?Super aged meat? kan toe taai wees PDF Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 16 November 2010 08:57
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Partykeer, net partykeer, word die karnivoor in my wakker en dan sit ek woes op loop agter ’n stukkie rouerige bees aan. Daarom was ek heel opgewonde toe ek en Metgesel onlangs by ’n plek met die naam van ‘Steak Inn grill & butcher’ langs Faerie Glen se Boardwalk-dammetjie inval.

Metgesel sê sy het jare gelede al ’n groot geheim van ‘steak houses’ agtergekom en dit is dat hulle die heel lekkerste ‘vegetarian platters’ voorsit. Daarom was sy glad nie teensinnig om saam op die koel dek neffens die watertjie by die ‘Steak Inn’ in te val nie.

Sy het toe haar vegetariese bord bestel en dit geniet; baie geniet. En ek het my half-rou stukkie bees bestel en dit nie baie geniet nie:

Glad nie baie nie. Die kuier het ek wel geniet. Baie. Jy sit lekker buite op die houtdek langs die watertjie. Dis mooi en dis gemaklik.


?Steak houses? maak volgens Metgesel die lekkerste vegetariese borde

Die ‘Steak Inn’ spog met sy eie slaghuis wat eenkant in ’n hoekie van die groot restaurant sit. Hier word hulle vleise versnit en voorberei en, só spog die spyskaart, word elke snit van bees spesiaal rypgemaak, ‘super aged meat,’ sê hulle. Goeie nuus, dag ek, want natuurlik hou ek ook van ’n lekker sagte stukkie bees. Om seker te maak dis sag, bestel ek dikwels beeshaas, al verkies ek die geurigheid van kruisskyf.

Ek laaik rump meer as fillet, Kobus. Maar rypgemaakte, amper-rou, super rump kan mos niks anders as heerlik sag wees nie. Of kan dit? Dit kan en my stukkie van 300 g was. Nie oneetbaar taai nie, maar tog taai en seningrig. Dit kos R83,90.

Ek is seker daai stukkie rump was net op die verkeerde tyd op die verkeerde plek, my bord, en dat dit nie die norm is nie.


Dis lekker onder die sambreel op Steak Inn se dek langs die dammetjie

Die plek bied ’n uitsonderlike groot verskeidenheid ‘steaks’ van verskillende snitte met uiteenlopende geursels en souse daarby. Een wat hulle ‘Arabica’ noem kom byvoorbeeld saam met koffiebone, eiervrug en karamel uie. Jy kan ’n 500 g T-been teen R92.90 bestel of ’n bielie van 1 kg teen R155.90. Die 300 g fillet sonder souse en dié kos R106.90.

Steak Inn is ’n groot plek met ’n groot spyskaart. Voorgeregte sluit knoffelmossels (R39.90) en gerookte salm (R43.90) in. Burgers kos iewers in die R40’s en natuurlik 90 sent, en ’n dubbelburger sal jou R69.90 uit die sak jaag.

Pastageregte is rondom die R55.90. Jy kan agt ‘king prawns’ teen R115.90 bestel of ‘Kingklip’ en tongvis teen R95.90. Stokvis kos R60.90. Gelys onder ‘traditional’ is ‘oxtail’ vir R125,90, skaapskenkel vir R104.90, bees of hoender ‘stir-fry’ vir R69.90 en Eisbein vir R93.90.

Metgesel se vegetariese bord het bestaan uit sampioene, uieringe, haloumi en feta kase, spinasie, pampoen, gebakte aartappel met suurroom en ’n lekker tjilliesousie vir die gebraaide kase. Dit kos R69,90.

 

© 2019 Die/The Bronberger