Zwavelpoortse kasteel staan op uit die as Print
News - Ons Mense
Tuesday, 22 December 2015 10:30
Untitled Document

Ná die verwoestende brand op 27 Junie vanjaar, is Riverside Castle, die trou- en funksieplek in Zwavelpoort, nou weer volledig herstel.

Funksie-koördineerder, Jaco Oosthuizen, vertel dat hy daardie aand kwart voor sewe gesien het dat rook uit die kantoor se dak kom. Knap voor dit het die krag afgegaan, maar die personeel het gedink dat dit weer die ‘normale’ beurtkrag is en het die kragopwekker gaan aansit.


Die brand het die aand van 27 Junie uitgebreek

Brandinspekteurs sê dat die kaggel die brand in die plafon veroorsaak het

Jaco sê dat hy na die hoofkragskakelbord in die kantoor gaan kyk het om te sien of alles pluis is en dit is toe dat hy rook geruik het, uitgegaan het en gesien het hoe die rook by die dak uittrek.

“Dit het nie eers ‘n halfuur geneem voor die hele gebou aan die brand was nie,” sê Jaco. Almal het die gebou verlaat en niemand is in die brand beseer nie.


Skade ná die brand

Brandinspekteurs het later vasgestel dat dit die kaggel was wat die brand in die plafon veroorsaak het. Die berekende brandskade was ‘n miljoen Rand.


‘n Markiestent is inderhaas opgerig vir die troue wat ‘n week ná die brand daar gehou moes word

Die kapel en kombuis is gelukkig nie in die brand beskadig nie, wat dit vir Jaco en sy span moontlik gemaak het om ‘n troue wat lankal vooraf bespreek is, ‘n week ná die brand te hou. Hulle het ‘n reuse markiestent vir die gaste opgeslaan.


Die nuwe dak word opgesit

Daarná het die groot skoonmaak, opruim en herstelwerk begin. Alhoewel die trouplek nog nie volkome herstel was nie, is die eerste troue weer in Augustus gehou. Jaco sê dat die uitdagings ernstige kreatiewe denke benodig het.


Riverside Castle met die kapel in die voorgrond

Danksy die personeel se toewyding en Ackerbou se hulp is die verbouings aan dié trouplek nou klaar.

Die ontvangsgebied is groter, daar is nuwe sekuriteitsheinings, konferensiefasiliteite, binnenshuise versiering en selfs die tuin is opgeknap.