Nostalgiese terugblik op gebied se eerste ryskole Print
News - Ons Mense
Monday, 28 January 2019 10:10
Untitled Document

Juanita Jamneck van Mooiplaats gee hier ‘n antwoord op Daan Visser van Equestria se lesersbrief in Die Bronberger van Desember 2018. Daan het gevra of enige inligting of foto’s beskikbaar is oor destyds se perdrybedrywighede in die gebied rondom die “furrow”, wat eintlik ’n rivierloop is, waarna die voorstad Equestria se Furrowweg vernoem is.

Juanita Jamneck

Die stalle waaroor Daan Visser gevra het se naam was Willow Glen Stalle en dit het aan oom Bert van Biljon en tannie Lucia behoort. As tiener en jong volwassene het ek baie, baie plesierige ure daar spandeer.

Ek het vanaf 1979 tot 1990 daar perdgery en is met baie vriende, meer soos familie, daar weg. Gemeet teen vandag se standaarde, was die fasilitiete nie die beste nie, maar ons het geweldig baie geleer en daar was so ‘n lekker atmosfeer dat ons dit vir niks sou verruil nie.

Daar was ‘n redelike aktiewe ryskool waarvan oom Bert en sy dogter, Lucia, eers die instrukteurs was en later het hulle ‘n instruktrise met die naam van Beverly Viljoen gehad. Sy het ‘n British Horse Society kwalifikasie gehad en was van Engeland afkomstig, maar het met ‘n boerseun getrou.

Beverly bly steeds in die Bronkhorstspruit-omgewing en is vandag by miniatuurperde betrokke. Ek het self ook as instruktrise waargeneem vir ‘n paar maande toe Beverly haar eerste kind verwag het.

Die ryskool was nogal gewild omdat dit toentertyd net een van twee ryskole in die omgewing was en het redelike groot lesse vir agt tot tien kinders op ‘n slag gegee.


Van links na regs: Brigitta Wessels, Juanita Jamneck en die 88-jarige oom Bert van Biljon. Die foto is in 2004 geneem toe oom Bert by Liberty Stalle gaan kuier het met Liberty se 25ste verjaarsdag. Oom Bert is so twee of drie jaar ná die foto geneem is, oorlede

Bert
Oom Bert het self ook aandlesse vir volwassenes aangebied en ons was almal bitter bang vir hom. Daar was nie so iets soos huil as jy afgeval het nie. Sou jy dit waag, was jy eers in die moeilikheid.

Daar was net afval, opklim en weer ry. Jy kon na die les hospitaal toe gaan as jy dan só stukkend was.
Oom Bert was ‘n ongelooflike perdemens met ‘n wye kennis en hy en al sy kinders en kleinkinders was uitstekende ruiters. Op 69-jarige ouderdom het hy dikwels ons jonges steeds onder die stof gery met sy Arabierhings, Rabraf.

Hy het baie jare later, in 2004, op die ouderdom van 88 toe hy reeds in De Meerpaal ouetehuis gebly het, by my kom kuier met my perd, Liberty, se 25ste verjaarsdag. Hy kon toe steeds presies vertel van ‘n perd se konformasie en verskillende siektes.  


Juanita Jamneck aan die einde van 1986 of begin van 1987 op King’s Way by die destydse Willow Glen Stalle se arena

Lucia
Tannie Lucia het altyd die administrasie en finansies van die ryskool hanteer, maar is in die 1990’s oorlede. Ek kan nie presies die datum onthou nie, maar ek dink dit was omtrent in 1993 of 94.

Die eiendom is ‘n paar jaar daarna aan ‘n ontwikkelaar verkoop en vandag is daar meenthuise gebou. Oom Bert het toe na die ouetehuis getrek. Tannie Lucia was ook altyd die een wat getroos het of gehelp het as oom Bert te kwaai met ons was.

Ek sal nooit vergeet hoe sy my gebel het nadat ek in trane was omdat oom Bert gesê het ek moenie vir Liberty koop nie. Haar advies was, “Koop die perd as jy hom wil hê. Moenie vir oom Bert luister nie!” In  retrospek was sy advies die regte advies (dis ‘n storie vir ‘n ander dag), maar vandag is my stalle na dié perd vernoem.


‘n Ander hoek op Willow Glen se arena. Die ruiter is Juanita en die perd se naam is Kalinka

Ander
Deur die jare het ek baie ruiters ontmoet wat òf by Willow Glen òf by Willowdene begin perdry het.

Willowdene was in die voorstad wat ons vandag Die Wilgers noem, omtrent net agter die hedendaagse winkelsentrum. Ons het almal sulke goeie herinneringe van dié twee ryskole dat baie van ons vandag nog vriende is.

Casa Ravello is die naam van die kompleks wat vandag is waar Willow Glen Stalle was. Willow Glen was eintlik in Libertaslaan, net om die hoek van Furrow Lane (nou Furrow Road). Oom Bert se seun, Bertus van Biljon, het op die hoek van Furrow en Libertas gebly en Willow Glen Stalle was net langsaan.

Plaashuis
Daar is geen teken meer van die oorspronklike plaashuis van Willow Glen Stalle in Casa Ravello nie. Die huis was naby die ingang en daar staan nou dubbelverdieping meenthuise.

Daar was ook stalle in Furrow Lane wat eers baie jare later gebou is. Dit was net ‘n klein entjie vanaf Simon Vermooten en waar die hedendaagse Equestria Woolworths nou is. Dit is gebou deur mense wat saam met ons by Willow Glen hulle perde gestal het en het aanvanklik begin net as stalle vir hulleself en ‘n paar vriende, maar was later ook stalle vir ander mense, soos Willow Glen.

Hulle stalle het as Furrow Lane Stables bekend gestaan en is omtrent in 1986/87 eers gebou. Dié plot was een van die eerstes in die gebied wat ontwikkel is.

Ek dink Furrow Lane Stables se plaashuis is wel behou in die meenthuiskompleks wat nou daar is, maar ek weet nie watter een nie. Dit was links van Furrow as jy van Simon Vermooten af gekom het.