi verstaan. Só: “Neem ’n gebukkende of hurkende houding in! Kom in aanraking of kontak met! Bring tot nadenking en beoefen ’n rukkie se stilte! Raak slaags met of koppel ineen!”

Die ander alternatief sou wees om die Engels maar om te skakel, soos wat ons met byvoorbeeld ‘rakbie’ en ‘têkkel’ gemaak het. Só: “Krouts!” “Tats!” (soos in daai ghympie, tiepie-tiepie-‘tats’) “Enghyts!” Verskoon maar as ek liewer by die ‘pause’ verbyhou.

Terugblik
Maar hierdie was eintlik veronderstel om ’n terugblik op agt jaar se plotpraatjies te wees en toe gaan ek op loop met die rakbie.

Oukie dan, terwyl ons so op die taal is, kom ons blik terug na ou Poon se storie oor die dag toe Sopies Oosthuizen meer Ingels gepraat het as wat hy in die res van sy lewe saam kwytgeraak het.

Die dorp het knap tevore ’n Ingelse kroegman, ene Arthur, uit Ingeland uit gekry. Op ’n dag het Sopies ’n paar stywes gesink voor hy sy gewone pad deur die bloekombos huis toe gevat het. En dis toe dat hy, pleks van ’n bloekomlat wat hy vir ’n kierie wou gebruik, ’n yslike pofadder aan die stert optel.

Hy het die adder met ’n bloedstollende gil gegooi dat die verpesting daar trek en met ’n onmeetbare spoed teruggehol kroeg toe. Dié wat onthou sê ou Sopies se benoude Ingelse relaas het só geklink: “After, After! Kwiek, kwiek! Bring for mie a drienkie! Make it summer a dappel! Aai skriek for mie today amper dead! Aai fawt it was a bloekomlaait, and all de taaim it was a poefmelaaider!