Boer en Brit veg ná 120 jaar saam om slagveld teen mynbou te beskerm Print
News - Toeka se dae
Friday, 22 January 2021 13:35
Untitled Document

Angie Kleijn

Meer as 120 jaar ná die Anglo-Boere-oorlog se Slag van Donkerhoek, of Slag van Diamond Hill, staan Boer en Brit saam om die slagveld behoue te laat bly. Afstammelinge van ’n Skotse graaf wat daar gesneuwel het, registreer nou as belanghebbende partye in die openbare deelnameproses van die beoogde silika-mynboubedrywighede op Diamond Hill.

In ‘Historiese skatte in gebied deur mynbou bedreig’ het ons in Oktober 2020 berig dat van die grondeienaars op dié geskiedkundige slagveld kennisgewings gekry het dat daar op hulle grond vir silika gemyn gaan word. Mynbou sal die verskansings, wat sedert 1900 reeds bewaar word, vernietig.

Die Slag van Diamond Hill was van 11 tot 12 Junie 1900 en het op ’n verdedigingslyn van 40 km, honderde verskansings nagelaat. Generaal Louis Botha en sy 6 000 tot 8 000 vegters het tussen 5 en 10 Junie verdedigingsposisies op die Magaliesberg, tussen Kameelfontein in die noorde (naby Roodeplaatdam) tot by Witfontein in die suid-ooste, ingeneem om die pad en die spoorlyn na die ooste te blokkeer.


Slagveldkenner, Rob Milne, by die graaf van Airlie, David Ogilvy, se graf op Kleinfontein op
29 November 2020

Die gebied was bekend as Diamond Hill omdat diamante in 1897 deur die Duitse prospekteerder, Schuller, naby die plaas Donkerhoek ontdek is.

Veldmaarskalk Roberts het op 11 en 12 Junie aangeval met generaal French en die berede soldate in die noorde en die hoofdeel van die leër vanaf Donkerpoort suidwaarts. Die Britte se aantog is laat in die middag van 12 Junie op die tweede, hoër rif op Rhenosterfontein gekeer. Hulle kon nie deur die Boere se verdedigingslyn tussen Rietvlei en Rhenosterfontein kom nie. Tog het generaal Botha besluit om sy magte te spaar vir die volgende slag. In die nag van 12/13 Junie het hy terug geval na die ooste.

Volgens slagveldkenner, Rob Milne, het die grootste deel van die aksie plaasgevind tussen Morskop en Donkerhoek op die deel van Rhenosterfontein wat vandag aan Koos en Maryke Botha behoort.

Rob sê dat dit die deel is waar die Britte deur die Boere se eerste verdedigingslyn gebreek het. In sy boek, ‘Listening for the drums’, skryf generaal Ian Hamilton dat die gaping in die Boere se verdediging op 12 Junie deur Winston Churchill, wat toe ’n jong oorlogskorrespondent was, aangedui is.


Die span, gelei deur Rob Milne op 16 Desember 2020, by fortifikasies op die Rhenosterfontein-gedeelte van Diamond Hill

Graaf
Die dag voor dit, op 11 Junie, het David Stanley William Drummond Ogilvy (1856–1900), die elfde graaf van Airlie, aan die voorpunt van sy regiment, die 12de Lansers, naby die onderkant van die rif op Rietvlei naby Morskop gesneuwel.

Hy was 44 jaar oud en sy vrou, Mabell Frances Elizabeth Gore, was saam met veldmaarskalk Roberts se vrou, Nora Henrietta Bews, toe sy die nuus van sy dood ontvang het. David is later in die militêre begraafplaas op Kleinfontein herbegrawe.


Van links na regs: Koos Botha, dr Garth Benneyworth en Rob Milne bo-op Morskop, waar die Britse aanslag op Diamond Hill begin het

Rob Milne is sedert die begin van 2020 in konstante kontak met twee van die graaf se agterkleinseuns en die kleinseun – die 13de graaf. Rob bied slagveldtoere na Kleinfontein aan en, sedert
Die Bronberger
hom verlede jaar gekontak het oor die mynbouaansoek op die slagveld, het Rob die verskansings op die Rhenosterfontein-gedeelte van die slagveld ook besoek en GPS-koördinate daarvan begin opteken.

Rob het op 15 Desember ’n Zoom-sessie met Paddy Ogilvy, agterkleinseun van die graaf, gehad. Op
16 Desember het hy Morskop en nog nuwe verskansings op Diamond Hill vir die eerste keer besoek saam met Die Bronberger, grondeienaars Koos en Maryke Botha en Hannelie en Albie van Jaarsveld, dr Garth Benneyworth, voorsitter van die Museum vir die Boererepublieke, en Maria Louise Kruger van die Nasionale Federasie van Toergidse en Affiliasies. Daarná het hy ’n samekoms van plaaslike grondeienaars toegespreek.


