Lag saam en kry weer lus vir die lewe Print
News - Ons Mense
Tuesday, 23 April 2019 12:52
Untitled Document

“Dis só belangrik om te sosialiseer in ons samelewing, in ’n tyd waar ’n mens vasgevang kan word in jou eie huis en jou lus vir leer en die lewe verloor.”

So sê Don Roos, stigter van die G6 gespreksgroep vir afgetredenes in Die Wilgers. Don, saam met ’n oorspronklike groepie van ses vriende, het 21 jaar gelede besluit om eenmaal per maand bymekaar te kom en oor nuwe onderwerpe te gesels.

Die G6 gespreksgroep is gegrond op al die G’s waaraan jy kan dink, soos gee, gawe, gesindheid, gaafheid, geleerdheid, giggel en geniet. Don Roos en Albert Cruywagen het al verskeie kere oor die radio en televisie gepraat oor dié groeigroep. In Die Bronberger se Januarie-uitgawe het Albert lesers uitgenooi om die groep se Maart-byeenkoms by te woon. “As jy soggens beskikbaar is en ook so ’n groep wil stig, is jy welkom om te kom afkyk by ons op Maandag 11 Maart of Dinsdag
12 Maart van 9 tot 10 vm,” het hy gesê.

Dié groep het nie ‘n agenda nie, hou nie ‘n teenwoordigheidslys nie, betaal nie ledegeld nie en dis onnodig om verskoning te maak as jy nie kan opdaag nie. Albert sê dat hulle oor letterlik en figuurlik enigiets onder die son gesels. Daar is nie taboe-onderwerpe nie, maar hulle is versigtig vir politiek en religie.


Don Roos
Foto: Danielle Garrett

Don, wat by onderwys en opleiding betrokke was, het al ‘n hele paar gesprekke oor die kwessie van sosialisering gehad. “Dis ongelooflik wat die konsep rondom sosialisering vir ’n mens se geestesgesondheid kan beteken,” sê hy.

Hy verduidelik dat sosialisering die manier is waarop mense met ander mense en in hulle omgewing omgaan en sin aan hierdie interaksie verleen. “Kyk ‘n mens na die geskiedenis van die mens is dit opvallend dat vooruitgang direk met sosialisering te make het. Afsondering is dan ook deur die eeue as straf gebruik, terwyl gesonde sosialisering duidelik verband hou met aanvaarding, gesondheid, sukses en geluk.”

Don sê navorsing het bevind dat mense in groepe drie keer meer lag as ander wat meestal alleen is.

Om gelukkig te voel en te lag bevorder die afskeiding van endorfiene, ‘n hormoon wat pyn en spanning verlig, ‘n gevoel van veiligheid skep en ‘n gesonde breinontwikkeling bevorder,” sê hy.

Don sê sy doel is om bejaardes van die rusbank af te kry en te wys dat ’n mens nooit te oud is om te leer nie.

Vir meer inligting bel Don Roos by 083-699-3547 of  012-807-7420 of stuur ‘n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . Bel Albert Cruywagen by 082-823-0785 of 012-803-5895 of stuur ‘n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it