Die Bronnie is dié maand agt jaar oud. En soos met ons vorige verjaarmaande,
loop ons in hierdie uitgawe met dankbaarheid terug op die pad wat ons tot by
die mylpaal gebring het. Ons onthou van die besonderse mense, die diere, die
kuierslae, en die toekadae wat ons sedert September 2002 met ons lesers kon
deel.
Dit is julle, ons lesers, wat daarvoor gesorg het dat Die Bronberger, teen baie se
verwagting in, die mas opgekom en daarby ook die afgelope agt jaar deurlopend
gegroei het. Vir ’n onafhanklike tydskrif om dit sonder die steun van enige groot
publikasiegroep of organisasie in ’n uiters mededingende mark te kan doen, is
werklik iets om voor dankbaar te wees.
Van daardie eerste uitgawe in 2002 af het die mense van die Bronberg-gebied
hulle eie tydskrif verwelkom, gekoester en ondersteun. Hoe ondersteun jy ’n
gratis publikasie? Die antwoord is; deur geesdriftige en omvattende meelewing.
Die ongekende hoeveelhede briewe, oproepe, wenke en voorstelle het ons gou
laat besef dat die mense hulle tydskrif deeglik lees en dit as hulle eie beskou.
Uiters belangrik is dat dié lojale meelewing daartoe gelei het dat ons
gewaardeerde adverteerders goed ondersteun word.
Dis ’n kringlopende simbiose. Sonder ons adverteerders kan ons nie
voortbestaan nie. En sonder ons lesers se ondersteuning van ons adverteerders,
sal die advertensies nie die gewenste uitwerking hê nie en sal hulle nie adverteer
nie. Maar advertensies in Die Bronberger werk en dit werk omdat die tydskrif
deeglik en wyd gelees word.
Ons het in die heel eerste tydskrif agt jaar gelede net agt adverteerders gehad.
Insiggewend is dat vyf van dié agt vandag nog gereeld of sporadies by ons adverteer.
Met ons heel eerste verjaardag-uitgawe het ons 45 adverteerders gehad.
Hiervan adverteer 31 vandag nog by ons.
Ons het ons vierde verjaardag met 74 advertensie gevier, ons vyfde met 90 en
110 doen mee aan hierdie uitgawe.
Die afgelope jaar was oor die algemeen ekonomies nie ’n goeie een nie. Daarom
is ons des te meer dankbaar daarvoor dat ons lojale adverteerders by ons gebly
het en dat nuwes hulle by ons aangesluit het.
Maar ons kyk nie net met dié spesiale uitgawe terug op ons pad nie, ons kyk ook
met geesdrif vorentoe. In ons negende bestaansjaar is dit ons voorneme om die
oplaag van Die Bronberger met ’n allemintige 4 000 eksemplare te vergroot.
Dit beteken dat ons die hoeveelheid eksemplare in bestaande verspreidingsgebiede,
waar daar lankal ’n groterwordende vraag is, aansienlik gaan vermeerder.
Dit beteken ook dat ons nuwe aarde gaan breek waar ons voorheen glad nie versprei
het nie. Een gevolg hiervan sal ’n geweldige verbetering in blootstelling vir
ons adverteerders wees wat natuurlik meer voete oor die drumpel vir hulle sal
beteken.
Dankie dan aan ons lesers en aan ons adverteerders vir die gewaardeerde ondersteuning
die afgelope agt jaar en dankie veral ook aan die klein groepie mense
wat met ywer sorg dat die Bronnie elke maand verskyn. |