Ons onthou die jare toet - 'n Dosyn 'toekas' uit ons sesde jaar' Print
News - Toeka se dae
Thursday, 18 September 2008 01:26
Untitled Document

‘Toeka se dae’ is een van die gewildste afdelings in Die Bronberger. Hier bied ons ’n terugblik oor die ‘toekas’ wat in ons sesde jaar die lig gesien het – van die eerste sirkusse wat Pretoria in die 1800’s besoek het tot ’n openbare teregstelling, van die spog-villa uit die 1800’s wat nou nog trots in Donkerhoek staan tot Cullinan se sinkhuisies en Willem Prinsloo se historiese werf.

Narre en ’n troetelleeu
In November 2007 vertel ons van die eerste sirkusse wat Pretoria besoek het. In die laat 1800’s was dit Fillis se Sirkus, bedryf deur Frank Fillis wat bygestaan is deur sy vrou, bekend as Madame Eliza of Lazel, en sy drie kinders, Frank, Adele en Cecil. Van 1905 af het Pagel se Sirkus hier begin toer, onder eienaarskap van Herr William Pagel en sy streng Yorkshire-vrou, Mary Dingdale, wat oral met haar troetel-leeu rondgestap het. Later kom die Boswell Broers Sirkus, ’n familie wat sedert die 1800’s in Engeland se sirkusse doenig was. ’n Afstammeling van dié Boswells, wat sy bedryf Brian se Sirkus noem, besoek Pretoria vandag nog.

Honderd jaar later
’n Eeu gelede was die Bronberggebied nog yl bevolk met net ’n opstal hier en daar. Wêreldnuus het ons mense maar stadig bereik en min opstal-bewoners sou dadelik weet van stemregjuffers se optogte daardie Desember of van die paniek in die Amerikaanse aandelemark wat banke laat vou het. In Desember 2007 het ons vertel van ’n paar gebeure uit Desember 1907 wat ’n honderd jaar later nog onthou word.

Lang Piet se diep spore
In die middel tot laat 1800’s het Lang Piet Marais, ’n oom van die digter Eugene Marais, se naam voortdurend in die koerante verskyn. In Januarie het ons terug gekyk na die doen en late van dié langste man in Pretoria. Hy was een van die veroordeeldes wat met die burgeroorlog in 1863 bedags in die blok, wat in die koelte van ’n groot seringboom agter die Goewermentsgebou gestaan het, opgesluit is. Hy het die lang ure van die dagverkort met sy vioolspel. Lang Piet het in ’n Volksraadsverkiesing met vyf stemme verloor; ’n mynmaatskappy gestig en later direkteur van die Lydenburg Gold Prospecting Co en aandeelhouer in Transvaal Mining geword.

Openbare teregstelling
In Februarie vertel ons van die enigste openbare teregstelling wat in Pretoria gehou is, so ver bekend. Die Bapedi kaptein, Mampuru, is in November 1883 ten aanskoue van mede-gevangenis tereggestel. Hy het sy halfbroer, Sekoekoenis, hoofman van die Bapedi, vermoor, geweier om hom aan die Transvaal se owerheid te onderwerp en by ’n naburige stam gaan skuiling soek. Generaal Piet Joubert het in Oktober 1882 twee duisend man opgekommandeer, die skuilplek omsingel en die voortvlugtige kapteins uitgehonger. Teen die winter van 1883 het albei kapteins oorgegee.

Hy herdoop kamera
Al ooit gehoor van ’n fotograaf wat die kamera herdoop het na homself? In 1878 kondig Henri Ferdinand Gros, die eerste fotograaf wat sy eie ateljee in Pretoria gevestig het, aan dat hy nie ’n kamera gebruik nie, maar ’n ‘Grososcope’. In April vertel ons dat Gros die eerste fotograaf was wat ’n permanente ateljee in Pretoria kom vestig het. Hy het ’n erf op die suidwestelike hoek van Kerk- en Van der Waltstraat gekoop in 1877. In 1878 adverteer hy as volg: “The South African Photographic Studio is now open”. Dit was een van die eerste dubbelverdiepinggeboue in Pretoria. Gros het ’n belangrike deel van Pretoria se geskiedenis met die Eerste Vryheidsoorlog vasgelê. Dié foto’s is later gebind in die versamelstuk genaamd ’news of the Camp’ (1880-81).

Sesjarige sien goudontdekking
In Mei berig ons dat tannie Willa Dreyer, die Laerskool Witpoort se oudste oorlewende leerling in ons omgewing, se pa gesien het hoe goud aan die Witwatersrand ontdek is. Wyle Hans van Staden, wat later die plaas Onbekend gekoop het, was ’n skaapwagtertjie wat in 1886 op sesjarige ouderdom nuuskierig saamgedraf het toe die eerste goud ontdek is op die plaas Langlaagte. Oom Hans het jare na dié gebeurtenis vir koerante vertel dat die ontdekker nie die veelgeroemde George Harrison was nie, maar ’n boer.

