Vreethans onthou agt lekker kuierslae PDF Print E-mail
News - Vreethans
Friday, 24 September 2010 06:06
Untitled Document

Die keuse van kuierplekke in die Bronberg-gebied is wyd. In die agt jaar van Die Bronberger se bestaan, het Vreethans van Heerden en Metgesel verslag gedoen oor meer as tagtig afsaalplekke in die gebied. Ons het vir Vreethans gevra om een plek vir elke jaar uit te sonder. ’n Plek waar hulle lekker genoeg gekuier het om te wil teruggaan.

Jaar 1: Nikos Restaurant
Die heel eerste kuier van 2002 onthou ek soos gister. Nikos by die Zwavelpoort-sentrum was dié plek waar jy die ‘locals’ kon ontmoet en leer ken. Die kos was vorentoe en die atmosfeer ontspanne. Interessant dat ons R37 vir ’n stewige bord afval en R28 vir ’n hoender Schnitzel betaal het. Dit was ’n hartseerdag toe Nico en Lynette Breytenbach deur die nuwe eienaars van die sentrum gedwing is om Nikos se deure te sluit. Die goeie nuus is dat hulle gemoedelike vriendelikheid en voortreflike kos vandag by die Kitty Hawk vliegklub ervaar kan word.

Jaar 2: Bull & Bush
Deur die jare het dié landelike kuierplek in Tierpoort etlike eienaars gehad, maar dit maak nie saak wie die plek besit nie, twee goed verander nie: Die lekker plattelandse atmosfeer en die ‘regulars’ se gesigte. In Januarie 2004 het ons ’n Sondagbesoek aan die restaurant en kroeg op Karin en oorlede Eddie Saffy se plot ingewerk.

Soos vandag nog die geval is, het jy jou gou tuis gevoel tussen ’n klomp mense wat mekaar ken en wat duidelik van mekaar hou. Die maaltyd, met drie soorte vleis, groente en nagereg het toe ’n hele R28 gekos. Die huidige eienaars bou voort op die plek se tradisie van landelike gemoedelikheid en waarde-vir-geld.

Jaar 3: Stasie Restaurant
Dit is die ouwêreldse atmosfeer en smulkos wat ons telkens laat afsit het na die destydse kuierplek op Cullinan se geskiedkundige stasie. En toe, op ’n donker dag, maak die Stasie sy deure toe. Vir etlike jare was dit stil en verlate op die dorp se stasieperron, maar uiteindelik het iemand die plek opgeknap en weer oopgemaak. Vandag word dit Oppistasie Restaurant genoem en is dit natuurlik nie heeltemal dieselfde as die oorspronklike nie, maar ’n ou kan weer op die stasie kuier en geniet.

Jaar 4: Farm Inn
Só honger soos roofdiere het ek en Metgesel op ’n Donderdag by Pedro en Rose se plek op die bult ingesak en oordadig weggelê aan die groot verskeidenheid smulgeregte wat Farm Inn se buffet-ete gebied het. Dit was ’n warm dag en ons het buite onder ’n koelteboom in ’n ligte briesie gesit en eet en eet en eet en kuier. Dit het groot genoeg indruk op my gemaak om dié dag goed te kan onthou.

Jaar 5: TJ’s
Hulle het gevra ek moet iets oor plekke sê waar ons lekker gekuier het en, om die opskrif in Januarie 2007 se Bronnie aan te haal: “Jy kan lekker kuier by Rayton se TJ’s.” Dit was opvallend dat nie net die eienaar en kelners vriendelik gegroet het toe ons daar instap nie, maar ook sommer die ander gaste wat aangesit het om te eet en/of te drink. Ons het lekker gekuier saam met lekker mense.

Jaar 6: Kitty Hawk se Klubhuis
Vir my was die nuus dat Nico en Lynette hulle kos-en-kuierding nou by Kitty Hawk doen, om ’n paar redes uitstekende nuus. Een rede was my verlange na Nico se afval en na Lynette se geregte. ’n Ander rede was die lekker kuier wat gekuier word as die Breytenbachs in die omgewing is.

Ek haal hier aan uit die rubriek wat in Mei 2008 verskyn het: “Die mense wat op dié Saterdag by Kitty Hawk kuier en dié wat bedien, is duidelik ontspanne, gemoedelik en vriendelik. Seker te danke aan Nico en Lynette, dink ek weer. Vriendelikheid is mos aansteeklik”.

Jaar 7: Die Werf
Ek en Metgesel kuier lank reeds en gereeld by Die Werf in Olympus. Ons sou nie as ons nie lekker daar uitgespan het nie. In ons sewende bestaansjaar het ons ’n somerontbyt op Die Werf se dek onder die witstinkhoutbome gaan geniet. As ons in die winter of saans by Die Werf is, verkies ons die taphuis met sy lekker houtvuur.

Jaar 8: Bronberg Lodge (Wynlandgoed)
Sedert Faan en Issie Smuts dié gewelhuis in ’n Zwavelpoortse kuierplek omskep het, kan jy maar sê ons het ‘regulars’ geword. Ek is baie partydig vir die tradisionele kosse wat aldaar opgedis word en die mense (eienaars, personeel en ander regulars) is vriendelik en toeganklik.

Die plek is onlangs uitgebrei en opgeknap en dra deesdae die naam van “Wyn landgoed”. In Junie het ons dié ’nuwe’ plek besoek en ’n meneer van ’n buffet op ’n Sondag ingewerk.

 

© 2019 Die/The Bronberger