Bapsfonteinse kaas as beste in die land bekroon Print
News - Ons Mense
Tuesday, 23 April 2019 12:50
Untitled Document

‘n Bapsfonteinse boetiekkaasmakery het Suid-Afrika se suiwelproduk van die jaar met hulle St Francis of Ashisi-kaas gewen. Dié kaas van Rina en Norman Belcher se Belnori het 76 ander vervaardigers se 882 ander suiwelprodukte geklop.

Dié aankondiging is aan die einde van Maart by die Agri-Expo Qualité-toekenningsdinee in Kaapstad gemaak. Belnori-boetiekkaasmakery se St Francis of Ashisi is ’n kaas wat van gelyke hoeveelhede bok- en beesmelk gemaak word.


Rina en Norman Belcher by hulle bokke
Foto: liquidlingo

Die kaas word met die melksuurkoagulasie-metode, wat veral in Frankryk bekend is, gemaak. Eetbare wit swamme groei op die kaas se kors en plant-as word daarop gesprinkel om die melksuur in die kaas te help beheer. 


Rina en Norman wys van hulle kase
Foto: liquidlingo

Rina en Norman spog met baie internasionale pryse vir hulle kase, soos die Agri-Expo-toekenning in 2018 vir die beste Suid-Afrikaanse kaas op die kaas-wêreldkampioenskap in Bergen, Noorweë.

Die Belchers boer met Saanen-melkbokke en melkskape. Die beesmelk word ingekoop. Rina en Norman is afgetree en het die bokmelkkaas as ‘n stokperdjie begin. Hulle het hul 50ste huweliksherdenking verlede jaar op 2 November gevier, presies dieselfde dag toe hulle kase die toekennings in Bergen, Noorweë gewen het.


Belnori-boetiekkaasmakery se St Francis of Ashisi
Foto: Verskaf

Rina is in 2016 reeds op die Agri-Expo-ererol geplaas vir haar bydrae tot die suiwelbedryf. Sy was die heel eerste vrou wat dié toekenning ontvang het en is vereer vir haar dinamiese en standhoudende leierskap in die suiwelbedryf. Toe sy dié toekenning ontvang het, het Belnori reeds 11 internasionale en 40 nasionale toekennings ontvang.

Rina is ook ’n stigterslid van die Suid-Afrikaanse Bok- en Skaapmelk-verwerkingsorganisasie en was vir ‘n lang ruk die voorsitter van die groep. Sy was ook die voorsitter van die Melkprodusente-organisasie in Gauteng en was ’n stigterslid van die Kleinveesuiwelvereniging, wat nuwe toetreders tot die bedryf bystaan.