Hy grou ?n tonnel voor hy nesbou PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 16 November 2010 10:33
Untitled Document

Dié voëltjie maak sy nes in ’n erdvark se gat. Hy word in die veld rondom miershope gesien waar hy met vinnig klappende vlerke in die lug kan hang voor hy op ’n rytjie miere afpyl. As hy in jou tuin bly, is die kanse goed dat jy ’n mier- of termietplaag het. Ons praat van die swartpiek, ’n soort voëltjie waar ma, pa en soms ook die vorige broeiseisoen se kinders, vir agt tot tien dae lank uitgrawings aanpak voor hulle ’n nessie bou.

Dié spannetjie begin met mag en mening om aan die bokant van ’n erdvark se gat te grou. Hulle grou reg deur tot hulle ’n tonnel van ongeveer 30-150 cm lank gereed het en dan begin hulle droë gras en wortels daar indra om ’n koppievormige nessie te maak.

By gebrek aan ’n erdvarkgat, sal hulle in die wal of bokant van enige ander gat begin grou om nes te skrop. Hulle verkies om saam met hulle miervretende vriende te bly, al sal hulle ander insekte ook vreet as miere skaars raak.


Die swartpiek
Foto: Wikimedia

Die swartpiek se broeiseisoen is van Augustus tot Februarie. Twee tot sewe eiers word gelê wat vir 14 tot 15 dae lank deur die wyfie uitgebroei word. Dis nou as die eiers aanvalle deur die gestreepte veldmuis, Rhabdomys pumilio, oorleef. Die kuikens word deur beide ouers en die vorige jaar se kuikens gevoer.

Hulle bly afhanklik van hul ouers vir sewe tot tien dae, waarna hulle self begin kos soek, maar saans steeds nes toe kom. Hulle kruip ook saam met die vorige jaar se kuikens in die nes-gat weg as hulle skrik vir iets.

Die 18 cm lange swartpiek word in vlug maklik onderskei van ander pieke deur die opvallende wit vlekke op sy primêre vere. In rus lyk hy plomp met ’n kort stertjie en ’n regop houding. Hy weeg ongeveer 50 gram.

Die mannetjie is ’n baie donker bruin kleur met ’n wit skouervlek wat nie altyd maklik gesien kan word nie. As hy vlieg is die wit venster in die vlerk egter baie sigbaar. Hy vlieg met vinnige vlerkklappe in ’n baie reguit lyn en soms so stadig dat hy heel lomp in die lug lyk.


’n Swartpiek in vlug
Foto: Jan Fourie

Die mannetjie se kop, snawel, keel en bene is swart. Die wyfie is ligter bruin. Onvolwassenes lyk soos volwassenes, maar is meer gevlek.

Die swartpiek, Myrmecocichla formicivora, behoort aan die Muscicapidae familie-groep wat voëls soos lysters, Janfrederiks, die spekvreter, dassievoël en vlieëvangers insluit.

Dié algemene standvoël se roep is ’n skerp, kort ‘piek’. Dit is dan ook waar sy Afrikaanse naam vandaan kom. Sy Engelse naam kom van sy vreetgewoontes, ‘ant-eating chat’.

 

© 2019 Die/The Bronberger