Print
News - Toeka se dae
Tuesday, 25 August 2015 08:46
Untitled Document

Angie Kleijn

‘n Ongeletterde grafgrawer het toentertyd groot konsternasie in Pretoria se Kerkstraat-begraafplaas veroorsaak. Die grafposisies wat hy op eie houtjie rondgeskuif het, krap stories oop van ’n skeepsdrenkeling wat Kaapstad toe geswem het, Karel Marx se suster, en die man wat die Kruger-wildtuin laat werklikheid word het.

Die ding het so begin: Richard Kelsey Loveday is op 10 Julie 1910 oorlede. Toe die eksekuteur van sy boedel, Francois Louis Charles Biccard Juta, die familiegrafte wou laat omhein, het hy agtergekom dat daar onbekende mense in van die grafte begrawe is. Die familiegrafte was nommers vyf, ses, sewe, 27, 28 en 29.


Richard Kelsey Loveday
Foto: Biographical Database of Southern African Science

Korrespondensie uit die argiewe van die Pretoriase Diocesan Trustees dui aan dat Juta op
15 November 1910 by die stadsklerk navraag gedoen het oor die mense in die grafte.

Na ‘n lang briefwisseling met die begraafplaas-superintendent, stadsklerk en registrateur van die Diocesan Trustees, het Juta bykans ‘n jaar later, op 30 September 1911, ‘n antwoord van AP Field gekry.

Daar is bevind dat George Kelsey Loveday, moontlik die seun of broer van Richard Kelsey Loveday, buite die familieblok-grafte in grafnommer 25 begrawe is. In graf nommer 28 en 29 is Coenraad Jacobus Juta en sy vrou, Richard se skoonouers, begrawe.

Graf nommer vyf het leeg gestaan; in nommer ses is AWM Buller begrawe; en nommer sewe was die graf van ‘n Ingliss.


Die eerste ZAR Volksraad met Richard Kelsey Loveday heel agter, tweede van links
Foto: Geheugen van Nederland

Field het verduidelik dat graf nommer vyf in die oostelike afdeling oorkant graf nommer 25 in die westelike afdeling is, maar die ongeruimdheid is deur ‘n ongeletterde grafgrawer veroorsaak. Volgens Field kon dié ou nie lees, skryf of tel nie en het geen idee gehad hoe om grafposisies reëlmatig toe te wys of om grafte te spasieer nie.

Grafnommer 29 wes is as oorkant nommer nege oos in die grafregister aangedui, maar die grafgrawer se onreëlmatige plasing het beteken dat 29 wes oorkant sewe oos lê. Die grafgrawer se van was MacCole en hy was toe reeds sewe jaar gelede oorlede en die begraafplaas-superintendent het gesê dat dit baie moeilik was om sy woordelikse aanduidings van wie waar lê, te kon volg.

“Ek het geen gesag oor hom gehad nie en hy kon doen presies net wat hy wou, en hy het,” het Field gesê.

Die deurmekaarspul in dié grafte raak ‘n hele paar vername mense uit toeka se Pretoria.


Sir Henry Hubert Juta, regter-president van die Kaapse provinsiale afdeling vanaf 1914, en regter van die Appèlhof van 1920 tot sy aftrede
Foto: ‘Advocate’, April 2010

Coenraad
Richard Kelsey Loveday se skoonpa, Coenraad Jacobus Juta, is op 3 April 1827 gebore. Hy was die seun van Hubertus Johannes Juta en Maria Albertina, ‘n nooi Offers.

Coenraad was ‘n skeepskaptein van Nederland, wie se skip by Kaapstad op die rotse geloop het. Hy het land toe geswem, verlief geraak op ‘n Kaapse meisie, Renette Johanna Margheritha Biccard, en is nooit weer terug Holland toe nie.

Coenraad het in 1857 in Pretoria aangekom. Hy was die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) se minister van oorlogsake, het in 1877 die minister van openbare werke geword, was sekretaris van die volksraad en die hoof balju. Hy is op 8 September 1889 oorlede.


Uitgewer, Jan Carel Juta
Foto: Wikipedia

Coenraad en Renette het 10 kinders gehad. Hulle sesde kind, Francois Louis Charles Biccard Juta was die eksekuteur van Richard Kelsey Loveday se boedel; die ou wat die familiegrafte wou laat omhein, en toe agtergekom het dat daar onbekende mense in van die grafte begrawe is. Hy was in 1898 die griffier van die Hooggeregshof.

Francois se broer, Jan Carel (Calla) Juta, is op die ouderdom van 19 jaar deur Paul Kruger as Johannesburg se eerste kriminele landdros aangestel. Hy het later hooflanddros van Johannesburg geword en was die stigter van die Rand Klub.

Oorlewering wil dit hê dat Paul Kruger vir Calla gesê het dat hy ongelukkig nie as landdros aangestel kon word terwyl hy nog ongetroud is nie. Wat as hy sake moet aanhoor wat nie vir die ore van ‘n jong man geskik is nie? Calla het glo dadelik gaan vrou vat en is toe aangestel.

Calla se oom, sy pa Coenraad se broer, was die Kaapse uitgewer Jan Carel Juta.


Die kapel in die Kerkstraatse begraafplaas
Foto: eggsa

Jan Carel
Jan Carel het sy broer Coenraad Kaap toe gevolg, maar nie vir die meisies nie. Hy is knap voor sy vaart Kaap toe op 5 Junie 1853 in Trier met Louisa Marx, die sussie van filosoof Karl Marx, getroud.

Op pad Kaap toe het die nuutgetroudes by Louisa se broer, Karl, in London gaan kuier. Karl het verskeie boeke publiseer, waarvan die bekendste ‘The Communist Manifesto’ en ‘Das Kapital’ was.

