Zwavelpoortse konsert samel fondse in vir Tana Print
News - Ons Mense
Monday, 21 March 2016 05:41
Untitled Document

Mathys Roets, Anna Davel, Matthys Maree en Margit Meyer-Roödenbeck tree op by ‘n piekniek-konsert op 10 April in Zwavelpoort. Die konsert word gehou om fondse vir ‘n driejarige dogtertjie se operasie in te samel.

Tana moet ‘n kogleêre inplanting kry en haar ma, Alexa Strachan, die bekende kabaretkunstenaar en teateraktrise, verduidelik dat Tana minimale gehoor het. Sy sê dat Tana slegs kan hoor op die vlak waar iets soos ‘n geweerskoot reg langs haar afgetrek word.


Tana het ‘n kogleêre inplanting nodig

Dié gebrek beteken dat dit moeilik is om normaal te sosialiseer, te leer praat en vir normale breinontwikkeling om plaas te vind. Tana word in Junie vier jaar oud en dié sal haar tweede operasie wees. Die eerste inplanting was suksesvol, maar die dokter stel voor dat die tweede een so gou as moontlik gedoen moet word.


Tana se gesin: Lorentz, Christoff, haar ma Alexa, pa Pieter en Xander

Tana is Alexa en haar man Pieter se enigste dogtertjie. Sy het drie ouer broers, Lorentz, Xander en Christoff en die gesin woon in Centurion.

Die kunstenaars wat by die fondsinsameling gaan optree is Alexa se vriende en lewer hulle dienste gratis om Tana te help. Die konsert word deur Monte de Dios en EPH Productions geborg en word op Monte de Dios, Achillesweg 6, Zwavelpoort se groot grasperk-amfiteater gehou.


Tana se ma, Alexa Strachan, die bekende kabaretkunstenaar en teateraktrise

Die hekke maak 11 vm op 10 April oop en die konsert is van 12 tot 3 nm. Toegang is R100 ‘n persoon en kinders onder 13 gaan gratis in. Daar gaan ook gratis kindervermaak wees: ‘n fliek en ‘play stations’.

Piekniekmandjies vir twee is beskikbaar teen R300 en moet voor 8 April bestel word. Daar gaan ook koskraampies en ‘n kontantkroeg wees


Monte de Dios se piekniek amfiteater

“Kom geniet die dag saam met ons vir ’n goeie doel en saam maak ons ’n verskil in ’n klein dogtertjie se lewe,” sê Leon Pheiffer van Monte De Dios.

Vir besprekings, skakel 071-100-3305.