Oom Gert Minirok het voorspel Print
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 19 February 2021 17:48
Untitled Document

Wanneer laas, vra Gert Mossie, het jy ’n mini-rok gesien?  Grootpiet krap effe kop daar waar hy in sy geliefde hoek in die watergat sit. Ja, kuier in ’n regte kuierplek met ’n regte drankie in die hand is weer wettig. Soos ’n skoolkonsert-gordyn – oop-en-toe en oop-en-toe – is die gebied se kuierplekke deesdae, meen Grootpiet.

Gelukkig het hulle kuiergat net-net deur die laaste teistering van gedwonge toegrendel geskuur en hy voel dit hulle verpligting om die watergat te ondersteun, karring Grootpiet voort.

Ja, ja, sê Gert Mossie, maar ek vra weer: Wanneer laas het jy ’n mini-rok gesien? Gee tog kans, sê Grootpiet, hy dink, sê Piet. En hy kan jou werklikwaar om te lewe nie onthou wanneer laas hy ’n minirok of die inhoud daarvan gesien het nie. Dalk is die goed nog daar buite, en is dit net hy wat nie meer so noulettend oor dié soort dinge is nie. Maar nee, hy kan nie sê wanneer dit is wat hy laas ’n mini gesien het nie. Hoekom?

Het jy geweet, vra Gert Mossie nou, dat die Vaaldam van gister af oorloop? Ja, dit het hy wat Grootpiet is geweet. Gister iewers gelees. Goeie nuus vir ’n verandering, sê Piet.

Kan jy, vra Gert Mossie nog eens vir Grootpiet, vir oom Gert Yssel onthou? Is jy seker, wil Piet nou op sy beurt weet, dat al jou varkies op hok is? Vir wat sit jy daar en vra al die simpel vrae? Jy kan tog nie gesuip wees nie, sê Piet, of drink jy nou iewers skelm en te veel? Maar nee, hy dink nie hy onthou ’n oom Gert Yssel nie.

Seker ’n bietjie te jonk, jy, sê Gert, maar in die vroeë 70’s het oom Gert Yssel van die Moot die hele land op hol gehad juis oor die mode van die minirok. Oom Gert het ’n baie groot en bittere veldtog gevoer om dié verderflike ding, wat hulle ’n mini noem, te verbied, verban en na die buitenste duisternis uitgewerp te kry.

Alles wat rok is en bokant die vroulike knie sit, was trouens volgens oom Gert Yssel die oorsaak van alle euwel. Gou het die hele land van oom Gert Minirok geweet en gepraat. Oom Gert het daagliks briewe aan koerante en instansies van gesag geskryf, radiopraatjies gehou en selfs optogte (vreedsaam) met plakkate en die lot gehou.

Hy onthou nou-nou net, sê Gert Mossie, dat die minirok die land in die tyd van ’n knellende droogte getref het. Amper al die damme in die land was amper dol-droog – die Vaaldam ook. En hy onthou goed dat oom Gert Minirok Yssel onomwonde voorspel het dat die Vaaldam nooit weer sal vol word terwyl die minirok se teenwoordigheid die sondige gedagtes van egbreuk en erger by die mans van hierdie land laat wortel skiet nie.

En dis hoekom hy vra, sê Gert Mossie. Hy het gehoor die Vaaldam oorstroom sy walle en toe wonder hy maar oor oom Gert Yssel se profetiese voorspelling van toentertyd en of ’n ou vandag nog mini-rokke hier ter plaatse te siene kan kry . . .