Dr Garth Benneyworth, links, en Colin Ross op die slagveld

Rob sê die plan is om ’n seremonie te hou waar ’n gedenkplaat op die Rhenosterfontein-gedeelte van Diamond Hill opgerig gaan word. Die geleentheid word beplan vir 11 of 12 Junie vanjaar, die 121ste herdenkingsdatum van die veldslag wat daar afgespeel het.

Dié ‘Blue Plaque’ is ’n permanente historiese gedenkteken, ’n kragtige manier om betekenisvolle plekke en ruimtes internasionaal te vereer. Dié gedenktekens, wat rond is met wit skrif op ’n blou agtergrond, help om gemeenskappe op te voed en ’n rol te speel in die bewaring van sulke plekke vir toekomstige geslagte. Só ’n teken sal ook ’n groot hulp wees om die terrein teen die aanslag van mynbou te beskerm.

 


David Stanley William Drummond Ogilvy, wat op Rhenosterfontein gesneuwel het
Foto: Wikipedia

Plaas
Dié deel van die slagveldterrein val op die plaas Rhenosterfontein, wat oorspronklik as Rhenoster Poort bekend gestaan het. Die plaas is op 5 Augustus 1841 geïnspekteer en die naam van die versoeker was W Botha, familie van die buurplaas, Kleinfontein, se Bothas oor wie ons in Oktober berig het.

Vreemd genoeg het die veldslag afgespeel op drie buurplase, wat in die 1800’s al drie aan Volksraadslede behoort het: David Adolph Michael Botha van Kleinfontein, Jacobus Marthinus Andries (Donkie) Wolmarans van Donkerhoek en Jan Francois (Frans) Schutte, wat in 1883 op Rhenosterfontein begrawe is.

Frans Schutte se verhaal begin in die Oos-Kaap. Hy is op 22 Julie 1810 in die George-distrik gebore as seun van Christiaan Ernst Schutte en Anna Margaretha Strydom, en het later in die Cradock-distrik beland vanwaar hy in Oktober 1841 na Natalia getrek het.


Rob Milne spreek inwoners op 16 Desember by Rhino Park toe

Oor die volgende aantal jare het hy die land vol getrek – van Weenen, waar hy heemraad was, tot Potchefstroom, Andries Ohrigstad (wat later Ohrigstad geword het), die plaas Doornfontein, wat die hedendaagse Bedfordview en Germiston insluit, tot by Rustenburg.

Frans en veldkornet Paul Kruger het in Februarie 1850 die eerste Kerkplaats Magaliesberg, wat Rustenburg sou word, gebou. Frans is in Augustus 1853 as ouderling van die Pretoria-gemeente verkies en het in die tweede helfte van 1854 na erf 321, Elandspoort, wat die dorp Pretoria sou word, verhuis.

Dié erf is deur MW Pretorius aan hom geskenk en is vandag op die noord-westelike hoek van Kerkplein en Kerkstraat. Hy het die erf in 1857 aan Evans en Churchill verkoop. Frans het ook erf 322 aan die noord-oostelike hoek van Kerkplein en Kerkstraat besit, wat hy in 1864 aan dr BGAD Arnoldi verkoop het.


Die ou opstal op Rhenosterfontein soos hy tot 1948 gelyk het. Dié opstal is met die veldslag deur die Britse troepe oorgeneem en as hospitaal gebruik
Foto: Chris Joubert-versameling

Kerk
Met die hulp van veldkornet Andries Van der Walt, het Frans in April 1855 begin om die eerste kerk op Kerkplein te bou. Met dié kerk se inwyding in Februarie 1857, het Frans op ’n deel van die plaas Elandspoort, waar Sunnyside vandag is, gewoon. Op 22 Julie 1875 het Frans sy deel aan JE Mears verkoop, wat dieselfde jaar die voorstad Sunnyside daar gevestig het.

Frans het ook ongeveer 14 ha van die plaas Daspoort, bekend as Sanssouci rondom Boomstraat, besit en het dit op 23 Maart 1860 aan Stephanus Schoeman verkoop. Eintlik was Boomstraat se oorspronklike naam Schuttestraat, vernoem na Frans.


Jacobus Marthinus Andries (Donkie) Wolmarans
Foto: Tian Schutte versameling
.
.
.

Frans en Martha Schutte van Rhenosterfontein se dogter, Catharina Jacoba, is met Donkerhoek se Donkie Wolmarans getroud
Foto: Tian Schutte versameling

Frans en Martha Schutte van Rhenosterfontein se seun, Daniël Egnatius, was die eerste kommissaris van polisie in die ZAR
Foto: Tian Schutte versameling

Daardie selfde jaar het Frans op Johan W Struben se skoolkomitee gedien. Op 4 Junie 1860 het hy en Andries Van der Walt Pretoria se eerste opgaardam en watervore ten bedrae van £120 voltooi.

