PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 09 December 2010 23:14
Untitled Document

Amerikaners het ’n Kerstradisie waar mense mekaar onder ’n takkie ‘mistletoe’ moet soen. Hier by ons word dié soort plante voëlent genoem en hulle vrugte is bekend vir ’n taaiheid waarmee voëltjies gevang kan word.

Tog is daar ’n soort voëltjie wat ’n mens maar kan sê ‘soen’ onder dié taai omstandighede. Die geelblestinker word gesien as die hoofverspreider van voëlent in ons gebied en plak byna aan sy kuikens se snawels vas as hy hulle daarmee voer.

Daar is nege spesies tinkers in Afrika en alhoewel vier van daardie spesies amptelik in suidelike Afrika voorkom, word die groentinker as plaaslike uitgesterf beskou. In Bronbergwêreld is dit net die geelblestinker en bonthoutkapper wat voëlent versprei.


Geelblestinker
Foto: Wikipedia

Voëlent is parasitiese plante wat hoofsaaklike uit die families Loranthaceae en Viscaceae bestaan. In ons land word hulle deur 13 genera met 38 spesies verteenwoordig. Die meeste van hulle is belangrike voedingsbronne vir geelblestinkers wat die vrugte heel insluk en die sade later uitbraak.

In ’n poging om van die taai sade ontslae te raak, vee die tinker sy snawel aan takkies af, waar die sade dan vassit en begin groei. Dié voëltjies vreet nie net voëlent nie, maar ook ’n verskeidenheid vrugte en groente en sal insekte vreet.


Kuikens word met volent gevoer
Foto: Guy Upfold

Geelblestinkers, Pogoniulus chrysoconus, val in die houtkapper-familie en maak gate in dooie stompe of boomtakke om hulle nessies te bou. Beide mannetjie en wyfie grou die nesgat tot hy omtrent 10 cm wyd is. Hulle plaas dan ook taai voëlentsade rondom die nessie se ingang, waarskynlik om roofdiere af te skrik. In die broeiseisoen is tinkers baie aggressief teenoor ander houtkappers.

Die mannetjie laat sy kroonvere regop staan, swaai sy kop, fladder sy vlerke en ruk sy stert op en af terwyl hy plofgeluide gemaak. Die wyfie lê twee tot drie wit eiers wat na omtrent 12 dae uitbroei. Die kleintjies bly vir 21 dae in die nes. Blykbaar kan hulle enige tyd van die jaar broei en het drie tot vier groepe kuikens ’n jaar.

Die 11 cm lange geelblestinker se duidelikste kenmerk is sy geel voorkop, maar aansienlike variasie kan by die voorkopkleur voorkom. Dit kan wissel van helderoranje tot ligte geel, maar nooit die helderrooi van die rooiblestinker nie.


Volent voor die nessie
Foto: Guy Upfold

Die geelblestinker is ’n plomperige outjie met ’n kort nek, groot kop en kort stertjie. Die geslagte lyk eners en onvolwassenes is sonder die geel op die voorkop. Die volwasse voël se boonste vere is ’n swart wat swaar gestreep is met geel en wit. Sy kop het ’n sterk swart en wit patroon en dan die geel bles. Die onderste vere is ’n suurlemoen-geel kleur.

Geelblestinkers is algemene standvoëls, maar word nie maklik gesien nie alhoewel hulle roepgeluid baie bekend is. Hulle roep terwyl hulle wegkruip met ’n tienk-tienk-tienk wat as die geluid van ’n hart-longmasjien beskryf kan word. Die geluid is byna ononderskeibaar van dié van die rooiblestinker, maar effens stadiger met ’n laer toonhoogte.

 

© 2019 Die/The Bronberger