Huilende boom ideaal vir feestydse kwellinge PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 09 December 2010 23:15
Untitled Document

Hoe kan ’n huilende boom jou dié feesseisoen help oorleef? Solank jy net nie jou feesmaal se tafel onder die huilboerboon dek nie, is daar ’n horde seisoenale kwelling wat dié boom kan help behandel.

’n Aftreksel van die huilboerboon se bas word gebruik om babelaas en sooibrand te behandel. Bas- en wortelmengsels word gebruik om die liggaam te versterk en die bloed te suiwer, om senuwee-verwante harttoestande en diarree te behandel en ook om die gesig te stoom.

Die sade is eetbaar nadat hulle gerooster is en alhoewel hulle ’n lae vet- en proteïeninhoud het, is hulle hoog in energie-gewende koolhidrate.

Die bas kan gebruik word om Kersversierings rooi te kleur en meubels kan van die hout gemaak word. Die hout is tradisioneel gebruik om ossewaens en blokkiesvloere te maak.

Die huilboerboon, Schotia brachypetala, kry sy naam omdat dit lyk asof hy huil terwyl oordadige hoeveelhede nektar uit sy blomme drup. Die ‘boerboon’ deel van sy naam is afgelei van die boonvormige sade wat deur die Voortrekkers gerooster is, blykbaar iets wat hulle by die Khoikhoi gesien het. Alle spesies van Schotia het eetbare sade wat baie soos die landbougewas, boerbone, lyk.


Huilboerboon
Foto: Inheemse bome

Die boom kry sy genus, Schotia, by die Oostenrykse botanikus, Nicolaus Joseph Jacquin, wat hom na sy vriend en reisgenoot, Richard van der Schot, vernoem het. Hulle het Suid-Afrika in die 18de eeu besoek. Die brachypetala deel van sy naam kom van ’n Griekse word wat ‘kort blomblare’ beteken.

Die huilboerboon is ’n medium tot groot skaduboom met ’n blaredak van 10 tot 15 meter wyd. Hy kan tot 22 meter hoog word, alhoewel hy gewoonlik 11 tot 16 meter hoog is. Die boom verloor sy blare vir ’n kort rukkie aan die einde van die winter.

Nektarryke rooi trosse blomme verskyn in die lente. Die peule verskyn daarna en bars aan die boom oop as hulle volwasse word in die laat somer tot herfs, ongeveer van Februarie tot Mei. ’n Groot verskeidenheid voëls, insekte en diere word deur die blomme en sade gelok.

Nektarvretende voëls is nie al wat in dié boom belangstel nie. Omdat sy vrugte so baie bye en ander insekte lok, kom insekvretende voëls ook graag nader. Spreeus, ape en bobbejane vreet die blomme; ape en sekere soorte voëls die sade; wildspesies die blare; en swart renosters die bas.

Die huilboerboon plant maklik voort deur saad. Hy moet in goed gedreineerde sand geplant word, kan maklik oorgeplant word en is gedeeltelik kouebestand. Jonger bome moet teen ryp beskerm word.

Sy wortels kan skade aanrig en daarom moet die huilboerboon nie naby mure, swembaddens of plaveisels geplant word nie. Moet ook nie voertuie onder sy lekker diep skadu parkeer nie; die taai nektar wat uit die blomme drup is moeilik om af te was.

 

© 2019 Die/The Bronberger