Kungwini of Tswane? Print E-mail
News - Kommentaar
Tuesday, 18 March 2008 02:00
Untitled Document

Hoe lank nog gaan die afbakeningsrokie om die Bronberg-gebied draai voor die vuur behoorlik vlamvat en grensverskuiwing ‘n werklikheid word?

Dis nou reeds jare dat die munisipale afbakeningsraad dié windjie van verandering hardnekkig aanblaas. Telkens net as dit wil lyk of die Bronberg met ‘n pennestreep of twee eensklaps onder die brandsiekvlerk van Kungwini uitgepluk gaan word, dan word dit weer op die langebaan geskuif. Het dit straks in ‘n stryd ontaard tussen die plomp hen van Tshwane se metroraad en Kungwini se gehawende hen oor wie die Bronberg se goue belastingeier gaan uitbroei?

Vir Kungwini kan dit die doodsteek wees as die ontwikkelende gebied van die sogenaamde ‘nuwe ooste’ eensklaps Pretoria se kuiken word. Die Bronberg-gebied is gesonde besigheid vir Kungwini. Dit beteken suiwer wins sonder enige noemenswaardige uitgawe. Die belastinggelde rol in terwyl geen duit as teenprestasie in die vorm van dienste uitgegee word nie. Lekker baie geld vir Kungwini om te wanbestee.

Maar wat sal dit vir die inwoners en die gebied beteken as Pretoria sou oorneem? Jy sou kon redeneer dat dit kwalik kan slegter gaan en jy sal waarskynlik reg ook wees. Tog moet dit nie uit die oog verloor word nie dat Tshwane die metroraad in Gauteng is wat volgens‘n oudit van Statistiek Suid-Afrika die swakste vaar met dienslewering. Swak diens is egter sekerlik beter as geen diens nie, of hoe?

Dit is ook bykans ‘n uitgemaakte saak dat die meeste inwoners aansienlik meer aan belastings sal moet opdok sou Tshwane beheer oor die Bronberg-omgewing oorvat. Sou dit beter dienslewering beteken, sou ‘n mens seker daarmee kon saamlewe.

Vir die Bronbergrif kan die voorgenome grensverskuiwing goeie nuus inhou. Tot op hede het Pretoria ‘n veel beter rekord as Kungwini waar dit die bewaring van belangrike natuurgebiede aangaan. Waar ontwikkeling in berg- en rantgebiede van die stad gedoen word, openbaar Pretoria ook minstens oor die jare heen darem ‘n effense bewaringsgewete.

 

© 2024 Die/The Bronberger