Die troue . . . PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Sunday, 08 August 2010 00:54
Untitled Document

Alphia Schutte

Robert wou trou voor hy doodgaan. En so kom dit toe dat ons troue hou op die plasie. Ek het eers gedink dit was Robert se idee dat hulle by Binnelandse Sake op Cullinan trou.

Maar toe onthou ek van André van Niekerk, ons dominee, wat die nuwe teologiese student sou bring vir die gebruiklike Donderdagoggenddiens op die plasie. Toe dink ek, hoekom nie eerder ’n dominee-troue nie.

Ek lig Robert en Eva, sy geliefde na agt kinders, in en so begin ons die troureëlings – sonder aansiens van koste en moeite. Eva verdwyn ’n paar dae voor die troue en Robert, soos enige bruidegom, sweet bloed. Die oggend van die troue daag sy vroeg by hulle blyplek op.

’n Groot sjokoladekoek word vir die troue gebak en dit word versier met harte, voorletters en blinkers. Die pesto en feta muffins lyk te mooi.

Die mes om die koek mee te sny het ’n lint aan. Die stemming is feestelik. Robert, die bruidegom, daag eerste by die stoep troulokaal op. Hy is ’n netjiese man; het ’n pak klere aan en hy dra sy jare goed. Ek kry vir hom in die kas ’n sydas met olifantjies op en pluk ’n paar winterblommetjies vir ’n knoopsgatruiker.

Robert se lewe was nie altyd so glad nie. Hy het, toe die jongste van die agt kinders net kon sit, so het Eva beduie, verdwyn en aan die Rand gaan bly en werk. En ’n ander verhouding gehad. Toe sy kinders al groot was – Robert was vir meer as twintig jaar weg – het die kinders gesê hulle wil hulle pa terug hê. Eva, die toekomstige bruid, het Robert se broer opgespoor en die familie het ’n aantal jare gelede afgesit Rand toe en vir Robert gaan haal.

Robert het weer ’n keer terug gegaan na die Rand en die ander vrou. Eva sê sy was selfs bereid om die ander vrou in haar huis in te vat, solank Robert net terugkom. Robert het, sover bekend, nie weer afgedwaal nie en het op ’n vreemde manier ’n paar jaar gelede by ons begin werk.

Eva is ’n skat van ’n vrou en alhoewel die agt kinders nou nie eintlik kon skoolgaan nie, weens ’n gebrek aan geld, het Eva hulle goed grootgemaak. Goeie kinders. Harde werkers. Ek ken van hulle.

Eva kom die oggend van die troue met ’n nuwe bruin Afrikarok daar aan. Maar iets lyk nie reg nie. Sy verduidelik dat die rok se nek te wyd is en sy het ’n rooi T-hemp onderaan, maar sy voel nie gemaklik nie. Ek kry ’n nuwe wit hemp in my kas en dit lyk klaar beter. Eva voel ook sommer beter.

Nou is nog net die gebreide mus ’n probleem. Ek onthou van ’n wit hoed uit my vorige lewe wat ek na een of ander inhuldiging aangehad het en ek kan sien Eva begin soos ’n bruid voel. Eva kies iets om rondom haar nek te sit en daar gaan ons.

Die dominee is voortreflik. Hy maak van ’n doodgewone Donderdagoggend iets baie spesiaals. Hy het ’n houtkruis om sy nek en met soveel liefde trou hy Eva en Robert. Hy laat hulle hande vashou en ons sing en klap hande. Die mense op die plasie lyk mooi. Johannes, die voorsanger, het permanent sy donkerbril op en so moet ek hom ook afneem.

Eva en Robert is toe getroud en die boer stel ’n heildronk met sjampanje in. Die bruidspaar sny die koek; daar is selfs ’n geskenk. Ons drink tee uit fyn koppies. Dis ’n mooi dag. ’n Geseënde dag.

Die volgende oggend vertel Robert vir my van sy vreemde droom. Hy het saam met die duiwe oor die plasie gevlieg. Sy arms wyd, ver oopgestrek. Hy was tussen die duiwe. Hy vlieg saam met hulle oor die lande en deur die duik aan die onderpunt van die plasie. Hy vlieg vinnig en gemaklik. Hy voel tuis in sy duiflyf.

Die verlede is verby en afgeskud. Hy het gedoen wat ’n man moet doen. Robert vlieg saam met die duiwe. ’n Vry man.

 

© 2019 Die/The Bronberger