Hendrik sy tyd ver vooruit met eerste landgoed-ontwikkeling Print
News - Toeka se dae
Wednesday, 26 September 2012 01:03
Untitled Document

Al ooit gewonder waar die eerste landgoedontwikkeling in Pretoria was? Die storie van dié projek vat ons terug na die laat 1920’s en is vervleg met die wel en weë van ‘n baie onkonvensionele kunstenaar-bouer.

Hendrik Horstmanshof was bekend vir sy muurskildering, betonreliëfs en handgeskilderde loodglasvensters. Hy het selfs meubels vir sy huise gemaak en sy groepbehuising is gekenmerk deur spuitfonteine en paadjies in tuine wat hy self uitgelê het en waarvoor hy beligtingstelsels ontwerp het.
Trianon, wat gou Tiny Town in die volksmond geword het, met sy 14 huise is vandag nog te siene teen die voet van Meintjeskop, langs die Uniegeboue. Dié huise was in die “Arts and Crafts” styl gebou, soos die ou plaashuis op die historiese Wolfaardt melkplaas in ons kontrei.


Dié gastehuis in Parkstraat, Arcadia wat in 1929 deur Hendrik gebou is, is as ‘n provinsiale erfenis-perseel verklaar
Foto: B’Guest House

Ongelukkig is die huis langs Garstfonteinweg-verlenging destyds gesloop om plek te maak vir Woodhill Gholf Landgoed. Hendrik het sy kunstenaarstempel op die Wolfaardt-huis afgedruk deur onder andere self die tafereeltjies van bosveldtonele op die huis se gewels te teken.

Baie van Hendrik se skilderagtige huise in Arcadia, Clydesdale, Brooklyn en Colbyn is gesloop. Van die bekendste bestaande voorbeelde van sy handewerk is die woonstelgebou Orange Court, op die hoek van Hamilton- en Vermeulenstraat, en die sonderlinge Tiny Town in Kerkstraat, wat in 2009 ná jare se verval, gerestoureer is.


Hendrik Horstmanshof op sy 80ste verjaarsdag
Foto: Mev C Meiring

Hendrik
Hendrik Horstmanshof is op 15 September 1886 in Alkmaar, Nederland gebore. Hy was besonder kunstig en wou bitter graag in dié rigting studeer. Sy pa, ‘n welvarende sakeman, was die eienaar van ‘n gevestigde firma wat stukadoorswerk, fyn versiering en bepleistering van kolomme en plafonne, gedoen het.

Met sy eie spaargeld het Hendrik daarin geslaag om 'n jaar lank kunsskilder aan die Koninklike Akademie in Amsterdam te studeer, maar hy moes sy studies laat vaar toe sy pa onverwags dood is. Daarna moes hy as oudste seun, teen sy sin, sy aandag voltyds aan die familie-onderneming wy.
Onder Hendrik se bestuur het dié onderneming bykans ondergegaan, omdat hy aanhou skilder het, selfs uitgestal het in 1911, en die bestuur van die onderneming verwaarloos het.


Gekleurde loodglasvensters in die Parkstraat-huis wat Hendrik gebou het
Foto: B’Guest House

Mense het gedink dat Hendrik nie heeltemal reg in sy kop is nie. Hy het byvoorbeeld ‘n bootjie met ‘n beton-bodem ontwerp. Toe die boot te water gelaat is, het almal staan en wag dat hy dadelik moet sink. Die boot het egter aanhou dryf en dit het Hendrik en sy vrou, Agaath Hoorn, se eerste huwelikstuiste geword. Hy is in 1913 met Agaath getroud.

Hendrik was ‘n rustelose siel en toe vrede ná die Eerste Wêreldoorlog verklaar is, het hy dadelik na Suid-Afrika geïmmigreer. Sy vrou en twee kinders het in Augustus 1921 gevolg en die gesin het in Capital Park gewoon.


Dié 1940’s plaasopstal op die Wolfaardt Landgoed, wat gesloop is om plek te maak vir Woodhill Gholf Landgoed, is ontwerp en gebou deur Hendrik wat self die tafereeltjies van bosveldtonele op die huis se gewels geteken het
Foto: Anton Jansen

Pleisteraar
Hendrik het as pleisteraar en timmerman in die boubedryf begin werk en het argitektuur uit 'n boek wat hy uit Holland bestel het, bestudeer. In 1923 het hy genoeg geld gespaar en, met die hulp van een arbeider, het hy sy eerste huis in Jorissenstraat, Sunnyside gebou.

Alle teëls en vensters in dié huis is deur die berugte haelstorm van 1923 verwoes en Hendrik moes van voor af begin. Nadat die huis voltooi is, het hy hom verkoop en ‘n nuwe huis in dieselfde straat gebou wat hy ook bykans dadelik verkoop het.

Dit is in dié tyd wat hy tot middernag sit en lees het in sy argitektuurboek en selfs aan ‘n kompetisie vir die ontwerp van ‘n nuwe stadsaal vir Pretoria deelgeneem het. Sy ontwerp het die meeste stemme ontvang, maar omdat hy nie ‘n argitek was nie is die prys nie aan hom toegeken nie.

