Ons haal die hoed af vir . . . Mike Strange Print E-mail
News - Ons Mense
Wednesday, 18 August 2010 03:01
Untitled Document

‘Ons haal die hoed af vir . . .’ is ’n nuwe rubriek oor mense wat ’n groot verskil in die Bronberg-wêreld maak. Mense wat onbaatsugtig hulle tyd en sweet gee om die lewe vir die gemeenskap draagliker te maak. Mense wat omgee. In die eerste aflewering van dié rubriek fokus ons op Mike Strange.

Toe Mike Strange bykans sewe jaar gelede op Mooiplaats intrek, het hy binne twee weke ’n gemeenskapsvergadering gereël. Wie op aarde is dié man wat nog nie eers sy bokse uitgepak het nie, was die vraag op deurtrapte Mooiplaats-inwoners se lippe.

Tog het hulle vergadering toe gegaan om te hoor wat dié vreemdeling vir homself te sê het. Mike wou oor brandgevaar gepraat. Hy het vanaf grasgroen Natal op ’n dorre winterplot met ’n grasdakhuis ingetrek en kon nêrens in die omgewing tekens van voorbrande sien nie. Dis toe dat hy ’n sisteem wou instel, want sisteme is waaroor Mike se lewe tot op daardie stadium gegaan het.

Mike het in die sisteemontwikkeling deel van die kleinhandelbedryf in Natal gewerk. Die maatskappy waarvoor hy gewerk het, het bankrot gespeel en hy het vir ’n jaar daarna nog saam met die likwidateurs gewerk om sake uit te sorteer.

En toe moes Mike iewers heen om van nuuts af te begin. Hy het voorheen in Pretoria gebly en het besluit om weer in Pretoria en Johannesburg vir werksonderhoude te begin gaan. Maar Mike het besef dat hy nie meer kans sien om elke dag so heen en weer te ry om iewers ver van die huis af te gaan werk nie. Hy wou iets op die Mooiplaats-plot doen waar hy besluit het om te woon.


Mike Strange verduidelik hoekom hy soveel vir die gemeenskap doen

Bestaan
Die eerste ding wat hy aangepak het was die boubedryf en Mike sê dat hy elke oomblik daarvan gehaat het. Hy begin toe ’n houtwerkonderneming wat hy as ’n bestaansbedryf, wat hom toelaat om op die plot te bly, beskryf.

Dit is die eerste keer wat Mike van die huis af kon werk en tyd saam met sy familie kon deurbring. En dis hoe hy toe agterkom dat mense in die gemeenskap mekaar nie eintlik meer ken nie.

Hy sê dat bure nie juis omgegee het wat met mekaar gebeur nie en dat hy hulle eintlik as paranoïes beskou het omdat hulle vir mekaar agter hoë heinings weggekruip het.

“Ons is tropdiere,” sê Mike “en dis nie natuurlik om jouself van die res van die gemeenskap af te sny nie. Mense het bande op ander plekke begin aankweek, soos in werk- of kerkverband, maar het geïsoleerd geraak waar hulle woon.”

Mike met sy sisteembouery, wou iets doen om die gemeenskap, wat mekaar so nodig het, weer te laat saamstaan.

Wel, sê hy, dit en die feit dat hy eintlik verslaaf aan werk is, ’n kort slaapsiklus en baie ekstra energie het. Of eerder, gehad het toe hy hier begin het, lag hy.

Vandag is Mike, “vir sy sondes”, voorsitter van die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), komiteelid van die Magalies-Bronberg Grondeienaarsvereniging (MBGV), lid van Conserv se Mooiplaats-Zwavelpoort- Tierpoort-sektor en, saam met die ‘beast’ vuurwa, ons gebied se bekendste vuurvegter.

Dit is juis nou die piek van die brandseisoen wat beteken dat Mike en die ‘beast’, ’n seswielige Land Rover wat omskep is in ’n brandweerwa, bykans daagliks uitgeroep word om vure te beveg.

Die ‘beast’ behoort aan British 4x4 en word op bruikleen aan die gemeenskap beskikbaar gestel. In ’n normale tydperk buite die brandseisoen word Mike as Conserv- lid na so vyf insidente ’n maand uitgeroep; meestal ’n patroon van honde wat blaf en alarms wat afgaan. Dan is daar natuurlik ook die pro-aktiewe patrollies op ’n gereelde basis.

Forum
As GPF voorsitter probeer Mike dié forum se tweeledige doel realiseer. Dit is die normalisering van verhoudings met die polisie en om die polisie aanspreeklik te hou teenoor die publiek.

“As ons moed opgee met die polisie, het ons verloor,” sê Mike. “Dis die enigste wettige manier om misdaad te bekamp.”

As Conserv-lid baklei Mike vir die terugkeer na gemeenskapswaardes; om weer op mekaar te begin fokus. “Ons het mekaar nodig omdat die formele strukture begin faal het,” sê hy.

“As ons nie saamstaan om mekaar te help veilig hou nie, word ons maklike prooi.”

Mike baklei nie net teen misdaad nie; as komiteelid van die MBGV baklei hy vir die plotlewe, vir die voortbestaan van ons landelike lewenstyl ten spyte van die naderkruipende stadsgrens.

Eintlik, spot Mike, is die hoofrede hoekom hy lid van al dié organisasies geword het bloot omdat hy nie sy kinders kon oortuig om te immigreer nie. Nou wil hy seker maak dat daar darem iets van die land oorbly vir hulle.

 

© 2020 Die/The Bronberger