Koos Pote se taak PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Wednesday, 18 August 2010 02:53
Untitled Document

Die eindelose skooltake wat ouers deesdae vir hulle telge moet doen, is niks nuuts nie, sê Gert Mossie. Maar in sy tyd, of dalk moet hy sê ‘met sy ouers,’ moes die leerlinge dit self doen. Ja, in sy tyd het hulle nie gepraat van ‘leerders’ nie. Hulle kon nie, want nie naastenby almal het geleer nie, sê Gert.

Toe hy destyds, net so duskant die runderpes, op skool was, het ou Koos Pote die leerlinge in sy klas ’n keuse met só ’n takie gegee.

Iets moes jy uitbeeld, in ’n selfgeboude vertoonkas nogal, wat die ontwikkeling (metamorfose) van ’n lewende wese uitbeeld. Jy moes vir jou ’n maat kies en dan het twee van julle saam aan ’n taak gewerk. Almal behalwe Peter William Ennis Blom. Hy het alleen gewerk omdat daar 31 kinders in die klas was.

Siek was dit, by nabetragting, om van brose kinders te verwag om die met-morfien-gespuite, afgestorwe embrio’s, pasgeborenes en die hele siklus van die witmuis, marmot, haas of watookal, te bewerk, sê Gert. Hy dink party van hulle dra nou nog swaar aan die letsels wat Koos Pote se taak gelos het.

Gert Mossie en sy maat, ou Dewey Els, besluit op die voordag van die taak se inhandiging om ‘die padda’ te doen. Maklik, sê Gert. Die spruit, net ’n klipgooi van ou Dewey se huis af, is vervuil van die padda-eiers, paddavissies, paddakleuters, paddatieners en volwasse paddas.

Gewapen met vangnette, ‘kêmvroetbottels,’ formalien, spuitnaalde, monteerspykers, ’n pakkie tien Lexington en ’n kitsklaar vertoonkas wat hulle na-ure uit ou Koos Pote se klas loop ‘leen’ het, sit hulle af spruit toe.

More moet die ‘taak’ ingehandig word. Hulle is van plan om ‘big time’ te ‘score’. Hoekom juis op daardie dag, weet hy nie, maar geen paddavissie is in sig waar hulle gewoonlik wemel nie. Hulle vang heelparty klein paddatjies en die grotes keer hulle sonder veel moeite aan.

Die ding is net dat die klein paddatjies, wat nou magteloos in tannie Nettie se kêmvroetbottels sit en die grotes in die streepsak duidelik nie tot dieselfde spesie behoort nie – en paddavissies kry hulle glad nie. Om besering nog tot belediging te voeg (soos die Ingelse dalk sou sê) probeer hulle om een van die volwasse paddas as ’n toetslopie te formalieniseer met die spuitnaald.

Skeef loop die poging toe en die formalien spuit met ’n doelgerigte boog uit die stomme padda se voorkop binne in ou Dewey se oge in en glo my, dis baie seer, sê Gert Mossie. Ou Dewey was taff en het nie sommer gekerm nie, sê hy. Die punte vir die ‘taak’ was baie belangrik in die ‘groter prentjie’ en Koos Pote kon op die koop toe baie hard bliksem. Plan B – ‘Die Vis’.

In die ‘Vierkant’ van die skool se ou hoofgebou was (is) ’n netjiese visdam – met visse. As ou Struis Esterhuizen jou met ’n bulderende ‘buite!’ by die klas uitgejaag het, sommer oor hy half simpel was, dan kon jy vir die res van die periode op die eerste verdieping van die ou vierkantgebou met jou elmboë op die muur staan en afstaar na onder. En jou fokuspunt was noodwendig die vierkantige visdam, presies middel in die vierkant, sê Gert.

Hy het deur verveelde waarneming geweet dat daar in daai dammetjie visse van dieselfde oorsprong en aard en van uiteenlopende stadia van ontwikkeling was. Dit was lank voor iemand van koi-visse geweet het, of geweet het ’n ou sê ook Koi vir ’n Boesman, maar die visse ter sprake sou vandag kon deurgaan as Kois, of is dit Koie?

Ná middernag op die vooraand van taakindieningsdag sit hy en ou Dewey toe met hulle vangnette, daai soort wat die kleintjies by die see saam met hulle grafies en emmertjies dra, ’n slopemmer, ’n flou toorts, en ’n halwe pakkie tien Lexington af na die ou skool se heilige vierkant toe. Dewey se ma, tannie Nettie, dink hy slaap by Gert se huis en Gert se persoonlike ouers dink hy oornag by Dewey. Hulle help mekaar mos met die ‘taak’.

Daai arme, arme vissies, sê Gert. In die lig van die toorts is hulle na hartelus geskep en styf gespuit met die formalien. Die visse is gemonteer in die kaste met skoonskrif onder en bo as beskrywing.

Die hartverskeurende werklikheid is dat hy en ou Dewey toe ’n nul-punt en ’n helse drag slae vir hulle moeite gekry het. En dit net oor daai Peter William Ennis Blom hulle ‘gesplit’ het oor die ‘leen’ van Koos Pote se monteerkas. Hy dra nou nog die letsels, sê Gert.

 

© 2019 Die/The Bronberger