Anieta se stem is nou stil Print
News - Ons Mense
Friday, 07 December 2018 08:06
Untitled Document

Hierdie sal die eerste Kersfees wees wat sonder Anieta Armand gevier word.

In 2008 het ons berig dat min Bronbergers geweet het dat een van ons land se bekendste radiostemme uit die verlede toe al vir bykans vyf jaar lank op Mooiplaats gewoon het.

Anieta het vir 30 jaar by bykans elke radio-stasie in die land uitgesaai. Sy het ons vertel van destyds se grensoorlog toe sy met beweegbare senders in Angola rondgejaag het; van dreigende aanvalle in die vroeë 1990’s op Radio Pretoria, haar tyd as trokdrywer, die toermaatskappy wat sy op die been gebring het en haar eerste perde-uithourit wat sy in Februarie 2008 op die ouderdom van 71 voltooi het.


Anieta Armand

Anieta se seun, Anton Cloete, sê dat sy ongeveer twee jaar gelede ’n ligte beroerte gehad het, wat haar balans beïnvloed het en dat dinge van daar af net agteruitgegaan het. Sy het by haar dogter op Rietfontein, in die Donkerhoek-omgewing, gaan woon en is ná ’n lang siekbed op 24 September in haar slaap oorlede.

Anton en Anieta was destyds die enigste ma-en-seun-span in die grensoorlog. Anieta was ’n senior offisier in die weermag. Radio Peking het baie sterk senders in Angola gehad en die land vol “propaganda gepomp” en Anieta was deel van ’n span wat, as teenvoeter, met beweegbare senders rondgery het. Hulle het halfuur programme uitgesaai, dan vinnig afgeslaan en weggejaag voor die vuurpyle hulle kon tref.


Anieta het haar eerste perde-uithourit in Februarie 2008 op die ouderdom van 71 voltooi

Daarná, toe Anieta in die Burgermag was, is sy grens toe opgeroep as deel van ’n navorsingspan wat die laaste swart Van der Merwes in die heel noordwestelike punt van die destydse Suid-Wes Afrika gaan soek het.

Die doel was taalnavorsing en hulle was op soek na ’n tannietjie diep in haar negentigs wat saam met die Dorslandtrekkers Suid-Wes toe is en daar agtergebly het. Blykbaar het al die swart mense op dié trek nie net die Van der Merwes se van aangeneem nie, maar ook die pragtige taal wat destyds gepraat is en die ongewone idiome behou.

Anieta moes dit wat die tannie sê op band opneem. Bandmasjiene was toe nog reuse goed en ’n troep moes gekry word om die swaar bandmasjiene te dra. Die troep wat gekies is was Anieta se eie seun Anton, wat op dié ekspedisie 21 jaar oud geword het.