PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 24 September 2010 07:56
Untitled Document

Sy lyk op die oog af of botter nie in haar mond kan smelt nie. Dié voëltjie, wat saam met die wewers, vinke, kweleas en flappe onder die Ploceidae gegroepeer word, kan egter tot 30 eiers per broeiseisoen in ander voëls se nessies lê.

Ons praat van die koekoekvink. Hulle is die enigste broei-parasiet wat hulself in ’n familie bevind wat deur koekoeke geparasiteer word en dan self parasiteer op tinktinkies en langstertjies.

Die koekoekvink se broeiseisoen is van September tot April met die piek van Desember tot Februarie. Die wyfie verwyder eers een of al die gasheer se eiers voor sy ’n enkele eier in die nes lê. Sy parasiteer gewoonlik vier nessies binne ’n paar dae en die eier neem 14 dae om uit te broei.


Die koekoekvink
Foto: Wikipedia

Voer
Die kuiken word insekte gevoer en verlaat die nessie na omtrent 18 dae. Hy kan eintlik self begin kos soek binne die eerste 10 dae nadat hy uitgebroei het, maar bly onder die gasheer se sorg vir verskeie weke voor hy hulle verlaat en by ’n swerm van sy eie spesie aansluit.

Alhoewel die kuiken op insekte grootgeword het, vreet die volwasse koekoekvink bykans nooit insekte nie. Hul leef hoofsaaklik van grassade wat direk van die grashalm gevreet word of van die grond af opgetel word en toon ook ’n voorkeur vir sonneblomsade.

Swerm
Koekoekvinke kan ’n nie-algemene standvoël wees, maar kan ook nomadies of ’n plaaslike trekker wees. Hul beweeg in ’n swerm van agt tot 50 voëls, maar soms kan tot meer as 1 000 bymekaarkom op plekke waar daar onlangs reën geval het.

Die koekoekvink is 13 cm lank en lyk amper soos ’n klein geelwewerwyfie. Die gelerige kleur is net helderder, veral aan die onderkant, en hy het ’n diagnostiese kort, keëlvormige, swart snawel. Die wyfie lyk soos die wyfies van die goudgeel-, rooi- en vuurkopvink – ’n streperige bruin kleur – maar sy kan uitgeken word aan haar swaarder snawel.

Dié voëltjie woon in oop grasveld, naby klam gebiede. Sy roep is ’n borrelgeluid wat gedurende vertoon gemaak word.

Naam
Die koekoekvink, Anomalospiza imberbis, is vir die eerste keer in 1868 beskryf deur Jean Cabanis, ’n Duitse voëlkenner, op grond van ’n voëltjie wat van Oos-Afrika verkry is, waarskynlik van die kus oorkant Zanzibar.

Hy is aanvanklik in die Crithagragenus geplaas, maar is later na sy eie genus, Anomalospiza, verskuif. Die genusnaam is afgelei van die woord ‘onreëlmatig’ (anomalous) en ‘spiza’, die Griekse woord vir vink. Die spesie naam imberbis kom van die Latynse woord vir ‘baardloos’.

 

© 2019 Die/The Bronberger