Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 24 September 2010 07:51
Untitled Document

Die Conserv-gemeenskap se Pretdag was ’n reuse sukses. Agt honderd mense het dié dag, wat binne sewe weke gereël is om geld vir die Mooiplaats, Zwavelpoort en Tierpoort (MZT) Conserv-gemeenskap in te samel, op 28 Augustus bygewoon.

Ook lede van ander Conserv-sektore, soos Pienaarspoort, Boschkop, Donkerhoek en Kleinfontein, het dié fondsinsameling op plot 68, Mooiplaats gaan ondersteun.


Die verskeidenheid stalletjies op die Pretdag

Daar was ’n verskeidenheid markstalletjies, ’n teetuin, ‘strandkroeg’, speelpark vir kinders, ‘paintball’ speletjies, skyfskiet en helikopter ritte.

In die arena is skaaphond-, Netcare 911- en karate-vertonings gehou en die MZT reaksiespan het saam met ’n sekuriteitsmaatskappy gewys wat hulle kan doen.


?n Nuwe benadering tot rugby op die groot skerm

Besoekers het ’n groot sug van verligting geslaak toe hulle hoor dat die rugby op ’n groot skerm gewys gaan word. Bykans 300 mense het sit en kyk na die reuse skerm op ’n eiland in die dam. Ná die aandete was dit tyd vir karaoke en besoekershet tot laataand gekuier.

Petro Anderson van die Zwavelpoortse Conserv-been sê dit lyk of hierdie gaan ontwikkel in die geleentheid van die jaar.

“As gemeenskappe so gaan saamwerk, sien ek ’n voorspoedige tyd vir ons almal.”

 

© 2020 Die/The Bronberger