Onbekend se ou winkel bring heimwee Print
News - Toeka se dae
Tuesday, 28 January 2020 14:00
Untitled Document

Die oorspronklike winkel op Onbekend is meer as 70 jaar gelede opgerig. Die gebou met sy aansig waarop netjies ‘Onbekend Alg Handelaar en Kafee’ ge-letterskilder is, staan nog op die plaas van Joyce en Pieter Krige naby Witpoort Laerskool en word bewaar, hoewel die winkel se deure finaal in 1995 gesluit is.


Die ou winkel soos hy vandag lyk
Foto: Sunette Ahlers

Joyce het die plaas met die ou winkel by haar pa, oom Chrisjan Smit, geërf. Joyce vertel dat daar vroeër jare ook ‘n slaghuisie en ‘n dokterspreekkamer was wat een keer per week deur dr Engelbrecht van Bronkhorstspruit beman is.

Onbekend se poskantoor was toe ‘n entjie van die winkel af. Dit word vertel dat die poskantoor se naam later desnoods na Welbekend verander is, oor briewe en posstukke wat daarheen gestuur is, gereeld terug by die afsender beland het, omdat die naam (Onbekend) voor die tye van poskodes, pos-sorteerders ietwat verwar het.


Joyce en Pieter Krige
Foto: Verskaf

Ouer inwoners van die gebied onthou die plaaswinkel met aangename heimwee. Dit was ‘n plek waar bekendes gereeld ontmoet en gekuier het en waar kopstukke op die stoep gepraat is. Voor die Smitte die plaas en winkel gekoop het, het dit aan Piet Horn behoort. Piet het die winkel aan ander mense verhuur.


Een van die ou advertensies van Boxer se Piet Retief-tabak, wat nog teen die muur pronk
Foto: Joyce Krige

Zakeena Loots was in die 1970’s in Witpoort Laerskool en het daagliks met die skoolbus skool toe en terug huis toe gery. Sy vertel dat dit nogal groot opwinding veroorsaak het as die bus by die ‘handelaar’ stilhou en die kinders ‘n koeldrank of ‘n pakkie skyfies kon aanskaf. Zakeena sê dit was “regtig ‘n ander tyd” van sorgelose en heerlike kinderdae.