Mooi kos by Nuvo Cusine PDF Print E-mail
News - Vreethans
Wednesday, 18 August 2010 01:02
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Gewoonlik is ek half versigtig vir ‘elegante’ restaurante wat hulle toespits op ‘mooi kos’. Want al te dikwels moet jy deur jou nek betaal vir piepklein, pragtige-mooi dissies wat jou heelwat armer en nog net so honger, los.

Nuvo Cuisine in Old Farm Road is ’n elegante plek wat ‘mooi kos’ voorsit, maar dit wat ons daar beproef en ervaar het, is meer as die moeite en die effense stywe pryse werd. Die restaurant sit nie net ‘mooi kos’ voor nie, die plek is ook mooi en stylvol aanmekaargesit. Die atmosfeer is gemaklik en knus.

Ons kry flinke aandag van die kelner en later ook persoonlike aandag van die jong eienaar, wat terloops ook die kranige hoof-sjef is en daarby tyd ingeruim het om heel vaardig op die staanklavier te speel.

Die spyskaart bied ’n aansienlike verskeidenheid van disse wat kan deurgaan as Frans en Mediterreens met ’n knypie Thai tussenin.


Mooi kos, maar nie min kos nie

Op ’n swartbord teen die muur is die dag se spesiale geregte aangedui: ‘Dukkah crusted lamb’ teen R145, ‘Malay chicken’ teen R118, ‘Lamb pot pie’ teen R130 en ‘Paprika braised sole’ teen R132. Voorgeregte se pryse wissel van R45 vir die ‘Mushroom Risotto,’ R64 vir die Springbok Carpaccio ‘wanton stack’ en R65 vir die Gorgonzola slakke en vir die prawns.

Ligte maaltye soos die ‘chicken pot pie’ (R55) en die ‘Rump pot pie’ (R60) is beskikbaar. Dis ook die enigste keer dat jy beesvleis wat nie fillet is nie, op die spyskaart sal sien. Verbeeldingryke pastageregte kos aansienlik minder en Nuvo Cuisine maak ook goeie voorsiening vir vegetariërs.

In ’n groot hoeveelheid watertand geregte word by Nuvo Cuisine ‘medallion of fillet’ gebruik. Dis mooi kos (ek het iemand anders s’n gesien) maar dis nie min kos nie. Die fillet met ‘Haloumi tower’ kos R134 en die een met vye en balsamiese asyn kos R130. Ek oorweeg die ‘lavender and orange confit of duck’ omdat ek baie lanklaas ’n eend onder die vurk gehad het, maar besluit op die ‘nuvo lamb shank’ en is later baie bly oor my besluit. Die eend kos R145 en die skenkel R130.


Die restaurant is stylvol en knus

Nuvo Cuisine se skenkel kan deurgaan as ‘mooi kos,’ maar dit is beslis ook nie min kos nie en dit mag dalk die heel lekkerste lamskenkel wees wat ek in my dag des lewens geproe het. Hy is murgsag en sousig en dis juis die baie spesiale rooiwynsous wat my gaande het. Hulle bedien hom op stampmielies met groente.

Ek dink nie Metgesel het al ooit so lank gevat om te besluit soos dié dag by Nuvo Cuisine nie. Sy eet mos nie soogdiere nie en selde of ooit is daar so baie keuses op ’n spyskaart wat nie rooivleis bevat nie. Uiteindelik besluit sy op die ‘yellow curry prawns’ teen R119. Sy eet baie lekker en sy eet genoeg, wat vir Metgesel baie punte tel.

Nuvo Cuisine is ten volle gelisensieer en het ’n groot verskeidenheid mooi wyne. ’n Diensfooi van 12% word gehef.

 

© 2019 Die/The Bronberger