Gemeenskap verloor groot welsynhart Print
News - Ons Mense
Saturday, 18 June 2016 15:59
Untitled Document

Thea de Bruyn, die direkteur van Kungwini Welsynsorganisasie, is op 22 Mei in die ouderdom van 60 jaar oorlede.

Thea was vir die afgelope 30 jaar ‘n steunpilaar in die Mooiplaats-gemeenskap. Sy het in 1986 as maatskaplike werker by die Paul Jungnickelhuis begin werk en het later bestuurder en toe direkteur geword.

In 1996 het Paul Jungnickelhuis ‘n onafhanklike welsynsorganisasie geword en dienste aan die breër gemeenskap begin lewer. Thea het die Kungwini Welsynsorganisasie in 2002 gevorm, ‘n oorkoepelende organisasie vir al die programme wat sy begin het. Haar lewenstaak het ‘n groot verskil in baie gesinne in die gemeenskap gemaak.


Thea de Bruyn

Thea was ‘n passievolle mens wat baie lewens verander het. Sy was die hart van die welsynsorganisasie met ‘n nalatenskap wat strek van ‘n kinderhuis en verskeie opleidingsprogramme by skole en kleuterskole in ons gebied se minder gegoede gedeeltes.

Thea het gewasse in haar dikderm gehad, wat op 11 Mei verwyder is. Sy laat twee kinders, Solette, 30, en Roelf de Bruyn, 34, agter. Haar begrafnis was op 26 Mei by die Gereformeerde Kerk Wapadrand. ‘n Gedenkdiens is op 25 Mei by die Kungwini Welsynsorganisasie gehou vir diegene wat nie die begrafnis kon bywoon nie.