Tonge los oor ontwikkeling Print E-mail
News - Kommentaar
Tuesday, 16 November 2010 10:16
Untitled Document

In die afgelope maand is ons behoorlik oorval met reaksie uit verskillende oorde oor stories wat Die Bronberger gedra het wat met die ontwikkeling van behuisingskemas in die hoewegebied oos van Pretoria te make het.

Talle lesers het gebel met bewerings van ongerymdhede met die prosesse wat ontwikkelings voorafgaan en ander, met ontwikkelingsbelange of -planne, het laat weet dat mense wat die bewerings maak, bog praat.

Baie mense is besorg oor die gebrek of afwesigheid van infrastruktuur te midde van die beoogde daarstelling van letterlik duisende nuwe wooneenhede in ’n betreklike klein gebied. Ander het dit veral teen die omgewing en die natuur wat soms glo teen alle riglyne en reëls in, geskend of onherstelbaar vernietig word.

Dit was nog altyd Die Bronberger se standpunt dat ontwikkeling nie ten koste van unieke omgewings- en natuurverskynsels in ons gebied moet geskied nie.

In Januarie verskyn ’n bekende omgewings- en stadsbeplanningskonsultant, Stefan Frylink, weer in die hof op ’n aanklag van bedrog. Hy het na bewering versuim om in sy impakstudie van ’n ontwikkeling in Midrand te meld dat die terrein glo in ’n vleiland geleë is. Stefan is ook jare reeds bedrywig in die Bronberg-gebied. In verlede maand se uitgawe het ons ’n berig gedra hieroor wat ’n waarskuwingsbrief van sy prokureurs aan ons tot gevolg gehad het.

In die berig is ook vermeld dat Stefan betrokke was by ’n Zwavelpoortse ontwikkeling waar alles glo ook nie pluis was nie. Ons het gaan kyk na die redes vir dié bewerings en sal in ’n volgende uitgawe daaroor verslag doen as ons ook die ontwikkelaar se kant van die saak gekry het.

 

© 2020 Die/The Bronberger