Frans het op 2 November 1863 Pretoria se vierde landdros geword, ’n pos wat hy tot 12 Oktober 1864 beklee het. Dit was sy plig om Pretoria vanaf 19 April 1864 in ’n munisipaliteit te verander, maar dit het deur die mat geval weens ’n tekort aan fondse.

In September 1866 is Frans as Volksraadslid verkies. Hy het egter na die tweede sitting van die raad op 2 November bedank, maar is weer tot die volgende Volksraad, wat in Mei 1867 gesit het, verkies. Na sy aftrede het Frans op Rhenosterfontein gaan boer.


Op dié kaart van die slagveld wat Rob Milne opgetrek het, is Morskop regs onder met die Churchill roete die eerste pers deel bo dit en verskansings bo dit. Die rooi pennetjies bo die pers skrif is waar ’n aansoek vir silika-myne ingesit is. Die militêre begraafplaas op Kleinfontein en Boere-skanse is links bo aan die kaart aangedui. Die pad wat in die middel van die kaart loop is die R515, suid van die N4-Oos snelweg

Martha
Frans was getroud met Martha Salomina Dorothea, gebore Schoeman, die weduwee van Josephus Johannes Wolmarans, wat ’n gedeelte van Rhenosterfontein besit het. Hy was die broer van Jacobus Marthinus Andries (Donkie) Wolmarans, wat die imposante ou villa teen die Magaliesberg op Donkerhoek gebou het. Donkie was ’n Volksraadslid en het hoof van die Uitvoerende Raad van die Transvaalse Republiek geword.

Een van Frans en Martha se dogters, Catharina Jacoba Schutte, het op 26 Junie 1869 met Donkie Wolmarans getrou. Donkie het sy gedeelte van die plaas Donkerhoek op 15 Junie 1896 gekoop en het dit Wolmarans Rust gedoop.


Van links na regs is Daniël Egnatius Schutte, president Paul Kruger, sittend, en Zacharias de Beer
Foto: Tian Schutte versameling

Frans en Martha het 10 kinders gehad; ses seuns en vier dogters. Een van die seuns, Daniël Egnatius, was die eerste kommissaris van polisie in die Zuid-Afrikaansche Republiek. Hy is op 5 November 1896 in dié pos aangestel. In die Eerste Vryheidsoorlog was hy generaal PJ Joubert se adjudant.

Nog ’n seun, Christiaan Ernst, was die laaste hooflanddros van Pretoria. Hy is in 1894 aangestel as lid van die bestuur van die ‘Meisjesskool’ in Pretoria en in 1899 as rektor van die Staatsgimnasium. Sy ampstermyn as hooflanddros het gestrek van 3 November 1892 tot 5 Junie 1901 toe Pretoria deur die Britse magte oorgeneem is.


Maria Louise Kruger help Rob met die opmeet van ’n skans

Joubert
Daar is altyd vermoed dat dié seuns se ma, Martha, op Donkerhoek begrawe is, maar ’n gedeelte van haar grafsteen is vroeg in Julie 2012 deur Chris Joubert in ruie veld op Rhenosterfontein gevind, wat beteken dat sy langs haar tweede man, Frans Schutte, begrawe is. Frans is op 25 Maart 1883, ná ’n siekbed van 15 dae, op Rhenosterfontein oorlede. Martha is in November 1888 op Pienaarspoort oorlede.

Chris Joubert, vir wie Die Bronberger in 2012 besoek het ná hy Martha se grafsteen gevind het, het op ’n 540 morg gedeelte van Rhenosterfontein grootgeword. Sy ouma, Christina Joubert, se suster, Johanna Margaretha Elizabeth (Hannie), was getroud met ’n kleinseun van Frans en Martha Schutte: Nog ’n Jan Francois Schutte, wat die seun van Wessel Johannes Stephanus Phillipus Schutte was.


Rob Milne, middel, verduidelik hoe die slag verloop het. Maryke Botha staan links van hom, Albie van Jaarsveld agter hom, dan dr Garth Benneyworth, voorsitter van die Museum vir die Boererepublieke en Koos Botha heel regs

Jan was aan ’n rolstoel vasgekluister en hy en Hannie het geen kinders gehad nie. Toe Jan in 1932 oorlede is, het Hannie hulle deel van Rhenosterfontein in twee gedeel. Sy het die helfte aan haar suster Christina Joubert gegee, wat dit op haar beurt aan een van haar seuns agtergelaat het, wat dié deel van die plaas in die 1960’s verder onverdeel het.

Met Hannie se dood in 1969 het Chris se pa, Andries Joubert, die ander deel van die plaas geërf. Op sy gedeelte was die ou opstal wat in die Anglo-Boere-oorlog met die Slag van Diamond Hill as Britse hospitaal gebruik is.