Boere-waaghals voor vuurpeloton oor ontvoeringsplan Print
News - Toeka se dae
Monday, 17 October 2011 08:03
Untitled Document

Hans Cordua is nie ‘n naam wat jy sommer in enige geskiedenisboek sal raaklees nie. Tog kon die Tweede Vryheidsoorlog baie anders afgeloop het as Hans se plan gewerk het. Hy wou lord Roberts ontvoer, hom as gyselaar aanhou en die Britte dreig dat hy Roberts sou vermoor as die Britse troepe nie uit Suid-Afrika onttrek word nie.

Dié idealistiese 23-jarige was 'n vrywilliger-stryder van Duitse herkoms. Hy het die eerste Boer geword wat in die Tweede Vryheidsoorlog deur die Britte tot dood veroordeel is en is deur ‘n vuurpeloton in die tuin van die Pretoriase tronk doodgeskiet.


Dié skildery deur Richard Caton Woodville se titel is ‘Lord Roberts – Entry into Pretoria on 5th June 1900’

Hans se ontvoeringsplan sou begin deur 'n klompie geboue in die weste van Pretoria aan die brand te steek. Sy gewapende helpers sou in die omgewing van veldmaarskalk lord Frederick Sleigh Roberts, opperbevelhebber van die Britse magte in Suid-Afrika, se woning wegkruip.

In die harwar wat die brand sou veroorsaak, sou hulle op die huis toesak en die bejaarde Roberts gevange neem. Hy sou dan uit die stad gesmokkel word na die naaste Boerekommando aan wie hy uitgelewer sou word.

Sou Hans se plan kon werk? Voor iemand kon uitvind, is Hans verraai. Sommige bronne sê dat hy deur ‘n Boerebevelvoerder verraai is, ander dat hy in ‘n strik getrap het wat deur ‘n voormalige Britse geheime agent gestel is en nog ander dat Hans bloot te veel in die kroeg oor sy plan gepraat het.


‘n Poskaart wat gemaak is van Hans Cordua se teregstelling in 1900. Die opskrif is: “Heil und Sieg den Boeren!”
Foto: www.corduan.com

Hamburg  
Hans is op 25 September 1876 in Hamburg gebore. Hy was die seun van Otto CWF Cordua en Mathilde Catharina Julia Vorwald. Hy het ‘n ouer broer, Otto, gehad en ‘n jonger sussie, Charlotte Margarethe.  

Hy het in 1896, drie jaar voor die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog, na die ou Transvaal geïmmigreer. Toe die oorlog in 1899 uitbreek, het hy as luitenant by die Staatsartillerie aangesluit.

Vir omtrent ‘n jaar het hy as offisier in die Boeremagte geveg, maar toe Roberts Pretoria op 5 Junie 1900 binneval, gee Hans hom skielik oor, lê die neutraliteitseed af en woon met ‘n pasboek in Pretoria. Daar word vermoed dat hy tot dié stap oorgegaan het omdat hy 'n Boerespioen was. Slegs een maand ná sy neutraliteitseed kom hy met sy plan om die oorlog te beëindig, vorendag.

Dit is net hier waar die bronne van mekaar begin verskil. Sekere bronne noem dat die eerste stap in Hans se plan was om hom as vrywilliger by die Britse weermag aan te sluit. Verbasend genoeg het die Britte hom in hul midde verwelkom en hom van 'n Britse kakie-uniform voorsien.


‘n Britse kenteken gemaak om die inname van Pretoria in Junie 1900 te herdenk

Gano
Ander bronne sê dat Hans oënskynlik ‘n neutrale Pretorianer gebly het, en sy Britse uniform en vrypas by 'n Spanjaard, ene Gano wat gesê het hy is ‘n Boerespioen in Britse diens, gekry het.
Gano was 'n voormalige Britse geheime agent wat weens wangedrag ontslaan is. Hy wou glo die ontvoeringsplan aan die gang sit en Hans dan verraai sodat sy eie naam by die Britte in ere herstel kon word.

Tog is daar ook bronne wat sê dat Hans dalk deur die Boeremagte verraai is. Volgens oorlewering was generaal Louis Botha en van die ander Boere-generaals bewus van sy plan. Hans was inderdaad in kontak met die Pretoriase spioenasienetwerk, want minstens honderd voormalige Transvaalse burgers en polisiemanne wat ná die Britse inval as nie-vegtendes in Pretoria gewoon het, is saam met hom in hegtenis geneem. Hulle is almal na Ceylon verban. Hans was die enigste een wat ter dood veroordeel is.


Hans Cordua
Foto: www.fotoe.com

Gevange
Hans was in Britse uniform toe die Britse militêre polisie hom gevange geneem het en hy het ‘n gebiedskaart by hom gehad waarop die hoofkwartier van die opperbevel aangedui was, asook 'n plan van die woning waar Roberts tuisgegaan het.

Hans het op 21 Augustus 1900 voor ‘n Britse krygshof, wat in die Raadsaal gehou is, verskyn en is van drie oortredinge aangekla: dat hy onder valse voorwendsels die uniform van ‘n Britse soldaat bekom het; dat hy die neutraliteitseed en paroolvoorwaardes, wat hom toegelaat het om vrylik rond te beweeg, verbreek het; en dat hy beplan het om ‘n sekere Britse offisier te ontvoer.

Hy is op al drie aanklagte skuldig bevind en op elkeen tot die dood veroordeel. Kaptein Borchard, die ampswag by die hof, het later vertel dat Hans baie braaf was. Met sy verhoor het hy geen emosie getoon nie en het fier en regop sy vonnis aangehoor. In ‘n laaste brief het hy geskryf dat hy regverdig verhoor is.


Die omslag van die boek ‘Innocent Blood – Executions during the Anglo-Boer War’. Dit is maar net een van die boeke wat geskryf is oor teregstellings in die oorlog

Blinddoek
Die vonnis is drie dae later uitgevoer. Hans is geblinddoek en op ‘n stoel sitgemaak, maar is op sy versoek nie vasgemaak nie. Hy is op 24 Augustus 1900 in die tuin van die Pretoriase tronk deur 'n vuurpeloton doodgeskiet en daar begrawe.

Dié teregstelling het ‘n internasionale skandaal geword en die Duitsers het dit as propagandamiddel teen die Britte gebruik. Die beste voorbeeld daarvan is die poskaart wat hulle laat druk het van Hans se teregstelling.

Regskenners het gesê dat Hans waarskynlik nie ter dood veroordeel is vir sy plan om Roberts te ontvoer nie. Blykbaar wou die Britte ‘n voorbeeld maak van iemand, omdat die verbreking van die neutraliteitseed en paroolvoorwaardes algemeen begin word het in Pretoria.

‘n Nuwe en strenger proklamasie van Roberts het bewys dat die Britse bevelvoerder geduld begin verloor het met die massa mans wat die neutraliteitseed die een dag aflê en die volgende dag teen die Britte in die veld veg. Hulle het net voor Hans se teregstelling glo nege sulke getekende parool-passe in ‘n gesneuwelde soldaat se sak gevind.

Hans Cordua se oorskot is later in die ou kerkhof in Kerkstraat-Wes herbegrawe. Die inskripsie op sy eenvoudige grafsteen lui: Hans Cordua. Gebore 25 September 1876. Sterf op 24 August 1900.


Die Britse veldmaarskalk lord Frederick Sleigh Roberts
Foto: Uit HW Wilson se boek ‘With the Flag to Pretoria’