Ons onthou agt mensestories uit ons agt bestaansjare Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 24 September 2010 08:04
Untitled Document

Onthou jy ons storie oor die bekende koerantman en skrywer wat in Zwavelpoort kontreikuns-skilderye begin verf het? Of wat van die Mooiklofer wat ’n wêreldrekord geslaan het in Kilimanjaro-klim, die bekende radiostem wat nou op Mooiplaats woon of die beeldhouer wat Olympus toe getrek het? Ons het uit elkeen van ons agt bestaansjare een storie gekies oor die mense van Bronberg-wêreld.

Van Broederbondontbloting tot kontrei-kuns
In Junie 2003 vertel ons dat die bekende koerantman en skrywer oorlede Hans Strydom in ons kontrei kom aftree het. Stilsit op Zwavelpoort was egter nie vir hom nie en hy het op die ouderdom van 66 sy tweede kunsuitstalling gehou van die kontrei-kuns wat hy as ’n onpretensieuse storievertellery beskryf het.

Hans was die skrywer van The Super Afrikaners, Afrikaner Cameos wat as Volkstaat Blues deur Des en Dawn Lindberg opgevoer is, en For Volk & Führer wat verfilm is as The Fourth Reich.

Hy het 30 jaar as joernalis by verskeie publikasies gewerk en die laaste 12 jaar daarvan as nuus- en assistant-redakteur van die ‘Sunday Times’. Hans het vertel dat teken nog altyd sy stokperdjie was, maar dat kontrei-kuns ná sy aftrede sy redding geword het.

Kontreikuns, het hy gesê, weerspieël die alledaagse dinge waarby ’n mens verby sal ry sonder om dit regtig te sien. Elke prentjie vertel ’n storie en dis asof ’n mens binne in dié storie inloop en instinktief verstaan hoe snaaks of hoe hartseer die uiteinde van die verhaal is. Hans is in Maart 2004 oorlede.

Jare se afbeeldings op een plot
In September 2003 het lesers vir die eerste keer uitgevind wat al die standbeelde langs Ajaxstraat in Olympus doen. Hulle staan by die woning van beeldhouer Phil Minnaar, wie se plot wemel met replikas van bekende kunswerke wat hy oor die jare voltooi het.

Al die ou generaals van die Leër Hoofkwartier is daar, die Skukuzahek se reliëfbeelde, die twee soldate voor 1 Militêre hospitaal, die bekende olifantfontein van die Palace by die Lost City, die beeld van Sir Pierre van Rhyneveld wat by die Lugmag Hoofkwartier gestaan het en die lewensgrootte olifant van die museum in Letaba.

Dan is die Lost City se luiperd ook daar, Menlynpark se olifante wat water spuit, die twee-keer lewensgrootte Nelson Mandela wat by Mandela Village naby die Carousel staan, die eerste ministers wat op die lughawens gestaan het, en selfs Laurence of Arabia op ’n kameel en ’n klomp Rooi Indiane.

Phil se oupagrootjie, Thomas John Catton, was as skilder en beeldhouer ’n genoot van die British Royal Academy. Hy het in die Anglo- Boere-oorlog kom veg, verlief geraak op die land en op ’n nooi Venter, wat toe Phil se oumagrootjie geword het.

Wêreldrekord in Kilimanjaro-klim
In Oktober 2004 vertel ons dat Mooikloof-inwoner Lance de Willers ’n nuwe wêreldrekord opgestel het vir die vinnigste op- en afklim teen Kilimanjaro, die hoogste bergpiek in Afrika. Waar ’n gewone klimtog ses dae neem, het Lance dit in 12 ure en 26 minute gedoen. in baie warm savanne-omstandighede klim en eindig meer as vyf kilometer later in ’n bar, ysige landskap met baie min suurstof tot jou beskikking.

Lance het dit reggekry omdat hy die berg toe reeds agt jaar lank op ’n professionele basis geklim het en voor die tyd in ’n hipobariese tenk, wat hoogte-omstandighede namaak, geoefen het. As ’n mens lank genoeg onder suurstof-arme omstandighede oefen, begin jou liggaam vanself meer rooibloedselle bou sodat die bloed meer suurstof kan dra.

Lance het vertel dat avontuurtoerisme sy besigheid is en dat hy oor die jare kon sien dat so ’n klimtog mense se lewens verander. “In omstandighede waar alles lyk of dit foutgaan, kry jy ’n kans om uit die patroon uit te beweeg. Gee net oor en alles kom reg. Daar is iets daar buite wat na jou sál kyk – noem dit wat jy wil; daar is iets wat ’n positiewe lewensenergie laat vloei as jy dit net toelaat.”

Krygsgevangene word oudste Zwavelpoorter
Een van die eerste mense wat in die 1960’s ’n plot in Zwavelpoort gekoop het, was in April 2006 een van die oudstes wat nog daar gebly het. Ons het vertel dat die lewe ’n paar verrassings vir die negentigjarige Allan Hiscock opgedis het.

Twee van die grootste verrassings het gebeur die twee kere toe hy uit die polisiediens, waarvan hy op die ou einde vir 53 jaar ’n lid was, probeer tree het.

Die eerste keer het hy sy diens onderbreek om ’n soldaat te word in die Tweede Wêreldoorlog – min het hy geweet dat hy ’n krygsgevangene sou word in Pole. Die tweede keer was toe hy besluit het om af te tree – min het hy geweet dat hy op die ouderdom van 64 vir die eerste keer sou pa word.