Hendrik was 'n selfgeleerde argitektuur-vakman en nie ‘n geregistreerde lid van ‘n instituut of professionele liggaam nie. Sy voorliefde vir onkonvensionele idees het hom glo dikwels in die moeilikheid laat beland by boukontrakteurs en die owerhede.


Trianon se sentrale fontein in die 1930’s
Foto: Artefacts

Reputasie
Hy het in die twintigerjare egter ‘n reputasie begin opbou as ‘n kontrakteur wat gesorg het vir gekleurde loodglasvensters aan ingangsdeure en Delft teëltjies rondom vuurherde. In ‘n era waarin strak en oninteressante burgerlike huisies met ‘n voordeur in die middel en twee vensters weerskante daarvan opgerig is, het Hendrik skilderagtige kunswerke in die “Arts and Crafts”-styl, waarvan daar min voorbeelde in Pretoria is, gebou.

Die meubels wat hy spesifiek vir elke huis ontwerp het, het sy vrou naderhand moedeloos gehad. Elke keer as een van hulle huise verkoop is, moes die gesin weereens sonder meubels trek.
Tuinontwerp het ook deel uitgemaak van die bou van elke huis en Hendrik het paadjies en spuitfonteine, sogenaamde in situe ciment fondue fokuspunte, gebruik.

In 1928 het hy die huis in Parkstraat 700 begin bou, een van die min Horstmanshof-huise wat in sy oorspronklike vorm bewaar gebly het. Die huis spog vandag nog met die gebrandskilderde inlas met blommotief op die venster.

Hendrik se huise het handgemaakte trappe gehad, hoë dakke van leiklip of houtblokkies, muurskildering, die tipiese betonreliëfs wat hy self gemaak het en loodglasvensters met interessante vorms. Sy gebruik van ruimtes was onvoorspelbaar, en die kenners sê dat hy woonbare karakters geskep het met min skadu, goeie energiebesparing en omgewingsvriendelikheid.


Hendrik Horstmanshof in die binnehof van Tiny Town (Trianon) in 1935
Foto: Mev C Meiring

Trianon
In 1929 het Hendrik en ‘n vennoot ‘n stuk grond langs Kerkstraat gekoop en in die 1930’s begin om Trianon te bou. Dit is vernoem na Grand Trianon, ‘n paleis in die tuin van Versailles, of na Petit Trianon langsaan die tuin. In die volksmond het Trianon gou Tiny Town geword.

Hendrik het probeer om ‘n landelike atmosfeer te skep deur die huise rondom vywers, wat nou sirkels met plante is, klipstapels en bruggies, struike en plante met elektriese beligting wat hyself ontwerp het, te plaas.

Hy het ‘n sentrale warmwatervoorsiening, wat met steenkool gestook is, in die noord-oostelike hoek van die perseel opgerig. Van hier af is elke huis met warm water voorsien. Die Horstmanshof-gesin het self vir vier jaar in Trianon gewoon.

Hierna volg die Orange Court woonstelblok, op die hoek van Hamilton- en Vermeulenstraat, wat vandag steeds bestaan. Beide Orange Court en Trianon is hoefysteruitlegte van wooneenhede wat simmetries om ‘n binnehof of tuin gebou is. Dié meerdoelige half-openbare ruimte het die oorgang vanaf openbare straat na private woning gevorm.


Een van die nuut gerestoureerde huise in Tiny Town
Foto: Nicholas Clarke

Depressie
In dié tyd het die Groot Depressie van die dertigerjare egter begin inskop. Daar is ook ‘n reël ingestel dat kontrakteurs vakleerlinge moet inneem as hulle regeringskontrakte wou kry. Hendrik het ‘n tender ingedien en het ‘n kontrak in Kerkstraat-wes gekry wat hom laat bankrot speel het.

Hy het egter van voor af begin en, met die oog op die daarstel van Yskor, het hy van 1935 tot 1937 ‘n kompleks soortgelyk aan Orange Court, genaamd Mitchell’s Court, in Mitchellstraat ontwikkel.

Dit is opgevolg met die konstruksie van die Metro Hotel in 1937, wat hom weereens laat bankrot speel het. Van 1939 tot 1940 het hy vir homself ‘n huis in Uvongo gebou, wat hy redelik gou weer verkoop het.

Daarna was Hendrik voltyds besig met sy kuns en het met ‘n karavaan na Suid-Wes en Mosambiek getoer voor hy in Kaapstad gaan aftree het. Hy is op 8 April 1974 in Kaapstad oorlede en is in die Plumstead begraafplaas begrawe.


Hendrik se ontwerp vir ‘n nuwe stadsaal vir Pretoria het destyds die meeste stemme ontvang, maar omdat hy nie ‘n argitek was nie is die prys nie aan hom toegeken nie
Skets: Artefacts