Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke
in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal
self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.
’n Enkele aantal jare gelede het
‘hulle’ die knopies-kraletjies-en-kunswinkel
by die Faeriedalekoopsentrum
in Cliffendale-rylaan in
’n Italiaanse restaurant omskep en
sedertdien dreig ons om ’n kuier
aldaar in te werk. Maar dit het eers
onlangs op ’n mooie Maandag in die
mooiste, mooiste maand van
Oktober gebeur dat ek en Metgesel
by die deure van Pascali’s Trattoria
instap.
Die naam ‘Trattoria’ het niks met
Pascali’s se ligging in Tshwanetoria
te make nie. ’n ‘Trattoria’ is ’n eetplek
wat volgens die (regte) Italianers
nie heeltemal so grênd soos ’n
‘ristorante’ is nie, maar ook nou nie
so ‘kommin’ soos ’n ‘osteria’ is nie.
Hieroor kan ’n ou baie vergelyk en
bekyk, maar ons los dit vir die dag
as die ou knollige redakteur vir my
meer plek gun. Gmf!
Pascali’s het ’n baie omvattende
spyskaart, hoewel die (regte)
Italianers sê dat ’n (regte) trattoria
gewoonlik nie ’n spyskaart het nie.
Soos dit enige opregte Italiaanse ristorante,
trattoria en selfs osteria
betaam, is die pastakeuses by
Pascali’s ruim in getal en ryk aan
verskeidenheid. Die basis is egter
beperk tot spaghetti, fettuccine of
penne.
Die meer as tienstuks pastakeuses
wissel in prys van R49 vir die ou
staatmaker Napolitana met sy tradisionele
tamatiebasis, tot R90 vir die
seekos (Crema) met koningklip,
calamari, mossels en steurgarnale in
’n ryk roomsous. En dit is presies
waarop Metgesel besluit.

Pasta soos ‘regte’ Italianers
hom sou maak
Het ek al gesê dat Metgesel in die
besonder partydig is vir pasta en
veral penne as basis verkies?
Regte Italianers sal jou vertel dat
enige trattoria wat sy parmesan
werd is, die klem op kwantiteit lê.
By ’n regte trattoria mag jy regtig
nie honger huis toe gaan nie. Op
hierdie belangrike Italiaanse beginselpunt,
slaag Faeriedale se Pascali’s
met vliegende ‘bandiera d’Italia’.
My Metgesel hys nie maklik die
witvlag oor ’n bord pasta nie, maar
’n amperse porsie van Pascali’s se
penne is saam huis toe om net later
dié aand finaal verorber te word.
Haar keuse is die een wat R90 gekos
het.
Al die bekende pasta’s en ’n paar
minder bekendes is by Pascali’s
beskikbaar. Die plek se pizzas word
in ’n wonderlike hout-oond gegaar
en daarby ook ’n verskeidenheid
kraakvars brode van Mediterreense
oorsprong. Kraakvars en geurig.
Ek het al gebieg dat ek buite die
algemeen-aanvaarde norme, van
ansjovissies hou. Ek hou ook van
kappertjiesaad (capers) en goedgedoende,
sout olywe. Soos oorle ou
Joël Kotzé sou sê: ‘Enigiets om dors
te bly.’
Nou is dit so dat ’n sekere kombinasie
wat ‘regte’ Italianers soms
‘Siciliana’ noem, my erg aanstaan.
En dit is ook so dat dit al hoe moeiliker
raak om ’n pizza met dié kombinasie
van ansjovissies, knoffel,
kappertjiesaad en olywe as kroning
te kry. Blykbaar is dit nie meer ‘cool’
nie. Oorgewaai van Amerika af, sê
hulle.
Ek sal ons plaaslike Pascali’s amper
alles verskoon: Die feit dat niemand
betrokke, naasteby ’n klap van
Italiaans weg het nie; dié dat die
rokershoekie klein en onpersoonlik
is, terwyl almal op dié mooie
Maandag, juis daar loop sit het; ek
verskoon hulle vir die helske verkeersrumoer
deur die oop vensters
’n katspoeg van die besige
Cliffendaleweg af; dit pla my nie dat
die agtergrondmusiek meestal
Meksikaans en Spaans was nie, ook
nie dat die meisie-by-die-deur-en-in-beheer
verseg het om met my
Afrikaans te praat nie, al kon sy.

Pascali’s in
die Faeriedale-sentrum
Weet jy, die paar ander onbenullighede
wat my gepla het verdien
nie eers vermeld te word nie.
Iemand by Pascali’s besef dat ouens
soos ek mal is oor die ‘uncool’ kombinasies
wat ansjovissies en dié
insluit. En iemand of iemande het
hulle on-Italiaanse personeel só
ingestel dat die geregte die
Skoenland van die Middellandse see
krediet aandoen.
Ek het ’n wonderlike pasta
(spaghetti) met daai mooi songedroogde
tamatiesous, ansjovissies,
kappertjiesaad, olywe en tjillie
weggewerk en dit was goed. Die
knoffel, wat as standaard saamkom, het ek weens latere afsprake
afgewys.
Jy kan wyd en lekker eet en kuier by
dié Romeinse winkel. Benewens die
21 pizzakeuses, bied ‘hulle’ lekker
karnivoriese geregte soos T-been
van 500 g teen R89, of 250 g fillet
van uiteenlopende aard teen tussen
R95 en R125. ‘Specials’ het die span
ook. Dit sluit kalfsvleisgeregte teen
knap minder as R100 en ’n baie
‘anderste’ varkensfillet teen R98 in.
Die seekosdisse sluit jou garnale,
koningklippe, tjokka, tongvisse en
dies meer in, teen pryse wat ’n ou in
’n ‘ristorante’ tevrede mee sou
wees.
Pascali’s het ’n volledige kroeg.
Metgesel het ’n halfliter sangria
bestel en die helfte daarvan baasgeraak.
Dit kos R39.
Die nodige nageregte word opgelyn
en natuurlik sluit dit die ewige
‘kisses’ in.
Moetproe van die maand:
Nuvo Cuisine in Old Farm Road bied
’n hele R100 afslag aan twee of
meer kuiergaste wat hulle advertensie
op bl. 14 van hierdie uitgawe van
Die Bronberger as koopbewys
saamvat. Dit is, glo my, die moeite
werd.
|