’n Paar maande na oom Allan se verjaarsdag, berig ons in Januarie 2007 dat sy jongste seun, Brent, op Oujaarsaand 2006 op sy ouers se Zwavelpoort hoewe vermoor is. Op Vrydag 13 Julie 2007 is oom Allan ook daar oorlede. Sy vrou Barbara het die hoewe, wat sy as die gesin se veilige hawe beskryf het, verkoop en stad toe getrek.

Sy skep haar eie identiteit met kwashale
Na jare in die sakewêreld keer Boschkop se Gerda Hamm terug na haar eerste liefde – skilder, vertel ons in Mei 2007. Gerda is op die ouderdom van 17 jaar by die oudste kunsakademie in die wêreld aanvaar – De Medici in Florence, Italië. Haar omstandighede het haar egter verhoed om te gaan. Sy is Knysna toe waar sy aangesluit het by dié magiese woudwêreld se vrye geeste en het vir vier en ’n halwe jaar lank skoene en handsakke gemaak en kelnerin gespeel.

Later werk Gerda vir televisieproduksies soos ‘Hidden City’ en ‘Shaka Zulu II’. Sy maak kostuumjuwele en hooftooisels. Terug in Pretoria, neem sy deel aan ’n paar kunsuitstallings, wat die Nuwe Handtekeninge insluit.

En toe hou Gerda op skilder. Sy voel dat sy nie ’n bestaan as kunstenaar kan maak nie en dat sy eerder iets meer lonend moet doen. So beland sy in die konstruksiebedryf en begin eers weer in 2006 skilder. Dié keer met ’n verskil: Omdat sy finansiële standvastigheid het, kon sy doen wat sý wou en weier om by veilige, voorspelbare modes in te val.

Gerda het ons kontrei so twee jaar gelede verlaat en bevind haar nou in die Kaap.

Radiostem onthul geheime
Mooiplaats se Anieta Armand het oor 30 jaar by bykans elke radiostasie in die land uitgesaai. In Julie 2008 het sy ons vertel van die grensoorlog toe sy rondgejaag het met beweegbare senders in Angola, dreigende aanvalle op Radio Pretoria en haar eerste uithourit wat sy op die ouderdom van 71 voltooi het.

Toeskouers by dié 33,6 km uithourit sal nooit die aankondiger se verbasing vergeet toe hy Anieta se geboortedatum op haar inskrywingsvorm sien nie. Maar eintlik, sê Anieta, is sy nou eers mooi op dreef. In haar loopbaan, het sy op plekke beland waar vrouens nie normaalweg gekom het nie. Sy en haar seun was die enigste ma-en-seun span op die grens.

Dit het gebeur toe Anieta in die Burgermag was, en sy vir twee maande opgeroep is grens toe as deel van ’n taalnavorsingspan.

Anita het ’n trokdrywer geword toe sy bang geword het vir die verantwoordelikheid van uitsaaiwerk. Sy het ’n kode 14 lisensie gekry en busse vol kinders heen en weer veldskole toe gery.

Bykans twee dekades gelede het sy ’n voltydse toergids geword – eers vir oorsese toeriste en daarna het sy haar eie toermaatskappy gestig. En nee, sy bestuur nie self die busse nie.

Sketse uit ’n lang en ryk lewe
In Januarie 2009 ontmoet lesers Shere se Oom Hoffie, ’n 95-jarige wat toe steeds daagliks geskilder het. Hy het ons vertel van sy sewe jaar in ’n interneringskamp in die Tweede Wêreldoorlog en vir ons die viool gewys wat hy met ’n knipmes van ’n stuk tafel in dié kamp gemaak het.

Georg Hofmann was vir die ses jaar van 1940 tot 1946 in ’n kamp by Andalusië, nou bekend as Jan Kempdorp, in die Noord-Kaap en daarna vir nog ’n jaar in Baviaanspoort.

Twintig van die 2 000 mense wat saam met hom opgesluit was, het in dié tyd selfmoord gepleeg. “Jy kon vir sewe jaar niks doen nie, of jy kon jouself probeer besig hou,” het hy gesê.

Oom Hoffie het gekies om te lewe. So veel en so voluit as wat hy kon. Hy het in die kamp se blaas- en simfonie- orkes gespeel en begin skilder. Verf en papier het hy gekoop met die Sjieling wat die gevangenes by ’n betaalmeester gekry het. En dit is dié betaalmeester se tafel wat die geboorte van drie nuwe viole vir die kamporkes tot gevolg gehad het.

Ons groet John Knox
John Knox, Blou Bul rugbyspeler in die laat 1970’s, het gedroom van ’n staptog deur Afrika met Johnny Walker as borg. In November 2009 vertel ons dat John op 6 November, net meer as twee maande ná hy met aggressiewe keelkanker gediagnoseer is, oorlede is.

Bronberger-lesers het John in ons tweede uitgawe in Oktober 2002 leer ken toe Vreethans ’n draai by Bull ’n Bush in Tierpoort gemaak het. John het later as stapper lid geword van die Bashewa Atletiekklub, ’n suksesvolle spannetjie padwedloop-atlete wat besig is om groot naam te maak in atletiekkringe.

Karin van der Walt, stigterslid van dié klub, het vertel dat John haar genader het om ’n staptoer deur Afrika te reël. Alhoewel Karin gedink het dis ’n wonderlike idee het sy nie genoeg vrye tyd gehad om die organisering daarvan te behartig nie.

Ons het vertel dat Karin John se droom probeer lewendig hou deur te soek na vrywilligers wat kan help om die projek vir CANSA te ontwikkel ter herinnering aan John Knox.

Knap ’n paar maande gelede het Karin en haar gesin die Tierpoortse kroeg-met-baie-name oorgeneem en hom weer herdoop na die naam Bull ’n Bush wat John die plek in 2002 gegee het.

 

© 2020 Die/The Bronberger