Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 16 November 2010 10:59
Untitled Document

Die werklike sterre van die onlangse eendagkrieketreeks teen Pakistan in Aboe Dabbie en Doebai was, wat my betref, die vreemdsoortige skares van daai sandwêreld. Die kamera fokus daar baie meer op die toeskouers as wat dit elders in die wêreld doen. En soos oral reageer mense met oorgawe as hulle op die ‘big screen’ en dus die TV, verskyn. Die reaksie is net baie, baie erger en met ongelooflike, oordadige animasie doer in Doebai en daar in Aboe Dabbie.

Opvallend in die malende, malle skare is die hoeveelheid krieketkykende pa’s met hulle kleuters of hulle babas op die skouers. Behoede nou die stomme kind as sy pa sou sien die kamera se fokus val op hulle. Nou word pa se duime stewig onder die stomme kindertjie se kieliebakke ingehaak en ’n rukkende, rollende riel word gedans waar ’n skuddende, tandklappende kleintjie (as dit al tande het) hoog bokant pappie se kop lugwaarts gepomp word – op-en-af, op-en-af, op die duistere maat van ’n ritmelose Bollywood-liedjie.

Dié toeskouers wat nie die luukse van ’n vlees-en-bloed-kleintjie het nie, of waarvan die stomme bloedjie straks onder behandeling vir ‘shaken baby’ sindroom of iets is, gebruik ’n pop. Wat is dit tog met dié mense se popfassinasie? Die poppe wat saam kom krieket kyk, is van ’n bykans onbeskryflike verskeidenheid in aard, omvang en oorsprong. Loop-en-slaap-poppe met blonde hare en Victoriaanse klere word só geskud en gepluk dat dit duidelik op die ‘big screen’ gesien kan word hoe hulle koue blou ogies teen honderd myl ’n uur oop-en-toe knip.

Elke denkbare aardse wese en ’n hele aantal onaardses is in die vorm van ‘soft toys’ of opblaaspoppe (nee, nie daai soort nie) verteenwoordig. Tiers, leeus, moordwalvisse, dolfyne, George Bushes, ander narre, bokkies, teddiebere, ander bere, spinnekoppe, perde, donkies en ag, regtig ‘nog baie, baie meer’ word wedstrydlank rondgeswaai en –geskud. Hoekom?

As jy krieket kyk in Doebai en jy het nie ’n kind of ’n pop in die hand nie, dan hou jy ’n handgeskrewe plakkaat vas. As jy sien die TV-kamera kyk vir jou, dan skud jy jou plakkaat soos jou buurman sy kind of sy pop skud.

“I love my Baba,” sê een en ’n ander: “Dhubai my love Dhubai.” Baie het dit oor ‘Boom Boom Afridi!’ Een kêrel met groot planne, maar min papier, skryf in vet hoofletters net: “BOOM! Afri.”

Is die ou net simpel of dalk diep, wat met krul-letters op sy poster geskryf het: “You and me love me also good!”

Soos dit die geval is by ander krieketvelde dwars oor die wêreld, sal ’n groepie of ’n enkeling wat in die oog van die TV-kamera val, soos besetenes begin arms-swaai, gesigte trek, waai en oor die algemeen net basiese gatte van hulleself maak, sodat die mense voor die kassie by die huis nie ’n buitekans het om hulle agt sekondes van roem mis te loop nie.

Die ding is net, in Doebai en Aboe Dabbie fokus die kamera nogal gereeld op die eiesoortige dames van daai wêreld. Dames wat só toegewikkel is in lapwerk dat net ’n breukdeel van hulle in-skadu-gehulde-oge soms uitsteek.

Nou is dit sekerlik só dat dié stomme vroue nie juis vrye teuels het om hulle uit te lewe met die meedoen aan nuwe modes, haarstyle, vroueregtevegtery, ‘ladies nights’ of skelm verhoudings met die melkman of die baas nie. Stigtelikheid en kuisheid is wat van hulle verwag word en stigtelik is wat ons gewoonlik sien.

Maar as daai krieketkamera sy oog op die toegelapte Islam-dame mik, is dit of die damwal van sosiale beperkinge breek. Skielik spring daardie bondel met-mensgestopte-lappe regop en waai uitbundig in die kamera se rigting. Vir wie, wonder ek? Hoe op aarde herken jy iemand wat agter presies dieselfde stel swart rokke en parkas as miljoene ander gesigloses ingeperk word? Sy waai vir ’n wêreld wat nooit sal weet wie sy was nie . . .

 

© 2020 Die/The Bronberger