Waar’s Pretoria se goud?
Wie sou nou kon raai dat goud in 1875 in Pretoria ontdek is. In Mei vertel ons dat die 14-jarige Bernard Meintjes, seun van JJ Meintjes, Registrateur van Akte, ’n klippie met ’n geel stippel opgetel het wat groot opgewondenheid in toeka se Pretoria veroorsaak het. Dié klippie het gelei na verdere ontdekkings van goud in Pretoria wat nooit in die geskiedenisboeke opgeteken is nie. Pretorianers het ’n openbare vergadering gehou en ’n komitee gekies, met Frank Zeiler as sekretaris, om geld in te samel wat die prospekteerdery sou finansier. Die enigste verdere verwysing na Pretoria se goud was op 9 Mei 1877 in ’n koerantberig oor die slegte toestand van die paaie. Dié berig sê dat daar heelwat diep gate is op die plekke waar vir ’n paar jaar hard na goud gesoek is.

Donkerhoek se villa
In Junie vertel ons van ’n swierige ou villa uit die 1800’s wat teen groot moeite en koste deur ’n destydse lid van Paul Kruger se volksraad, JMA (Donkie) Wolmarans gebou is. Die trotse ou opstal staan vandag steeds teen die hange van die Magaliesberg in Donkerhoek. In 1916 is die gedeelte van die plaas met die huis op deur’n seun van Donkie, Jacobus Wolmarans, aan ’n sakevennoot van Sammy Marks, ene J Levin, verkoop. Die huis en grond is in 1924 deur JB Wouda gekoop en sedertdien woon sy nageslagte nog daar. JB Wouda was Dave Brink, wat sy hele lewe nog daar bly, se oupa. ’n Agterkleinkind, Ian McDoogle en sy vrou Suzette, bly ook in die ou villa en is besig om die huis te restoureer.

Tuks gebore in koerantman se huis
Vir diegene wat nog altyd gewonder het waar die Universiteit van Pretoria se bynaam, Tuks, vandaan kom, is die raaisel met vanjaar se eeufeesviering opgelos. In Julie vertel ons dat die universiteit gegroei het uit die Pretoria-sentrum van die Transvaal Universiteitskollege (TUK) wat in 1908 sy deure vir studente geopen het in Kya Rosa, ’n vier-slaapkamer huis in Skinnerstraat. Dié huis is laat bou deur ’n windmaker joernalis, Leo Weinthal, redakteur van die destydse ‘The Press’ en stigter van ‘The Pretoria News’. Hy was bevriend met President Paul Kruger, JB Robinson, die Randse myn magnaat, entrepreneur Sammy Marks, beeldhouer Anton van Wouw en finansierder AH Nellmapius. Kya Rosa is ná die Anglo-Boere-oorlog in 1902 deur die nuwe koloniale administrasie oorgeneem en is vir opvoedkundige doeleindes geoormerk. Die huis is in die mid 1980’s na die universiteit se hoofkampus
in Hatfield verskuif.

Suikerbossiestraat se sinkhuise
Cullinan word gekenmerk deur sy sink- en sandsteenhuise uit die vroeë 1900’s. Alle historiese geboue in dié dorp is as nasionale erfenis verklaar. In Julie het ons ’n draai gaan maak by die inwoners van Suikerbossiestraat se sinkhuise en gehoor dat die myn in ongeveer 1907 vir sy amptenare besonderse sinkhuise in Mountain-rylaan, of Suikerbossiestraat soos dit vandag bekend staan, gebou het. Hulle word nog almal bewoon. Ons het vertel dat Suikerbossiestraat nommer 10 die huis is waar die destydse TV-reeks Mattewis en Meraai geskiet is. Die stasietjie waar almal op-en-afgeklim het, was sommer tydelik gebou van hout op die treinspoor na die myn wat ongeveer 25 tree voor die huis is, en vandag nog in myngebruik is.

Union Jack gekis en begrawe
Vreemder verskynsels as ’n kamma-begrafnis vir ’n vlag het seker al in Pretoria gebeur. Maar as dié begrafnis knap op die hakke van ’n skynhofsaak, wat sy oorsprong in ’n hotel-kroeg blyk te gehad het, volg . . . wel, dan is dit geen wonder dat ons bykans 130 jaar daarna nog in verwondering na die foto van die kamma-grafsteen staar nie. In Augustus vertel ons dat Pretoria se Engelse onderdane só die josie in was toe Brittanje, ná die slag van Majuba, Transvaal teruggee aan die Boere, dat hulle formeel ’n begrafnis vir die Union Jack gehou het.

Willem Prinsloo se werf
In Augustus het ons vertel dat oud en jonk jaarliks saamtrek op die plaas van die destydse raakvatboer, Willem (Wragtag) Prinsloo, vir ’n plaasfees. Willem het in 1896, die noordelike deel van die plaas Elandsfontein gekoop. Dit is op ’n koppie op dié plaas waar Thomas Cullinan ’n ryk vulkaniese pyp kimberliet vol diamante ontdek het. Hy het The Premier Syndicate Limited in November 1902 geregistreer, wat kort daarna The Premier (Transvaal) Diamond Mining Company geword het. Vandag word die geskiedkundige plaaswerf, bekend as die Willem Prinsloo Landboumuseum, en die diamantmyn, bekend as Cullinan Diamond Mine, steeds bedryf en as gerekende kultuurskatte deur menige entoesiastiese toeriste besoek.