Louisa is op 14 November 1821 in Trier, Duitsland gebore. Jan is op 23 Maart 1824 in Zaltbommel, Nederland gebore. Hy het regte studeer voor hy met die boekebedryf in Holland deurmekaar geraak het.

In Kaapstad het Jan by De Groote Kerk aangesluit, waar sy kinders op die ou einde gedoop is. Hy het Juta boekhandelaars en uitgewers in 1853 in Kaapstad gestig. Daar word gesê dat Jan se uitgewery as die begin van die uitgewersbedryf in Suid-Afrika gesien word.


Karl Marx
Foto: Wikipedia

Jan en Louisa het sewe kinders gehad. Sy seun, Sir Henry Hubert Juta, het regter-president van die Kaapse provinsiale afdeling geword, en in 1920 het hy regter van die Appèlhof geword. Sir Henry was ‘n Juta-outeur, nie net van regswerke nie, maar ook van kinderboeke.

Jan het vir 30 jaar aan die hoof van sy uitgewery gestaan en het in 1883 ‘n deel van sy maatskappy aan sy hoofklerke, Jacobus Cuypers en Thomas Mullins Duncan, verkoop.

Jan het verkoop omdat sy gesondheid agteruit begin gaan het. Hy is in 1884 na Engeland waar hy in Chiswick, Middlesex gaan woon het. Hy is op 8 April 1886 daar oorlede.

Louisa is ná sy dood terug Kaap toe en sy is op 3 Julie 1893 in Rondebosch oorlede.


Filosoof Karl Marx se sussie, Louise, het met Jan Carel Juta getrou
Foto: Wikipedia

Loveday
Jan se broerskind, Augusta, is met Richard Kelsey Loveday, met wie se dood ons verhaal van die Jutas en Lovedays begin het, getroud. Hy was die oudste seun van Natalse kolonis, George Loveday, en is op 4 Augustus 1854 in Natal gebore. Hy het toe hy 14 jaar oud was, ná ‘n beperkte skoolopvoeding in Pietermaritzburg, begin werk.

Richard het in 1872 vir gesondheidsredes na Pretoria getrek, waar hy by die ZAR se staatsdiens as derde klerk by die Registrateur van Aktes aangesluit het.

Hy het Henry Rider Haggard in 1878 as meester en registrateur van die Hooggeregshof opgevolg en was ook belastingmeester.

Richard is op 10 Februarie 1880 in St Alban’s Katedraal, Pretoria met Augusta Wilhelmina Magdelene Juta getroud. Hulle het ses kinders gehad en het in Schoemanstraat tussen Van der Walt- en Andriesstraat gewoon. Augusta was die oudste dogter van Coenraad Jacobus Juta.


JC Juta & Co boekwinkel in Walestraat, Kaapstad

Beleg
Met die beleg van Pretoria van 1880 tot 1881 was Richard kaptein van die vrywilligers, Pretoria Rifles, in die “Convent Lager”. Sy dogter, Celine, is in dié tyd gebore en sy is na Mother Margaret Mary (Celine Jolivet) van die Loreto Convent, wat ‘n paar weke vantevore oorlede is, vernoem.

Ná die beleg van Pretoria het Richard sy werk verloor en opmetings begin doen, alhoewel hy nie ‘n gekwalifiseerde landmeter was nie. In 1883 het hy die kaart van die Lydenburgse goudvelde, wat in London gepubliseer is, opgetrek. Daarna is hy in 1885 as genoot van die Koninklike Geografiese Vereniging verkies.


Wapen van die Zuid-Afrikaansche Republiek op ‘n grafsteen in die Kerkstraatse begraafplaas
Foto: eggsa

Richard was ook in 1885 een van die stigterslede van die Pretoriase Klub en was klub-voorsitter van 1890 tot 1895. Van 1891 tot 1900 het hy Barberton in die eerste volksraad verteenwoordig, alhoewel hy nooit daar gewoon het nie.

In die volksraad het Richard aangedring op die hervorming van die land se administrasie en die bevordering van opvoeding. Hy het die regering se dinamiet-konsessies teengestaan en Paul Kruger se plan om ‘n gebied daar te stel om wilde diere te beskerm, ondersteun.


Loreto Convent, Pretoria in 1900
Foto: www.flickr.com

Wildtuin
In 1895 is Richard se mosie dat die gebied tussen die Krokodilrivier in die suide en die Sabierivier in die noorde, tussen die Lebomboberge in die ooste en Drakensberge in die weste, opsy gesit moet word vir ‘n wildtuin, deur die volksraad aanvaar. Dit het gelei tot die proklamasie van die Sabie Wildtuin, wat in 1898 die Kruger Nasionale Park geword het.

In 1897 het Paul Kruger Richard op die tydelike bestuursraad van Pretoria aangestel, ‘n pos wat hy tot die okkupasie van Pretoria in Junie 1900 beklee het. Richard het op die finansiële kommissie en die sanitêre kommissie gedien. In 1898 was hy lid van die Pretoria Verlichting Maatschappij en het ‘n aandeel in die monopolie vir watervoorsiening gehad.

Ná die Britse besetting van Pretoria het die militêre goewerneur hom as waarnemende burgemeester en voorsitter van die tydelike stadsbestuur aangestel.


‘n Monument in die Kerkstraatse begraafplaas wat diegene gedenk wie se grafstene beskadig is
Foto: eggsa

Vanaf 1903 was Richard lid van die Wetgewende Raad van die Transvaalse Kolonie. Toe verteenwoordigende regering in 1907 ingestel is, is hy verkies om Barberton te verteenwoordig.

Richard is ook in November 1903 tot die stadsraad verkies en het daarop gedien tot sy dood op 10 Julie 1910 in Pretoria. Lovedaystraat in Muckleneuk is na hom vernoem.