Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 16 November 2010 10:32
Untitled Document

Hy is ’n boom wat ander bome verwurg en lyk of hy selfs probeer om bakstene uit geboue uit te druk. Tog is hy nie ’n parasiet nie omdat sy wortels nie die vaatstelsel van die gasheerboom binnedring nie.

Ons praat van die wurgvy, ’n boom wat soms lyk asof hy verskillende soorte stamme het. As jy dié stamme van naderby bekyk, sal jy sien dat een van die stamme aan ’n ander boom behoort of behoort het.

As die ander boom nog nie verwurg is nie, sal dit ook lyk of een boom twee verskillende soorte blare dra. Die wurgvy kan ook op sy eie staan en afhangende van waar hy is, kan hy ’n medium-grootte boom wees of tot 20 meter hoog word.


Die wurgvy

Medisyne
Hy is tradisioneel ’n boom waarvan die bas gebruik word om verkoues, seer kele, maagaandoenings, wonde en hardlywigheid te behandel en om melkvloei te stimuleer.

Sy melksap word gebruik vir wonde, en ’n aftreksel van sy wortel en vesel word gedrink om miskraam te verhoed. Sy verpoeierde wortels word saam met pap geëet om neusbloeding te stop en sy melksap word in die oog gedrup om katarakte te behandel.

Die wurgvy se bas word gebruik in die maak van matte en die gevlegte bas maak ook ’n sterk tou. Hy word geplant om erosie te beheer, as skuiling, ornamenteel en ’n liplekker konfyt kan van sy ryp vrugte gemaak word.

Die sap wat verkry word deur die wurgvy se wortels fyn te stamp is so taai dat dit aan takkies gesmeer is om voëltjies te vang. Blykbaar is dit taai genoeg om selfs ’n tarentaal te vang.

Verskeie wildspesies vreet sy blare en takkies en die vrugte wat afval. Die ryp vrugte word gevreet deur baie soorte voëls en vlermuise. Dit is juis vlermuise wat verantwoordelik is vir die saadverspreiding van dié boom.

Die saad ontkiem dikwels in die mik van ’n ander boom. Die saailing ontwikkel dun, donkerrooi wortels wat uit die ander boom uit hang tot hulle die grond bereik. Oor die loop van jare ontwikkel daar dan ’n netwerk plat, wit, touagtige strukture wat uiteindelik saamsmelt om die gasheer te omvou en hom in die proses te verwurg.


Klein perdebytjies binne-in die vy

Vrug
Dit wat ons as die wurgvy se vrug beskryf is eintlik ’n blom wie se basis so gegroei het dat dit rondom die ander blomdele vou. Hulle sê dat die regte vrugte die klein saadjies binne-in die vy is.

Die boom blom vir die grootste deel van die jaar met die piek blomseisoen in Oktober. Die blomme word deur klein perdebytjies bestuif en sommige van die perdebye woon simbioties binne-in die blomme en kan gesien word as die vy oopgebreek word. So ’n vy is gewoonlik 7-14 mm in deursneë

Die wurgvy, Ficus thonningii, kry sy genus naam van die Persiese woord ‘fica’. Die spesie naam verwys na Deense botanikus Peter Thonning wat van 1775 tot 1848 geleef het.

Dié boom is relatief droogtebestand, maar hou nie baie van koue winde nie. In kouer dele moet jong plante vir die eerste twee tot drie jaar beskut word. Hy het ’n aggressiewe wortelstelsel en moet nie in klein tuine, naby geboue, swembaddens of plaveisel geplant word nie.

Die wurgvy groei maklik van plantlote of stiggies. Sny omtrent ’n 200 mm lange loot en verwyder die meeste van die blare. Plaas riviersand onder in die gat voor jy plant om te verhoed dat die onderste deel van die loot begin vrot.


Dís hoekom sy naam wurgvy is
Foto: Sarahemcc

 

© 2020 Die/The Bronberger