Dit wil lyk of daar ná baie jare se skaamtelose korrupsie, wanbestuur en selfverryking,
eindelik ’n stokkie voor die donker bedrywighede van Kungwini en
Nokeng se stadsrade en amptenary gesteek word.
Verblydend is die feit dat ’n omgewingskonsultant nou moet pa staan vir
beweerde ongeruimdhede by impakstudies. Dit spreek boekdele dat hy as die
eerste konsultant wat in gevolge die Nasionale Omgewingsbestuurswet
aangekla word, juis ook sake in Kungwini se gebied doen.
Die bewering dat die konsultant die munisipale owerheid glo ‘bedrieg’ het met
sy impakstudies, sluk ons effe swaar aan, maar hopelik sal die feite voor die hof
bedrieër en bedriegde se rolle duidelik uiteensit.
In Zwavelpoort is inwoners op hulle agterpote oor elf nuwe beoogde ontwikkelings,
waarvan sommige hoë digtheid behuising behels. Dit in ’n landelike omgewing
waar infrastruktuur bykans afwesig of erg pateties is.
Volgens André Erasmus van die Zwavelpoortse Huiseienaarsvereniging, is die
‘wurms besig om die houtwerk te verlaat’ soos die Engelse sou sê.
Dit is eintlik jare reeds ’n ope geheim dat die ‘beginsel’ van gunste vir gawes by
Kungwini en ook Dinokeng aan die orde van die dag is. In die verlede het enkele
amptenare en stadsvaders hieroor in die sop beland. Almal weet dat die soustrein
egter nog volstoom voortsnel, maar tot nou toe het niemand iets daadwerkliks
daaraan probeer doen nie.
Mense wat bewus is van gevalle waar goedkeuring van ontwikkelings met gunste
en gawes gepaard gegaan het, word genoop om met André in aanraking te
kom. (Lees die berig op bl. 29.)
Die munisipaliteit van Nokeng is ’n wyle gelede weens ‘finansiële wanbestuur’
onder administrasie geplaas. Dit beteken nie noodwendig dat selfverryking en
korrupsie teenwoordig was nie, maar dit sou ons nie verstom as ook hier ’n aantal
wurms uitpeul wat van meer as blote onbekwaamheid sou kon getuig nie.
Die goeie nuus is dat ’n nuwe samehorigheid onder die mense wat gebuk gaan
onder die twee munisipaliteite se vergrype, posgevat het.
’n Keelvolheid teen die patetiese spulletjie wat veronderstel is om munisipale
owerhede te wees, is duidelik onder belastingbetalers bereik.
Louis Meintjies van die Dinokeng Grondeienaarsvereniging som dit uitstekend
op as hy sê:
“Ons moet verseker dat elke inwoner die reg het om hom te verweer teen disfunksionele
en korrupte munisipaliteite wat ’n put geword het waarin geld verdwyn
sonder enige teenprestasie en wat in wese slegs verseker dat die amptenare
se lewensstandaard onderhou word.” |