Donkerhoek-sentrum bring lig in gesinne se lewens Print
News - Ons Mense
Friday, 19 February 2021 17:49
Untitled Document

In die tyd van die Covid-pandemie kry baie gesinne met skoolgaande kinders swaar, veral dié wat kinders met spesiale behoeftes het. In Donkerhoek is die Dagbreek Ontwikkelingsentrum juis op die been gebring om lig in gesinne se lewens te bring; om hoop te gee in ’n tyd van donkerte.

Estelle Bekker, wat aan die stuur van sake staan, vertel dat die sentrum ontstaan het omdat sy en haar man, Hennie, vier kinders het, waarvan drie met uitdagings gebore is. Hulle eerste seun, Jaco, is by geboorte as ‘onopvoedbaar’ gediagnoseer. Hy kon nie hoor, loop of praat nie en het epilepsie gehad. Jaco is op 18 jaar ná ’n epileptiese aanval oorlede.


Van links na regs: Manie van Heerden, voorsitter van die trust; Estelle Bekker, hoof; en
Hennie Bekker, haar man
Foto’s: Verskaf

Estelle het Jaco na Pathways op die Rietfontein-hoewes geneem en sy het toe vir 10 jaar daar skoolgegee. “Die probleem is dat dié onderrig in Engels is. So ’n kind het klaar ’n agterstand en om hom nou in ’n taal, wat nie sy moedertaal is nie, te probeer leer, maak dinge net onnodig moeilik,” sê Estelle.

Estelle en haar dogter, Heste Bekker, het die sentrum in April 2019 op hulle Donkerhoek-hoewe begin, min wetende dat die struktuur wat hulle skep juis in grendeltyd soveel vir omliggende ouers gaan beteken. Dit het ’n plek geword waarheen kinders vir ’n uitstappie gestuur kan word en waar tuisskolers sosialisering in ’n gestruktureerde program in Afrikaans kan ervaar.


Die bale is ’n gunsteling speelplek vir Mathys Winter, voltydse leerling,
en Willem van Heerden, ’n maatjie

Tog is dit die finansiële impak van die pandemie wat die sentrum nou laat swaar trek. Die Dagbreek-sentrum dra sy eie finansiële laste en is afhanklik van skenkings en ouers se bydrae. Hulle ontvang geen regeringsubsidies nie. Weens die ekonomiese toestande wat Covid te weeg gebring het, het die sentrum se inkomste drasties verminder en die impak is reusagtig.

’n Groep mense in Nederland het van Dagbreek te hore gekom en ingespring om te help fondse insamel. Hulle het die veldtog onder doTerra Healing Hands se aandag gebring en tot einde Februarie word elke rand wat ingesamel word, verdubbel. Gaan na www.doterrahealinghands.org en kies Dagbreek of soek Dagbreek Ontwikkelingsentrum op Facebook en volg die direkte skakel na die fondsinsamelingsprojek.


Mathys Winter gooi die saailinge vir die groentetuin nat

Dagbreek is vir kinders vanaf skoolgaande ouderdom tot jong volwassenes en fokus op geletterheid, gesyferdheid en om kinders te leer lees. Estelle sê dat sy na die individu kyk om te sien waar aanleg en belangstelling lê. “Een meisie wou leer sweis; ’n ander een wou brei; baie hou van sementmeng,” sê Estelle.

Kinders werk in hulle eie groentetuin, wat van saad gekweek word, en hulle maak self middagete met dié groente. Hulle kan perdry, op bale speel en by die plaaslewe betrokke wees. Elke tweede Vrydag is daar ’n kuierdag, waar diegene wat nie in die sentrum is nie aan dinge soos ’n avontuurjag, waar hulle leer spoorsny en teikenskiet, kan deelneem. Hulle doen ook ritme-terapie deur djembe-tromme te speel en kry lyndans-klasse.


Kendré Scheepers, ’n gereelde besoeker, skep water vir die tuin

Estelle sê haar visie is dat kinders met spesiale behoeftes gehelp word om sinvol te lewe, vaardighede aan te leer en te sosialiseer. “Jy hoef nie perfek te wees om die lewe te geniet nie,” sê sy.
Vir meer inligting bel Estelle by 082-336-6834.